Voel jy oor die algemeen “net nie lekker nie” en laat die gedagte aan ’n raps in die kooi jou koud? Jy kan moontlik Candida hê.
Candida, ’n lid van die swam familie, is ’n oormaat van gis in die liggaam. Die teenwoordigheid van gis in jou lyf is nie so weird soos wat dit klink nie. Inteendeel, jou kolon kan ’n klein hoeveelheid gis handhaaf om die ander bakterieë wat teenwoordig is, uit te balanseer. Candida albicans gis is dikwels teenwoordig in die keel, ingewande en geslagsdele.
Die gis en bakterieë lewe in simbiose. Die probleem kom egter in as die bakterieë en die gis nie meer huis-huis wil speel nie en die gis die goeie bakterieë by die deur uitskop. Die “egskeiding” veroorsaak dan ’n wanbalans in die liggaam en gee aanleiding tot ’n reeks simptome.
Candida kan alle aspekte van jou fisiologie beïnvloed: Senuweestelsel; immuunstelsel; voortplantingsisteem en die maag.
WATTER TIPES KRY JY?
- Sproei: Dit affekteer klam oppervlaktes rondom die lippe, die binnekant van die wange, en op die tong en verhemelte.
- Esophagitis: Candida-infeksies van die mond kan versprei na die slukderm en kan aanleiding gee tot esophagitis.
- Velinfeksies: Dit kan voorkom op areas van die vel wat min ventilasie ontvang en buitengewoon klam is. (Diaper rash, athlete’s foot ens.)
- Vaginale gis-infeksies: Na beraming kry 75% van alle vrouens ten minste een keer in hulle lewe vaginale Candida-infeksie, en tot 45% van vrouens kry dit twee of meer kere.
- Diep Candidiase (byvoorbeeld Candida sepsis): Die swam besoedel die bloedstroom, versprei oor die hele liggaam en veroorsaak ’n ernstige infeksie.
IS DIT MAKLIK OM VAN CANDIDA ONTSLAE TE RAAK?
In andersins gesonde mense wat sproei, vel Candidiasis of vaginale gis-infeksies het, kan Candida gewoonlik uitgeskakel word met ’n kort behandeling (soms ’n enkele dosis) van anti-fungal medikasie.
Dus kan oppervlakkige Candida met die korrekte behandeling weggaan sonder om enige permanente skade te laat. As jy egter byvoorbeeld nie jou kursus van medikasie voltooi nie, of jou gesondheid verswak gedurende behandeling, kan die infeksie terugkeer.
Mense met verswakte immuunstelsels kan dit moeiliker vind om van Candida ontslae te raak en beloop die risiko van ’n terugkerende infeksie.
HOE KAN DIT MY SEKSLEWE BEÏNVLOED?
Nee dankie, my vrou
’n Vaginale gis-infeksie kan talle onaangename simptome veroorsaak wat manlief twee keer sal laat dink voor hy sy crown jewels daar naby bring. Die volgende simptome kan voorkom:
- Jy het ’n abnormale vaginale afskeiding. Die ontslag is gewoonlik ’n wit-grys kleur en het ’n maaskaas voorkoms.
- Daar is ’n slegte reuk – amper soet of broodagtig.
- Die hele vaginale area, insluitend die vagina en vulva, kan rooi, seer en geïrriteerd raak tydens ’n gis-infeksie.
Nee dankie, my man
As manlief sy neus optrek, imagine hoe moet jy voel tydens die ervaring? Jy gaan moontlik die volgende ondervind:
Lae seksdrang: In baie gevalle kan ’n vaginale gis-infeksie jou libido, of jou begeerte om seks te hê, beïnvloed. Hoewel daar geen konkrete biologiese rede hiervoor is nie, reken dokters dat dit gekoppel kan word aan depressie wat jy tydens dié episode ervaar.
Pyn en ongemak: Vaginale gis-infeksies is geneig om meer lastig as pynlik te wees, maar dit kan steeds ’n intense, brandende pyn veroorsaak tydens en ná seks. Daar is ook ’n aanhoudende jeuk teenwoordig. Dié simptome veroorsaak dat vrouens omgang beperk of heeltemal vermy.
Die aansteeklikheids-faktor: Soos die meeste infeksies, is vaginale gis-infeksies aansteeklik en kan seksueel aan ’n manlike maat oorgedra word. MAAR, die kans van oordrag is ’n skrale 10-15%. Vir baie paartjies is dit egter steeds genoeg om ‘nee-dankie’ te sê.
OE AARDE, HET EK CANDIDA?
Daar is ’n verskeidenheid simptome van dié siektestoestand. Die tien mees algemene is:
- Swaminfeksies van die vel en naels;
- Chroniese moegheid;
- Spysverteringstelsel kwessies soos opgeblasenheid, hardlywigheid of diarree;
- Swak immuunstelsel;
- Konsentrasie probleme, swak geheue en ’n gebrek aan fokus;
- Velprobleme soos ekseem, korwe, aknee en ’n uitslag;
- Geïrriteerdheid, buierigheid, angs of depressie;
- Vaginale infeksies. Let wel, daar is ’n verskil tussen vaginale gis-infeksies en urienweginfeksies (UWI). Eersgenoemde word veroorsaak deur Candida en affekteer die vaginale area, terwyl laasgenoemde deur bakterieë in die uretra veroorsaak word en die blaas en urienweg affekteer;
- Ernstige seisoenale allergieë of jeukende ore; en
- Cravings vir soetgoed of koolhidrate.
OORSAKE EN VOORKOMING
Jou dieet – die belangrikste faktor
Candida kry sy petrol uit suiker, koolhidrate en stysels. As jy dus ’n hoë-suiker dieet volg, sal jy nie net hierdie kosse crave nie, maar terselfdertyd die gis voed en ’n bose kringloop veroorsaak.
Wat mag ek dus eet/nie eet nie?
Groente: Eet nie-styselryke groente vars, gestoom of gebraai. Byvoorbeeld: Spinasie, artisjokke, aspersies, avokado, broccoli, komkommer, tamaties, kool ens. Uie, knoffel en gemmer is ook doeltreffende anti-swam voedsel. Groente soos aartappels, patats, mielies, beet en ertjies is uit.
Vleis: Sorg dat jou vleis, vis en hoender vars is en nie behandel is met chemikalieë, plaagdoder of antibiotika nie. Vermy liefs ook verwerkte vleis (soos lunch meats) asook gerookte en vakuumverpakte vleis. Varkprodukte word ook nie aanbeveel nie.
Suiwelprodukte: Byna alle suiwelprodukte moet liefs vermy word, behalwe ghee, botter, kefir en probiotiese jogurt.
Graan: Glutenvrye graanprodukte bevat baie vesel en dit is uitstekend vir die uitskakeling van Candida gifstowwe. Dit sluit in: Bokwiet, millet, hawersemels en quinoa. Enige produkte wat gemaak is van koring, rog, hawer of gars is ontoelaatbaar.
Vrugte: Geen vrugte! Die hoë suikerinhoud in vrugte voed Candida, selfs al is dit natuurlike suikers. ’n Bietjie suurlemoensap sal egter nie skade doen nie.
Drinkgoed: Meeste kruietee bevat anti-fungal eienskappe en jy kan dit met ’n geruste hart drink. Die volgende is egter uit: Koffie; swart en groen tee; dieet en energie drankies. Hoekom? Die kafeïen in genoemde drankies kan veroorsaak dat jou bloedsuikervlakke styg, maar die grootste probleem is dat dit jou byniere verswak en jou immuunstelsel kan aantas. Alkohol is vanselfsprekend hoog in suiker en dus ontoelaatbaar.
Neute en sade: Sommige neute en sade is veilig om te gebruik; ander nie. Die onderskeid word getref op grond van die teenwoordigheid van muf. (Muf is ook ’n tipe swam en dus nie goed vir jou Candida nie.) Jy mag die volgende gebruik: Amandels, vlas, hazel, pekanneute, sonneblom en okkerneute. Maar nie cashews, grondboontjies en pistachio nie.
Bone: Bone is moeilik om te verteer en boonop hoog in koolhidrate, daarom moet jy dit sover as moontlik uit jou dieet skakel, of dit slegs in baie klein hoeveelhede nuttig. Soja produkte is ook verbode, omdat dit gewoonlik genetiese modifikasie ondergaan.
Geurmiddels: Wees versigting vir souse soos mayonnaise, ketchup, mostert, tamatiesous en enige pasta souse omdat dit gewoonlik versteekte suiker bevat. Vir ’n gesonde slaaisous, probeer eerder ’n mengsel van olyfolie en suurlemoensap. Die gebruik van kruie en speserye is oor die algemeen veilig. Baie kruie en speserye het antioksidante en anti-fungal eienskappe en kan sirkulasie verbeter en inflammasie help beveg.
SWAK IMMUUNSTELSEL EN VOEDSEL ALLERGIEË
’n Swak immuunstelsel maak jou vatbaar vir Candida. Neem ’n goeie multi-vitamien en hou jou liggaam gesond.
Laat toets jouself ook vir voedsel allergieë, want laasgenoemde kan jou spysverteringstelsel ’n soft target maak vir wanbalanse.
Mense wat aan die volgende lei is meer vatbaar vir Candida: Chroniese siektes, immuunstelselprobleme, kanker en HIV.
ONGESONDE LEWERFUNKSIES
Hou jou lewer gelukkig en moenie oormatig alkohol gebruik nie.
CHRONIESE STRESS
Leer om met jou stress te deal. ’n Goeie teenfoeter vir stress is ’n gereelde, lekker karfoefel tussen die lakens.
TE VEEL ANTIBIOTIKA
Moenie te vinnig na antibiotika gryp as jy siek voel nie – dit vernietig juis die goeie bakterieë in jou liggaam. Neem gereeld probiotika om hierdie balans in stand te hou.
VROUENS IS MEER VATBAAR VIR CANDIDA
Dames, ons is meer geneig as die manne om Candida te kry as gevolg van estrogeenvlakke en anatomiese verskille. As jy dinge soos voorbehoedmiddels en hormoonterapie vermy, kan jy Candida makliker die deur wys.
Deur Thalia Brüssow
Bronne: Minbodygreen.com, vaginalcandidiasistreatments.com, womenshealthmag.com, ihealthcast.com