Wat as jy om die een of ander rede jou maat se tweede keuse was? Miskien was jý die rebound of het julle mekaar altyd geken, maar eers getrou na jou man se eerste keuse oorlede is . . . Dit kan nie maklik wees vir enige vrou nie – hoe hanteer ’n mens dit?

Nikki Esterhuizen en Jannie Bothma het mekaar ongeveer 14 jaar gelede ontmoet. “Ons het lekker gesels, alhoewel ek maar aan die skaam kant is. Dieselfde aand het hy ’n meisie ontmoet met wie hy later getroud is,” vertel sy. Hulle het mekaar soms raakgeloop omdat hulle in dieselfde vriendekring gekuier het, maar het net gegroet en dit was al. Eendag, toe hulle mekaar weer raakloop, het sy die nuus gehoor: Hy was toe al vier jaar geskei, sonder kinders en het deur ’n baie moeilike tyd gegaan.

Sy het weer uit ’n slegte verhouding gekom en hulle het begin saamkuier. “Ons is verloof en het twee pragtige kinders saam. Ek was wel sy tweede keuse, maar vandag is ek só dankbaar vir die wonderlike man in ons lewe.”

Sy vertel dat hulle vir seker baie hartseer en seerkry gespaar sou gebly het as hulle vroeër begin uitgaan het, maar dat alles tog gebeur met ’n doel. “Ons moes alles deurmaak sodat ons mekaar kan waardeer en dankbaar wees vir wat ons het. Ons praat nie dikwels oor die verlede nie, want ons het ’n toekoms om oor te praat, soveel dinge om saam te doen en ons maak ons kinders groot in ’n liefdevolle huis. Al was ek sy tweede keuse, verruil ek hom vir niks op aarde nie,” vertel Nikki.

Hulle verskil nou en dan, bieg sy, maar hulle sorteer dit dadelik uit. “Ons moes mekaar leer verstaan omdat ons albei uit verskillende verhoudings gekom het en probeer om altyd eers aan die ander persoon se gevoelens te dink. Ons is dankbaar vir wat ons het en bou ons lewe en toekoms saam.”

“Ek was my skoonma se tweede keuse” – Ronel

Chris* en Anél* het lank uitgegaan en almal het gedink hulle sou trou. Toe hy weermag toe is, het sy egter ’n verhouding met iemand anders aangeknoop. Almal het daarvan geweet, ook Chris se ouers. Met naweekpas het Chris huis toe gekom, maar Anél se ouers het allerhande verskonings gehad waarom hy nie vir haar kon gaan kuier nie. Teen die Saterdagmiddag het Chris se ma die nuus gebreek: Hy kon nie vir Anél sien nie, want dit was haar troudag!

Ronel en Chris het begin uitgaan nadat sy diensplig voltooi is. “Ons is ’n paar maande later getroud. Ek het nooit geweet hoekom hy en die ander meisie uitmekaar is nie, iemand het dit later terloops aan my genoem.” Dit was nie net vir hóm wat Ronel ’n tweede keuse was nie. “Anél was steeds my skoonma se eerste keuse, al het sy haar seun se hart gebreek. Ek kon min dinge doen wat my skoonma se goedkeuring wegdra.”

Ronel sê haar skoonma het voortdurend haar gesag probeer ondermyn by haar kinders en ingemeng wanneer sy hulle gedissiplineer het. “Ek haat konfrontasie en as jong vrou was ek net nie opgewasse teen haar nie. Chris het dikwels vir my in die bres getree en menigmaal vir haar gesê om my uit te los om my kinders/huis te hanteer soos wat dit mý pas.” Dit het ook húl verhouding geknou. Ondanks alles, het hulle einde November hul 31ste huweliksherdenking gevier.

Hoe gemaak as jy tweede viool speel?

Volgens dr ST Potgieter, ’n sielkundige in Bellville en skrywer van Staan op vir jouself en Die laaste selfhelpboek ooit!, is dit belangrik om twee beginsels te verstaan om perspektief te kry wanneer jy die tweede keuse is. Liefde word nie persentasiegewys opgedeel en gemeet nie. Die man kan die tweede vrou ook 100% liefhê en bemin.

Tweedens is daar ’n seisoen vir elke saak of ’n tyd soos God dit bepaal het. Niemand hoef tweede beste te voel nie. Wanneer die paartjie dit verstaan en die korrekte perspektief het, weeg julle mekaar nie op teen vorige verhoudings nie, maar is jy dankbaar vir die nuwe seisoen wat vir julle saam gegun word en geniet julle die voorreg daarvan. Julle ontken nie die vorige seisoen en die 100% liefde daarin nie, maar nou is dit júlle seisoen vir 100% liefde.

Adél Dreyer, ’n NLP-lewensgids (Neuro Linguistic Programming) van Bredasdorp, sê ’n persoon wat haarself sien as ’n “tweede keuse” moet eerder daarop fokus dat sy wel nie die eerste keuse was nie, maar die régte keuse. “Onthou, die verlede rule nie die toekoms nie. Wees tevrede daarmee. Indien die verlede steeds ’n impak het op die toekoms, is dit die verkeerde besluit. In die geval waar daar konflik is met die skoonfamilie, moet julle al vier (skoonouers en huwelikspaar) saam kalm gaan sit en gesels oor dat jy byvoorbeeld hul tweede keuse vir ’n huweliksmaat vir hul kind is. Die doel is nie om hulle te oorreed of saam te stem nie, maar om dit onder hul aandag te bring dat hulle daarmee moet saamleef, al hou julle nie noodwendig van mekaar nie.”

Jy, as tweede keuse, hoef geensins tweede viool te speel, tweede beste of minderwaardig te voel nie – inteendeel. Julle trou omdat julle mekaar liefhet en die tweede huwelik is die regte huwelik vir 100% liefde en vir die tyd en seisoen waarin julle nou verkeer. ’n Huwelik wat voldoen aan hierdie twee beginsels, asook kommunikasie, aanvaarding, selfbeeld, eiewaarde en hoe om vir jouself op te staan, het ’n sterk fondasie en sal staande bly.

 

Deur Yolanda Wessels