“Ek en my man werk saam en het ’n tuiskantoor. Ons sien mekaar gereeld, maar dit is asof daar net nooit tyd is vir mekaar nie. Almal dink ons is gelukkig om saam te werk, maar in werklikheid spandeer ons bykans geen gehaltetyd saam nie. Hoe kan ek meer tyd bespaar by die werk sodat ons so nou en dan ’n koffie-afspraak kan inwerk?”
Ons glo die probleem lê by die feit dat julle nie jul werkstyd optimaal benut nie. Daar is nie ’n baas wat oor jul skouer loer en vaste werksure nie – wat beteken dat minute in ure vloei en voor jy jou oë uitvee, sit jy al agt ure voor die rekenaar sonder om veel daarvoor te kan wys. Hier is ’n paar wenke:
- Ontkoppel die Internet wanneer jy kan. As jy ’n taak het waarop jy moet fokus, skakel die Internet af (hetsy deur jou browser toe te maak of van die wireless netwerk te diskonnekteer. Die versoeking om gou na eposse te kyk, jou sosiale media op te dateer of vir iets op die Internet te soek, is soms net té groot.
- Leer ken jou sleutelbord se kortpaaie vir epos. Gebruik shortcuts om eposse oop te maak, te stuur, te liasseer en daardeur te soek. Skep ook shortcuts vir teks wat baie gebruik word – op dié manier kan jy in ’n japtrap jou terugvoer-eposse deurwerk.
- Beperk sosiale media. Dit is tydvreters! Jy kan heeldag op Facebook eposse plaas of tweet, en hoewel dit baie vir jul besigheid kan beteken, kan dit gou jou tyd steel. Maak dus tydgleuwe vas vir sosiale media en vermy dit vir die res van die tyd.
- Hou op liasseer! Waarvoor het jy eintlik nog liasseerkabinette nodig? Alles kan digitaal gedoen word. Maak seker jy stoor alles wat julle nodig het op twee plekke – jou rekenaar se hardeskyf en aanlyn, byvoorbeeld in Google Docs. Dit bespaar baie tyd en gee jou maklik toegang tot noodsaaklike dokumente, sou jy hulle nodig kry.
Deur Annelize Steyn