Dit is harde werk om ’n baba te bou en jou lyf (en jy) verdien net die beste. Só kan jy jouself pamperlang – en boonop sonder om ’n gat in jou beursie te brand.
‘Liefies’ jou voete
Jou voete is moeg en geswel van al die ekstra gewig wat jy rondra. Gee jouself ’n voetspa. Tap louwarm water in ’n vlak skottel en plaas ’n paar gladde klippies op die bodem vir ekstra effek. Voeg ietsie lekkers by jou water soos gegeurde olie. Of jy kan selfs kruietee-sakkies soos chamomile of peperment in jou water plaas. (Jy kan dit ook vooraf laat trek in ’n beker en net die teemengsel by die water voeg.) Soak jou voete vir so lank as wat jy wil en droog dit na die tyd met ’n sagte handdoek af.
Jy kan jou voete liggies afskuur met ’n voetskuurdertjie en ook voetroom aansmeer.
Laastens, jou toonnaels. As jou magie in die pad is, vra manlief, of selfs die kinders, om jou toonnaels te verf. Jy gaan sommer stukke beter voel as jou toontjies bietjie kleur het.
Sodra jou voetspa klaar is, rus jou voete op ’n sagte kussing en ontspan vir die volgende 30 minute.
Asem in… asem uit…
Een van die maklikste maniere om jou batterye te herlaai, is deur asemhalingsoefeninge. Jy kan die oefeninge enige tyd en enige plek doen, selfs terwyl jy saam met die kinders in ’n parkie rondloop. Trek jou asem diep in (voel hoe dit al die pad af na jou maag vloei), hou dit vir ’n paar sekondes in en blaas dit dan stadig uit. Probeer dit ’n paar keer na mekaar. Dit sal jou help om te ontspan en ook die spanning verlig wat opbou tydens jou besige dag.
Maak tyd vir jouself
Min van ons is bevoorreg om handjies gevou by die huis te sit. Jy het moontlik ’n voldag werk, ’n huishouding om na om te sien en dalk nog ander kinders wat jou aandag verg. Meeste swanger mammas kry eers bietjie me-time wanneer hulle op kraamverlof gaan en dan is die baba byna onmiddellik daar. Jy móét tyd vir jouself máák om te ontspan.
Staan vroeg in die oggend op voor jou huishouding al roer, of gebruik die tydjie laataand as almal in die bed is. Skep vir jouself ’n rustige omgewing en ontspanne atmosfeer deur byvoorbeeld gegeurde kerse of wierook te brand. Doen jou asemhalingsoefeninge, joga, mediteer of dagdroom bloot net.
‘Embrace’ jou nuwe voorkoms
Vroue voel allermins mooi as hulle swanger is. Alles swel op, jy lyk nie meer soos “jy” nie en soms voel jy sommer net “ugh!” Jy dink heel moontlik die hele storie van pregnancy glow is nonsens, want al wat jy sien is ’n pikkewyntjie wat haarself in jou klere probeer inwurm. Hoekom jou nuwe lyf vir die wêreld probeer wegsteek? Wees eerder ’n show-off!
Moenie heeldag in manlief se sweetpakbroek en ’n oversized T-hemp rondloop nie, anders gaan jy mos nou onvroulik voel. Jy hoef nie jou hele klerekas te vervang nie, maar skaf een of twee kledingstukke aan wat jou nuwe kurwes beklemtoon en jou sexy laat voel. Moenie skaam wees om ’n sexy nagrokkie of ’n kantnommertjie te kry nie – manlief gaan sy hande nie van jou kan afhou nie!
Maak tyd vir jou en jou man!
Jy gaan al jou tyd en aandag aan die nuwe baba spandeer as hy/sy eers daar is. Maak dus nou die beste van jou tyd saam met manlief terwyl daar nog nie vuil doeke en slapelose nagte is nie.
- Neem ’n paar DVD’s uit, maak ’n bak springmielies en hou ’n movie night by die huis.
- Kry vingerhappies, vat ’n lekker sagte duvet en kussing, en hou piekniek onder die sterre.
- Maak die babakamer ’n spanpoging: verf die mure saam en gaan soek saam al die bykomstighede uit.
- Hou julle sekslewe aan die brand. Onthou, dit gaan so rukkie vat na die baba se geboorte voordat julle weer seks kan hê. Laat die bedvere dus kraak terwyl julle kan – mits jou dokter natuurlik sê dat dit vir jou spesifiek veilig is.
‘Indulge’ jouself
Solank as wat jy ’n gebalanseerde, gesonde dieet volg, is daar geen rede hoekom jy nie nou-en-dan jouself met ’n lekker eetdingetjie kan bederf nie. Moenie skuldig voel daaroor nie! Enige koeldrank proe ook beter as dit in ’n elegante glas bedien word. So, of jy nou vrugtesap of ystee drink, gooi dit vir jouself in ’n martini of sjampanje glas, versier dit met vrugteskyfies en ’n klein sambreeltjie, en verbeel jouself jy is op ’n eksotiese eiland!
Neem die regte voedingstowwe in
Noudat jy vir twee (of dalk meer) eet, is dit belangrik dat jy die regte voedingstowwe inneem. Nou is nié die tyd om op ’n dieet te gaan of kalorieë te sny nie. Inteendeel, jy benodig sowat 300 ekstra kalorieë per dag, veral later in die swangerskap wanneer jou baba vinnig groei. As jy maer of baie aktief is, kan jy dalk selfs meer nodig hê. As jy oorgewig is, kan jou dokter egter aanbeveel dat jy nie te veel ekstra kalorieë inneem nie.
Gesonde eetgewoontes is altyd belangrik, maar veral wanneer jy swanger is. So, maak seker dat jou kalorieë uit voedsame kos verkry word wat sal bydra tot jou baba se groei en ontwikkeling. ’n Baie ekonomiese manier om vars groente en kruie te bekom, is deur jou eie te plant. Sommige groente en kruie het nie eers ’n groot oppervlakte nodig om te groei nie – jy kan dit sommer in bakke op jou stoep groei.
Jou dokter sal moontlik ook vir jou voedingsaanvullings en vitamiene voorskryf wat jou liggaam benodig om jou groeiende pienkvoet te ondersteun.
Watter voedingstowwe is belangrik vir swanger vrouens?
Kalsium
Oor die algemeen benodig vrouens ten minste 1 000 mg Kalsium per dag. Omdat jou groeiende baba se Kalsium vereistes hoog is, moet jy jou Kalsium inname verhoog om ’n verlies van Kalsium uit jou eie bene te voorkom. Goeie bronne van Kalsium is: Laevet suiwelprodukte, lemoensap, spinasie, broccoli, graan, gedroogde bone, amandels en tofu.
Yster
Swanger vrouens benodig ongeveer 30 mg yster per dag. Yster is nodig vir die vervaardiging van hemoglobien, die suurstofdraende komponent van rooibloedselle. Rooibloedselle sirkuleer deur die hele liggaam om suurstof aan al die selle te lewer. Sonder genoeg yster, kan die liggaam nie genoeg rooibloedselle maak nie en kan die liggaam se weefsel en organe nie die suurstof verkry wat hulle benodig om optimaal te funksioneer nie.
Yster kan uit verskeie voedselsoorte geneem word, maar die liggaam vind dit makliker om yster uit vleis te absorbeer. Goeie bronne van yster: Rooivleis, donker pluimvee, salm, eiers, gedroogde boontjies, ertjies en vrugte, en donkergroen groente.
Foliensuur
Dit word aanbeveel dat alle vroue van kinddraende ouderdom – en veral diegene wat beplan om swanger te word – sowat 400 mikrogram (0,4 mg) van Foliensuur aanvullings elke dag inneem. Dit kan verkry word uit ’n multi-vitamien of Foliensuur aanvullings – bykomend tot die Foliensuur wat in kos gevind word.
Hoekom is Foliensuur so belangrik? Studies het getoon dat die neem van Foliensuur aanvullings een maand voor en gedurende die eerste drie maande van swangerskap, die risiko tot neuraalbuisdefekte in die fetus tot-en-met 70% verminder.
Die neuraalbuis word gevorm tydens die eerste paar weke van die swangerskap – moontlik nog voor ’n vrou weet dat sy swanger is. Die buis gaan voort om die baba se ontwikkelende brein en rugmurg te word. Wanneer die neuraalbuis nie behoorlik vorm nie, kan die resultaat tot ’n neuraalbuisdefek soos Spina Bifida tot gevolg hê.
Lag gereeld
Het jy geweet dat dit goed is vir jou om te lag? Wanneer jy lekker lag, stimuleer dit die afskeiding van endorfiene (happy hormones) in jou bloedstroom en help dit jou om ontspanne te voel. Maak dus ’n punt daarvan om grappies te lees in tydskrifte of die internet. Besoek gerus pregnancyhumor.com of thelaughingstork.com vir grappies, stories, fotos en snaakse sêgoed oor swangerskap.
Neem ’n ontspannende bad
Neem ’n lang, ontspannende bad. Jy kan met jou dokter bevestig of jy wel badskuim of olies in jou water mag gooi. Volgens netmums.com, kan jy die volgende met ’n geruste hart gebruik:
- Lavender: bring kalmte en ontspanning mee;
- Bergamot: help met pynverligting en spysvertering;
- Suurlemoen: bring verligting tydens morning sickness;
- Rosewood: help om jou lekker te laat slaap; en
- Sandalwood: dien as ’n anti-depressant.
Deur Thalia Brüssow
Addisionele bronne: whattoexpect.com, pregnancy.org, justmommies.com, kidshealth.com