Jou vrou soek ’n man wat haar behoeftes verstaan. Jou pelle wil hê jy moet saam met hulle braai en bier drink. Jou kinders soek ’n cool pa. Jou ouers soek ’n verantwoordelike seun. Die winkels wil hê jy moet pienk T-hemde dra en jou baas soek ’n ou wat kliënte by Teasers sal entertain. Maar watter tipe man wil God hê jy moet wees?
John Eldridge het ’n boek geskryf met die titel Wild at Heart: Discovering the Secret of a Man’s Soul. Met die intrapslag reeds skryf hy dat ’n man ’n behoefte het aan meer as boodskappe.
’n Dieper begrip vir hoekom mans hou van avonture, oorloë en skoonheid – en hoekom God mans só gemaak het. En ’n beter begrip vir hoekom vroue wil hê mans moet vir hulle veg, hulle wegraap op ’n avontuur en hoekom hulle die skoonheid wil wees . . . Sy boek is ’n safari van die hart om ’n lewe van vryheid, passie en avontuur te ontdek.
Eva is geskep in die tuin van Eden, maar Adam is daarbuite geskape – in die wildernis. Dink ’n bietjie aan Marco Polo, Huckleberry Finn . . . Dink ’n bietjie mooi aan jou drome toe jy ’n kind was. Dit was hoogs waarskynlik nie om in ’n hoë kantoorgebou te werk nie, maar om oor daardie kantoorgebou te vlieg! Of die brandende kantoorgebou te trotseer!
James Bond, Indiana Jones – dít was die stuff waarvan jou drome gemaak was . . . en glo ons as ons sê dat jou vrou nie gedroom het daarvan om getroud te wees met die CEO in daardie gebou nie, maar om daaruit gered te word deur ’n ridder op ’n wit perd!
“As jy weet waarvoor iets geskep is, verstaan jy die doel daarvan in die lewe. Die meeste mans ken nie hul doel nie,” meen John. “Die geheime begeertes van jou hart, of dit nou is om ’n boot te bou en daarop weg te vaar, om ’n simfonie te skryf en dit te speel, om ’n land te plant en daarvoor te sorg – dit is die dinge wat jy gemaak is om te doen.
“Dit is hoekom jy hier is. Ondersoek, bou, verower – jy hoef nie ’n klein seuntjie te vertel om dit te doen nie weens die eenvoudige rede dat dit sy dóél is. Maar dit gaan risiko verg, en gevaar, en daar is ’n catch. Is ons bereid om te lewe met die vlak van risiko wat God ons uitnooi om te neem? Iets binne-in ons huiwer.”
Oorlog is deel van ’n man se make-up. In Genesis reeds betree Adam ’n wêreld van geestelike oorlogvoering. Eva moet verower word…
Besef jy hoe belangrik is jou rol as pa? Daar is geen ander plek waar ’n man leer wie hy is nie. Van die begin van tyd af was dit só beplan dat die pa die fondasie sal lê in ’n jong seun se hart. En dat hy aan hom die nodige kennis en selfvertroue sal oordra wat hy nodig het. Jy moet aan jou seuns leer hoe om ware krygers te wees deur self die oorlog reg te voer.
Jy sal dalk nie ’n fisieke swaard gebruik nie, maar weet dat jy wel telkemale in jou lewe ’n draak sal moet slag. Dis daardie drake wat om elke hoek en draai in die lewe vir jou wag. Dis versoekings wat jy sal moet weerstaan – en as jy dit regkry, sal jou ware krag na vore tree.
“Staan op wat die waarheid is en moet dit nooit laat gaan nie. Punt. Die verraaier binne-in die kasteel sal die hangbrug laat sak, maar moet hom nie toelaat nie,” skryf John.
Wanneer Spreuke 4:23 sê ons moet ons harte bewaar, word daar nie gesê: “Sluit hom op, want hy is krimineel in wese” nie, maar eerder: “Beskerm hom soos ’n kasteel, die setel van jou krag wat jy nie wil weggee nie.”
En wat Eva aanbetref . . . John skryf dat die vraag wat Jesus hom gevra het baie jare gelede, reg voor hul tiende herdenking, toe hy gewonder het wat geword het van die vrou met wie hy getroud is, was: “Sal jy vir haar veg?” God het gesê: “Jy is op die draad, John. Klim op of klim uit.” En hy het geweet dat God vir hom sê: “Hou op om die nice guy te speel en gedra jou soos ’n kryger. Wees die man.”
John skryf: “Ek het vir haar blomme geneem, haar vir ete uitgevat en begin om nader aan haar in my hart te beweeg. Maar ek het geweet daar was meer. Daardie aand, voor ons bed toe is, het ek vir Stasi gebid op ’n manier waarop ek nooit vantevore vir haar gebid het nie. Hardop, voor al die hemelse gashere, het ek tussen haar en die kragte van duisternis wat teen haar gestaan het, ingetree.
“Eerlikwaar, ek het nie geweet wat ek doen nie, net dat ek die draak moet trotseer. Alle hel het losgebreek. Alles wat ek oor spirituele oorlogvoering geweet het, het daardie nag begin. En weet jy wat het gebeur? Stasi het vrygeraak, die toring van haar depressie het meegegee soos wat ek waarlik vir haar begin veg het.”
Ons moet leer om terug te keer na die kern van ons harte toe, hoe God ons geskape het. Ons moet leer om dapper krygers te wees wat opstaan vir ons inherente aard, vir ons vroue en vir ons kinders. En dan sal ons ons ware doel in die lewe ontdek . . .
INTIEM beveel John Eldridge se boek “Wild at Heart” aan vir elke man wat sy doel in die lewe wil ontdek.