Dit is geen geheim nie. Daar’s min dinge wat ‘n man se hart so vinnig laat klop soos ‘n sexy kar en ‘n sexy vrou. Het hy beide, is hy ‘n bitter gelukkige ou! Hier’s ‘n handleiding wat jou sal help om soveel moontlik kilo’s uit jou kar te kry.
Of jy nou tevrede moet wees met ‘n 1980-Volla of kan spog met ‘n snazzy nuwe BMW, ‘n man se kar is sy trots. Dit bring hom nie alleenlik van punt A tot punt B nie, maar daar is meer as een man wat vir jou sal sê sy kar is ‘n verlengstuk van homself. Dit verskaf aan hom status, plesier, adrenalien… en ‘n vrou is baie dieselfde. Sy kan jou pride and joy wees. Maar as jy haar nie mooi oppas nie, kan sy jou jare se probleme gee…
Onthou haar dienste…
As jy ‘n verantwoordelike motor-eienaar is wat wil hê jou motor moet jou waarde vir geld bied, sal jy jou vierwiel gereeld laat diens. Jy maak ‘n afspraak om jou kar op ‘n spesifieke dag na die dienssentrum te neem. Aan die een kant is ‘n vrou veel makliker. Jy diens haar self, enige tyd en enige plek na jou goeddunke. Aan die ander kant is daar geen handleiding wat vir jou kan sê wanneer dit tyd vir haar volgende diens is nie …
Die dienssentrum maak seker jou kar is 100% in ‘n werkende toestand. Met ‘n vrou doen jy presies dit – jy maak seker dat alles pluis is. Dat sy gelukkig is in die huwelik, tevrede oor hoe jy haar hanteer en dat sy nie oorwerk of onvervuld voel nie. Gereelde dienste hou ‘n voertuig veilig, padwaardig en ekonomies doeltreffend. Dit sien ook toe dat potensiële probleme betyds oorkom word. As jy jou vrou gereeld diens, sal sy veilig wees en nie op pad na jou eindjaarfunksie skielik ‘n senuwee-ineenstorting kry nie. Sy sal ook padwaardig wees en nie afdwaal wanneer die eerste ongehude sixpack verbyloop nie.
Derdens sal sy ekonomies doeltreffend wees deur nie jou kredietkaart op ‘n shopping spree te neem uit frustrasie, of vir ‘n maand lank by die land se duurste spa gaan inboek nie.
IN DIE SLAAPKAMER
Goeie wenke vir aksie van gehalte
Veiligheidstoerusting is deel van jou kar se beskerming-stelsel en kan die risiko van ‘n besering gedurende ‘n ongeluk voorkom. As jou vrou se veiligheidstoerusting goed werk en jy sóú ‘n fout maak, sal die skade minimaal wees. Ons weet dit is frustrerend om voor elke slaapkamer-rit ekstra tyd te neem om seker te maak jou vrou is reg vir die spin, maar ‘n voorbereide kar kan jou op ‘n onvergeetlike reis neem. Onthou: ‘n vrou kan nie gejumpstart word nie!
- Sorg dat al die vensters ‘n helder en duidelike uitsig na die omgewing het. Dit is hier waar jy moet toesien dat jou leë bierblik uit die slaapkamer verwyder word, sodat ás jou vrou se oë dalk ontydig oopgaan, niks haar aandag kan aftrek nie.
- Maak seker daar is geen voorwerpe wat die trap van die pedale kan belemmer nie. Dit geld vir jou gordelgespe in haar lies en jou driejarige se lego-blokkies onder die kussing.
- Kyk na die druk in die bande en die petrolvlakke. Jy gaan nie daarby baatvind deur net in te spring en te ry nie. Maak seker die seksuele spanning (druk) het genoeg opgebou en haar libidovlakke (petrolvlakke) is waar dit moet wees voor jy met die aksie wegspring.
- Verstel die sitplek, kop-rus en spieëltjies om by jou hoogte te pas. Hier gaan alles oor posisie. Onthou, die missionary is nie die be all and end all Soms is verstelling van ledemate nodig – solank dit vir julle albei gemaklik is.
- Beskerm die kinders met toepaslike kindersitplekke en die regte sitplekgordels. Dit beteken bloot dat die kleinspan vas aan die slaap in hul kamers moet wees.
- Laastens: Sluit die deure. Dit spreek vanself.
Om ‘n onvergeetlike rit te verseker:
Onthou: enige gehalte-bedpret kan belemmer word as jy nie reg optree nie. Soos die handleiding inderdaad sê: ‘n Veilige (lees: indrukwekkende) rit word grootliks bepaal deur jou bestuurstyl en die persoonlike aandag van al die insittendes (in dié geval slegs jy.)
- Moet nie toelaat dat jou aandag afgetrek word van die verkeer om jou nie. Voorbeelde is passasiers en telefoonoproepe. Sy gaan dit nie waardeer as jy in die middel van ekstatiese orale seks jou selfoon beantwoord of jou eks-meisie se naam skree nie!
- Moenie bestuur as jou bestuursvaardigheid deur medikasie, alkohol of dwelms verswak word nie. Jy weet dit. ‘n Paar doppe te veel en jy gaan nie deel van hierdie rit wees nie… die enigste toelaatbare medikasie is waarskynlik Viagra.
- Bly by die padreëls en spoed-limiete. Die reëls is dít waarop julle twee ooreenkom in die verhouding. As sy nie wil hê daar moet ProNutro aan haar werksklere vaskleef na ‘n 7:30 quickie nie, moet dit nie op die kombuisblad doen nie.
- Pas jou spoedlimiet aan by die pad, verkeer en weersomstandighede. Hierdie reël geld vir baie arenas van die seksdaad. As julle ‘n uitgerekte, passievolle aand beplan, pas die spoed waarteen jy beweeg by die omstandighede aan. As sy na aan ‘n orgasme is, moenie selfsugtig wees nie en pas die spoed waarteen jy beweeg aan om haar die meeste plesier te gee.
- Wanneer jy ver ry, neem gereeld ‘n breuk. Sy sien dalk net so uit na die jampacked naweek wat julle in die afgesonderde houthuis gaan bestee, maar 48 uur se aaneenlopende seks kan uitputtend en pynlik raak. Dit maak nie saak wat haar sexy bene aan jou doen nie, hou jou in en verslind ten minste een lekkerny tussen elke bedsessie.
- Indien moontlik, vermy dit om te bestuur wanneer jy moeg of tydgebonde is. Dit is waar. Hoewel seks vroue soms met nuwe energie herlaai, het dit nie noodwendig dieselfde effek op die manlike geslag nie. As jy regtig nie jou oë kan oophou vir bedpret van goeie gehalte nie en regtig onder druk voel om betyds by die werk te wees, kan seks julle verhouding meer skade doen as goed.
BUITE DIE SLAAPKAMER
Raad vir wanneer die waarskuwingsligte flikker:
- Sy huil sonder rede: Daar is ‘n sisteemfout óf die banddruk is te laag. By ‘n vrou is die banddruk (libido) gewoonlik laag wanneer daar ‘n sisteemfout (emosionele kwelpunt) is. Ons weet dit maak glad nie vir jou sin nie, aanvaar dit net so. ‘n Vrou is nie veronderstel om sin te maak nie. Moet haar nie druk vir seks voor sy kans gehad het om jou te vertel wat verkeerd is nie.
- Sy skree op jou (en eintlik gebeur dit selde): Daar is ‘n fout in die elektro-hidroliese krag-gesteunde bestuurstelsels (haar multi-tasking is te ver gedryf). Sy sukkel om alles te hanteer en jy moet nóú iewers help raakvat óf professionele hulp inroep in die vorm van ‘n au pair of voltydse bediende.
- Sy hoor maar sy luister nie: Die Cruise Control-sisteem is aangeskakel (sy is op auto pilot). Sy doen alles outomaties want sy is óf oorstuur, óf in so ‘n roetine dat sy nie met die klap van jou vingers daaruit kan kom nie. Jy moet haar wegneem vir ‘n romantiese naweek in die berge vol verrassings (en níé self catering nie).
- Sy kry hoofpyne sodra julle bed toe gaan: Die handrem is opgetrek. Hier kan verskeie dinge die oorsaak wees en net sy sal die antwoord ken. Praat met haar en vind uit of die oorsaak fisiek of emosioneel is. As dit fisiek is, moet sy haar ginekoloog gaan sien en as dit emosioneel is, is jy waarskynlik die oorsaak.
- Sy sê: “Ek … kán … dit … nie … glo …nie!” Dit beteken – maak jou sitplekgordelvas en maak seker jou airbags werk, want hier kom ‘n uitbarsting. Jy het sopas iets gesê waarvoor jy kwalik vergewe kan word, en jy het presies 24 uur om met ‘n ordentlike blok sjokolade by die huis te kom.
- Haar gesig is rooi en haar oë vol trane: Die verkoel-temperatuur is te hoog of te laag. Stop die voertuig en laat die enjin toe om af te koel. Sy is waarskynlik kwaad vir jou of vir iemand anders. Laat haar toe om haar temperatuur na normaal te laat terugkeer deur alles uit te skree en hou haar dan vas.
- Sy praat min en glimlag kwalik: Die petroltenk is leeg. Lees INTIEM om vas te stel waar jy kan hervul.
Wat jou kar se gadgets in jou huwelik kan beteken:
- Afstandbeheer- sleutel: Wanneer jy trou kry jy en jou maat albei simboliese sleutels. Julle huwelik is geslote vir ander partye, maar altyd oop vir mekaar. Moet egter nooit dink jy kan jou maat toesluit met jou afstandbeheer-sleutel nie. Jy mag haar nooit laat voel jy is jaloers op en oorbesitlik teenoor haar nie. Sy moet geliefd voel, maar ook die vryheid hê om haarself as ‘n individu uit te leef.
- Childproof lock: Wanneer jy die childproof lock in jul huwelik aanskakel, beteken dit dat jou kinders veilig voel in jou en jou vrou se verhouding. Julle maak nie dreigemente om te skei nie en betrek die kinders nie by jul argumente nie, maar sê gereeld voor hulle hoe lief julle vir mekaar is. Dan sal hulle gekoester in jul huwelik voel.
- Teen-inbraak alarm: Dít is die alarm wat jou sal waarsku as iemand dit moontlik gaan regkry om jou vrou te steel. Jy stel die anti-dief alarm in aksie wanneer jy só in voeling is met jou vrou se behoeftes, dat jy dadelik sal kan raaksien as sy onvervuld voel en dat seine soos alarms vir jou sal afgaan voor iemand dit kan regkry om haar van jou af weg te rokkel.
- Elektroniese vensters: Dít is in jul huwelik geplaas sodat julle kan asemhaal. Die elektriese vensters kan afgedraai word sodra een van julle benoud word, maar die deure bly toe. Dít is daardie vlieghengel-naweek saam met jou vriende en haar Saterdag-kleresoek inkopietog saam met haar beste vriendin. Elke verhouding het suurstof nodig om aan die lewe te bly.
- Verstelbare Ligte: Die ligte in julle verhouding staan vir kommunikasie. Solank julle verhouding helder verlig word deur oop kommunikasie, is die kans op mislukking baie skraal. Wanneer dit mistig word (julle gaan deur ‘n onseker tyd) moet julle soms ekstra ligte aanskakel om deur julle probleme te kan sien.
- Agtervenster verhitting: Dit is daardie klein dingetjies wat julle vir mekaar doen om die ander een warm en gekoester te laat voel, en wat nie altyd ooglopend is nie. Dit is wanneer jy haar voete masseer, vir haar ‘n warm bad intap, aandete maak of sommer net sê jy is lief vir haar.
- Ruitveërs (oftewel Twinsavers): Om daar vir haar te wees in moeilike tye en haar trane af te droog, beteken vir ‘n vrou oneindig baie. Om vir haar water aan te dra wanneer sy kraam en haar trane af te droog wanneer haar sussie emigreer. Dit is wanneer jy iets sê om haar weer ‘n toekoms deur haar trane te laat sien en langs haar staan wanneer sy bang en onseker voel.
- Spieëls: Spieëltjies is deel van elke huwelik, maar dit is jou eie verantwoordelikheid om daarvan gebruik te maak. As jy gereeld na jouself kyk, kan jy ongelukke voorkom. Sit elke week tien minute opsy en dink daaroor. Het jy elke aand laat gewerk? Was jy onbeskof toe sy jou gevra het om die honde kos te gee? Het jy die voorgeboorteklas vergeet? Truspieëltjies is daar om te kyk na die foute in jou verlede en seker te maak jy ry nie in trurat nie.
- Roof Carrier: Die Roof Carrier is gemaak sodat jy alles wat jy nie binne kan dra nie, boontoe kan verwys. Dit is die geloof in elke verhouding. Wanneer daar nie meer plek is om julle finansiële probleme en hartseer te dra nie, is God altyd daarbo, gereed om dit vír julle te dra. Moenie wag tot jou kattebak vol is voor jy jou probleme aan Hom oorgee nie.
Daar het jy dit – wat jy insit gaan jy uitkry. Jy het ná twintig jaar se getroude lewe dalk nie meer ‘n blinknuwe model nie, maar jy’s lief vir elke sentimeter van haar blink gepolitoerde en plek-plek geroeste uiterlike en koester die lojaliteit wat sy deur die jare aan jou gebied het. As jy haar dít laat verstaan is die kans goed dat sy jou nooit in die steek sal laat nie en dat jy ‘n leeftyd se kilometers uit jou pragstuk sal kry!
***
Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!