WEET JY ALLES WAT DAAR IS OM TE WEET OOR JOU MAN SE SEKSUELE BEHOEFTES? IS JY IN DIE KOL WAT SY STOUTE GEDAGTES AANBETREF? OF HET JY NOG ’N BIETJIE OM TE LEER?

Dis maklik vir die Evasgeslag om na ’n paar Hollywood-flieks te kyk, ’n halwe oor by die braaivleisvuur te gooi en te besluit dat ons weet presies hoe ’n man se kop werk. Hulle wil heeldag seks hê, rugby kyk en braai. Hulle word nooit groot nie. Hulle dít en hulle dát. Ons dink ook dat mans se behoeftes in die bed voor-die-hand-liggend is. Maar is die manne werklik so eenvoudig soos ons dink hulle is? Hier is ’n paar dinge wat die manne wens hul vroue het oor seks geweet:

  1. SEKS IS ’N MÓÉT! Okay, as ’n vrou weet jy wat non-negotiable in jou lewe is. Miskien is dit om een keer per week in die winkels uit te kom. En die nagroom te hê wat jy al die afgelope 20 jaar getrou gebruik. Wel, vir ’n man is seks baie hoog op sy lysie. Saam met eet, slaap en asemhaal. Hoe sal jy voel as manlief besluit om vir twee weke lank nie vir jou te luister of met jou te gesels nie? Presies.
  2. HY DINK JY IS HOT, HOT, HOT! En nou wil jy waarskynlik omblaai – moenie! Want dis die waarheid. En jy kan stry soos jy wil, hy sal só bly voel. Wanneer jou man jou vlei met die een kompliment ná die ander, moenie dit afmaak of dink hy doen dit met bybedoelings nie. Hy dink waarlik jy is sexy en dit is vir hom lekker as jy daarby berus en sy kompliment net geniet en aanvaar.
  3. SEKS IS NIE NET FISIES NIE. Dis sy manier om met jou te konnekteer. As jy dink dat seks vir hom net ’n lyflike daad is om van sy oerdrange ontslae te raak, dink weer. Soos jy daardie koffie-kuier ná werk met hom nodig het om in voeling te bly met sy hart, só het hy seks op presies dieselfde manier nodig.
  4. HY WIL NIE ALTYD VRA NIE. Jip, manlief ís die jagter en geniet dit wanneer jy gewoonlik die prooi speel, maar die chase raak soms ook maar ’n bietjie vervelig en as hý elke keer moet toenadering soek. Verras hom soms deur poedelnaak by die sitkamer in te stap waar hy sit en televisie kyk. Ja, hy wil begeerlik voel!
  5. WEES SOMS ONVOORSPELBAAR. Spring saam met hom in die stort. Maak hom wakker met orale seks. Doen ’n verleidelike dans en gaan sit wydsbeen op sy skoot. Flirt met hom – heeldag, aldag. Laat hom bloos! Dit is klein gebare, dit verg nie veel nie, maar in sý kop is jy fantasties!
  6. TEL JOU WOORDE. Ons weet. Soms is jy net nie lús vir seks nie. As jou tweejarige heeldag aan jou gehang het, soek jy teen sewe-uur saans dalk net ’n bietjie persoonlike spasie. Maar tel jou woorde as dit kom by verwerping. Daar is min manne wat jou sonder waarskuwing sal bespring. Gewoonlik is daar ’n subtiele (of nie-so-subtiele) skimp vir ’n bietjie nookie. Maar in sy kop is hierdie storie al lankal beplan! En as jy die daad verwerp, voel manlief asof jy hóm verwerp. Sê vir hom op ’n mooi manier waarom jy nie kans sien nie, maar belowe dat julle die volgende dag iets aan die saak kan doen.
  7. SPEEL ’N BIETJIE SAAM. ’n Man is ’n visuele wese. Dit is nie so maklik soos wat jy dink vir hom om sexy beelde op advertensieborde of in tydskrifte te weerstaan nie, want dit is hoe hy gemaak is. So, beloon hom so af en toe met jou vlees. Buk verleidelik wanneer jy die speelgoed van die vloer af optel, sodat hy ’n flits van jou lae rug kan sien.
  8. WYS HOM JY GENIET HOM. As jy daar lê soos ’n lyk en deur die motions gaan, jou oë rol en (behoede ons) sug terwyl hy sy beste moves uithaal, is dit nié vir hom lekker nie. Met ander woorde: As jy lyk asof seks die grootste straf ooit is, voel hy soos ’n mislukking . . . en dit wil jy nie hê nie. Wees vokaal in die slaapkamer, wys hom wat jy geniet. Neem aktief deel aan die seksdaad en vertel hom hoe onweerstaanbaar hy is.
  9. WYK AF VAN DIE GROOTPAD. Soms is mans heel tevrede met vanilla sex in die sendeling-posisie met slaaptyd. En soms smag hulle na ’n bietjie avontuur! Hier het jy inspirasie nodig wat plek, tyd en posisies aanbetref – waarvan jy heelwat in INTIEM kan kry. Mans smag na opwinding, na avontuur.
  10. WEES OPLETTEND. Ons vereenvoudig dikwels ’n man se denkproses en glo dat al wat hy nodig het vir goeie seks, ’n gewillige vrouelyf is. Dit is egter veel meer kompleks as dit en hoewel hy waarskynlik gelukkig sal wees met ’n gewillige lyf, kan jy julle sekslewe soveel hoër neem as jy waarlik leer wat jou man laat tick. Hou hom dop. Watter liggaamsdele is meer sensitief as ander? Hou hy daarvan as jy dirty talk? Watter posisie is sy gunsteling? Leer ken jou man se dieper behoeftes sover dit seks aangaan en jy het ’n wenresep in jou hande!

Onthou, jou man is ’n visuele wese en jy is sy eye candy! Moenie suinig wees met jouself nie en probeer om te bied wat die visuele sy van manlief se man-wees vra. Op dié manier voel hy versorg en gekoester, jy voel begeerd en gewaardeerd . . . dit is ’n wen-wen situasie en pitkos vir jou huwelik.

 

Dié artikel is geïnspireer deur ’n soortgelyke artikel op www. missionwife.wordpress.com.