Ek wonder oor die stelling: “As jy agter die deur staan, moet my nie daar soek nie.” Ek glo baie mense hoor dit by hul lewensmaats. As ek my maat oor die moontlikheid van ’n buite-egtelike verhouding konfronteer en hy gebruik daardie woorde, is hierdie vorm van “blame shifting” sy manier om die fokus van homself af te draai? Of glo hy dit regtig en sê dit dan?

Het dit sover gegaan dat hy (valslik) glo: “Sy doen dit, en nou kan ek dit doen?” As ek my maat konfronteer oor iets, sal ek dit mos nie doen omdat ek self skuldig is nie? Ek sal eerder nie slapende honde wakker maak nie. Redeneer ek reg?

Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters en sprekers, sê:

Daar is verskeie maniere waarop ons die vraag vir jou kan beantwoord, maar ons glo dat as jy niks het om weg te steek nie, dan het jy niks om oor skuldig te voel nie. Dit maak nie saak wat mense of selfs jou eggenoot oor en van jou sê nie. Jy ken mos die waarheid en reageer vanuit hierdie perspektief. Wees altyd bewus daarvan dat die lig kragtiger is as die duisternis en dat as jy in die lig bly, jy nie verkeerd kan gaan nie. Wees dus versigtig om nie in die negatiewe ingetrek te word as jy weet wat die waarheid is nie.

Die vraag wat eintlik beantwoord moet word, is hoekom hy só ’n opmerking sal maak? Daar is verskeie redes, waarvan die een wel kan wees dat hy besig is met “blameshifting” soos wat jy aandui. Dit kan wees dat hy wil aanhou met dit waarmee hy besig is en jou wil kry om op ’n ander plek te fokus as sy lewe en optrede. Onthou dat waar jou fokus lê, jy jou energie spandeer. As dit die geval is, is dit beter om die situasie so gou as moontlik te identifiseer vir wat dit is en dit onmiddellik aan te spreek.

Die ander rede vir die opmerking kan wees dat hy dalk daardeur hulp soek en op ’n baie agterstevoor manier om hulp vra. Dalk is die spasie in julle verhouding al só onveilig dat hy nie meer weet hoe om met jou oor dinge te praat waarmee hy dalk probleme het nie. Die manier waarop sommige mense dan die konneksie met hulle maat soek, is juis om hulle maat te beskuldig van dit waarmee hulle sukkel.

Die rede is sodat die maat dan in gesprek met sy/haar maat oor die onderwerp kan tree. Dit is wel ’n negatiewe konneksie, maar daar is wel ’n konneksie en die persoon wat die aantygings maak se onderbewussyn oortuig hom/haar dat daar dan ’n geleentheid sal wees om oor die situasie te praat en dat daar dalk op hierdie manier ’n oplossing kan kom of dalk dat dit die manier is hoe hy/sy in die verhouding gehoor sal kan word.

Wat is ons oplossing? Staan by wat die waarheid in jou hart is en voorkom dat jy by skuldgevoelens ingetrek word wat nie eens van toepassing is op jou lewe nie. Probeer die veiligheid terugkry in julle verhouding. Vra dalk vir jou maat wat hom veilig gaan laat voel en begin om dit te doen. Laat jou maat ook verstaan wat jou laat veilig voel en vra hom om dit weer met jou te doen. Spreek dan aan wat nodig is om aan te spreek.

As julle sukkel om die veiligheid te herstel en julle nie mekaar kan hoor of die situasie kan aanspreek nie, wil ons aanbeveel dat julle hulp gaan soek om julle te help met die proses van herstel.

Die situasie is egter anders as jy wel agter die deur staan. Erken dit teenoor jou maat en dan moet albei van julle hulp gaan soek om julle huwelik te red.