Ek sit met ’n worsteling in my wat ek eenvoudig net nie kan aanvaar nie. Die rede hiervoor is die samelewing se nommer een probleem met voorhuwelikse seks – jou maat gaan wil weet . . . My vrou is my eerste en my enigste, maar ek is nie hare nie. Sy is ses jaar ouer as ek en ons sal in Desember agt jaar getroud wees.

Ek kan nie vrede maak met die feit dat daar al vorige mans was nie. Ons het al soveel keer daaroor baklei dat ons die laaste keer op skei gestaan het as gevolg hiervan. Dit was van só ’n aard dat ek haar te lyf gegaan het daaroor en name genoem het. Ek het aan haar beloof dat ons nie weer daardie gesprek sal hê nie, maar ek sit nog steeds met die worsteling in my.

Kan dit wees dat ek voel daar is iets van my ontneem en dat my manlikheid só ’n knou gekry het? Dat ons iets spesiaals nie saam ervaar het nie? Daar is tans nie iets spesiaals vir my in seks nie. Dit is betekenisloos as gevolg van my ervaring. Ons soengroet mekaar nie eers meer nie, want selfs dit beteken vir my niks. Ons leef in vrede . . . moenie daaraan twyfel nie. En ons is soos enige paartjie gelukkig, maar die intieme gedeelte beteken vir my niks meer nie. Hoe gaan ek te werk? Hoe aanvaar ek dit en hoe maak ek vrede hiermee?

Elmari Mulder Craig, seksuoloog, verhoudings- en huweliksterapeut, psigoterapeut, kliniese hipnoterapeut en outeur, antwoord:

As ons eerlik is met onsself, sal ons erken dat die meeste mense voor die huwelik seks het. In my praktyk van 20 jaar het 9/10 mense seks voor die huwelik gehad, hetsy met hul huweliksmaat of in vorige verhoudings. Ek wil nie uitsprake maak oor die moraliteit hiervan nie – bloot dit as ’n feit stel.

Wat is die impak hiervan? Dit is só dat dit vir die maat wat nie seksuele ervarings voor die huwelik gehad het nie, dit dikwels moeilik is om te aanvaar dat hul maat ander seksuele verhoudings gehad het. Die vraag is natuurlik wat die definisie van seks is? Is seks regtig net penetrasie? Ek dink nie so nie. Enige vorm van seksuele intimiteit waar daar bevrediging is, is tog ’n vorm van seksualiteit. Stimulasie met die hand en orale seks is voorbeelde hiervan.

Ek glo ook nie dat omdat ek lief is vir iemand en/of met hulle getroud is, dit impliseer dat ek daardie persoon besit nie. Inteendeel, onvoorwaardelike liefde impliseer ruimte, respek, vergifnis en vertroue. Ek het baie empatie met die leser se worsteling, maar gaan jy toelaat dat jou eie onsekerhede jou jou huwelik kos?

Jou vrou was eerlik met jou. Net soos jou maat jou moet vergewe vir die feit dat jy haar verbaal en fisies aangerand het, net so moet jy haar kan vergewe vir dit wat in haar verlede gebeur het.

Dit is in die verlede, jy kan nou kies of dit julle toekoms gaan bepaal. Jou vrou het jou gekies. Koester haar, laat haar veilig en spesiaal voel en jy sal ervaar hoe seks weer spesiaal en mooi is. Julle kan weer die seksuele ervaar in liefde, sensualiteit en intimiteit. Dit kan gebeur as mens mekaar onvoorwaardelik liefhet en vergewe.

Onthou 1 Kor. 13:5b-7: “Die liefde soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”