As jy al ’n paar jaar getroud is, het jy jou vrou beslis al kwaad gesien. Of sy nou tjoepstil was soos ’n dreigende vulkaan en of sy ontplof het soos ’n stoomtrein wat sy topsnelheid bereik het – ’n kwaai vrou is iets wat jy nié sonder dik handskoene moet aanpak nie. Hier is VYF maniere om jou kwaai vrou te kalmeer.
- Moenie uitbars van die lag nie!
Dit sal haar selfs nóg kwater maak. Neem haar aan die hand, laat haar sit en bied aan om vir haar ’n koppie tee te maak. Hiermee laat wapper jy die wit vlag. Om háár te kalmeer, moet jy self rustig wees en nie toetree tot die stryd nie.
- Skep vir haar tyd om te dink.
Soos jyself weet, sê ’n mens dikwels dinge wat kon gebly het in die hitte van die oomblik. Moenie altyd alles dadelik wil uitsorteer nie. Maar wys vir haar dat jy haar en haar woede nie net ignoreer nie. Stel voor dat julle die saak byvoorbeeld oor ’n uur verder bespreek.
- Druk haar vas . . .
Dié wenk het ’n 50-50 kans op sukses. (INTIEM neem geen verantwoordelikheid as hierdie wenk backfire nie.) Dit gaan beslis nie vir almal werk nie en sal ook afhang waaroor jou vrou kwaad is en presies hóé kwaad sy is. Maar terwyl sy voortrammel, kan jy dit, mits jy baie dapper is, oorweeg om haar vas te druk en te soen. Dit is ’n dobbelspel, maar as dit nié werk nie, sal jy moet hardloop dat sy net hakskene sien.
- Probeer jou kant silwerskoon hou.
As jou mooier helfte se woede gaan oor iets soos nat handdoeke op die vloer of jy wat nooit help in die huis nie, het jy die goue sleutel in jou hand. Moet dan nie langer uitstel nie – doen iets daaraan! Jy moet egter nie daarmee ophou wanneer haar woede oorgewaai het nie. Besluit saam op ’n tyd wat julle albei pas om DIY-takies vir haar te doen. Of gee haar byvoorbeeld Woensdagaande af wanneer jý kook én die skottelgoed was.
- ’n Gelukkige vrou = ’n gelukkige huis.
Wys jou waardering. Die vrou of ma van die huis bepaal grootliks die atmosfeer in die huis. As sy kwaai en ongelukkig is, sal jy onmoontlik kan aangaan asof alles reg is. Luister na haar en wys vir haar dat haar geluk en julle twee s’n saam vir jou belangrik is. Wanneer jy eers doodseker is dat die donderstorm verby is, kan jy dalk op ’n baie veilige afstand voorstel dat julle opmaak . . .
’n Kwaai vrou is maar ’n turksvy, die truuk is om net eers van die skil ontslae te raak. Jy sal vinnig en dikwels op die harde manier leer hoe om jou vrou te benader. Vroue verskil (asof jy dit nie baie goed weet nie!). Dieselfde raad sal nie vir jou én jou buurman werk nie. Maar jy sal presies weet wat om nié te doen nie.
Deur Lize Groenewald