“Dis somer en waar ander gesinne uitsien na die samesyn, is dit vir my ’n groot kopseer. Ek kom uit ’n groot familie, terwyl my man as ’n enkelkind grootgeword het. Vir hom is ons groot familie-byeenkomste ondraaglik, en ek wil dit nie sonder hom bywoon nie. Hoe nou gemaak?”
Dis miskien ondraaglik, maar dit gebeur darem nie gereeld nie. Manlief behoort dit so in te sien en gedurende feestye en groot familie byeenkomste die opoffering te maak. Gee hom die volgende paar wenke om dit vir hom meer hanteerbaar te maak:
- Sien dit as “business, not pleasure”. Dis nou die “werkporsie” van jou huwelik, so handel dit af sodat jy meer op die “speel”-gedeelte van die vakansie kan fokus.
- Wees empaties. As tannie Sus weereens skinder oor die hele kontrei en dit jou teen die mure wil uitdryf, dink aan die hartseer feit dat dit al is wat sy het om heeldag te doen.
- Vermy die volgende ten alle koste: 1. Om by een familielid oor ’n ander een te skinder. 2. Om te veel alkohol te drink – jy wil jou inhibisies tot ’n mate beheer. 3. Om politiek te praat – die kans is goed dat dit konflik kan ontlont!
- Leer vooraf ’n grappie of drie. Daar is min dinge wat mense so kan laat ontspan en ’n gevoel van samesyn kan skep soos ’n skerp grappie.
- Moenie té vroeg opdaag nie, anders kan jou kar dalk vasgeparkeer word, wat ’n vinnige ontsnappingspoging onmoontlik gaan maak.
- Kry ’n kodewoord(e) tussen jou en liefie. As jy byvoorbeeld sê: “Ek wil graag vir my ’n Labrador aanskaf,” weet sy dis kodetaal vir: “Ek wil nou dadelik ry, asseblief.”
Deur Annelize Steyn