Jou paar aspoestertjie-skoene staan gereed in die kas. Die troukar is gereël en die honeymoon destination wag. Daar is net een klein dingetjie wat julle nog nie bespreek het nie… so klein dat hy in ’n wiegie sal pas.

“Ek en Anton het vroeg getrou,” vertel Carli. “Dit was ’n kwessie van ‘liefde met die eerste oogopslag’ en drie maande later het ons begin troureëlings tref.” Dit klink vreemd, maar te midde van die harwar van al die reëlings het hulle nooit oor die basics gesels nie. ’n Paar dae na die troue het hulle op die strand gelê. Anton het gewys na drie kleintjies wat in die water baljaar het: “Ek kan nie wag tot dit óns drie kindertjies is wat daar rond hol nie…”

Meteens het Carli ’n beklemming om haar hart gevoel. “Ek wou nog nooit kinders gehad het nie… maar om die een of ander rede het ons nooit, vandat ons mekaar ontmoet het, daaroor gepraat nie. Ek moes die nuus net daar aan Anton breek en ek het soos die wreedste mens gevoel om dit te doen, selfs al het ek lank gelede al vrede gemaak met my besluit. Toe ek sê hoe ek voel, kon ek die skrik en ontnugtering in sy oë sien. Hy het ’n paar sekondes stil vir my gekyk, sy handdoek opgetel en kamer toe gestap…”

Die wittebrood was bederf. Hulle het die onderwerp ’n stille dood laat sterf, maar jy kon die atmosfeer tussen hulle met ’n mes sny. “Waar ons voorheen so gemaklik met mekaar was, was daar skielik hierdie onsigbare muur tussen ons. Ons is nou agt weke terug van ons wittebrood af en sielsongelukkig getroud.”

Promosie

Carli begin daaraan dink om haar besluit oor kinders te laat vaar ter wille van Anton. “In myself sal ek egter nooit van plan kan verander nie en ek sal my hele lewe lank toneel moet speel. Ek het nooit poppe gehad nie. Ek het nie ’n krieseltjie moedersinstink nie. Ek wéét ek sal nie ’n goeie ma wees nie en my beroep sal altyd eerste kom. Ek is bang dat sou ons kinders kry, ek Anton vir die res van my lewe daarvoor sal verwyt… maar ek wil ook nie my huwelik prysgee nie.”

Is dit nou al nodig om hieroor te praat?

Julle is verloof en voel nie dit is nodig om nou al hierdie swaar issues deur te trap nie, maar kenners meen julle kan dit nie ’n oomblik langer uitstel nie. Dis byvoorbeeld só deel van ons Afrikaner-kultuur om te trou en kinders te kry (dit word só in een sin gesê) dat die een party maklik kan aanneem vir die ander een is dit ’n given, terwyl daar heelwat redes is waarom mense téén kinders kry kan besluit.

Sommige mense het baie hartseer en trauma beleef en wil nie kinders gootmaak in die wêreld waarbinne ons leef nie. Vir baie ambisieuse mense, soos Carli, is kinders nie ’n opsie nie. Daar is diegene wat net nooit ’n dringende behoefte gehad het om kinders te hê nie en daarom ook nie die sin daarin raaksien nie… So ja, dit is beslis belangrik om hieroor te praat en eerstens vas te stel of julle eenders voel oor óf julle kinders wil hê of nie.

Maar wat as ons nie saamstem nie…

As julle ten opsigte van dié belangrike vraag verskil, is daar ’n dilemma, en baie paartjies vermy die gesprek juis omdat hulle ’n vermoede het dat dit kan gebeur. Om die probleem te vermy, gaan dit egter nie oplos nie en sodoende word die konflik net uitgestel. Miskien het julle lank gelede die onderwerp aangeroer, maar hoop jy in jou stilligheid dat jou maat sy siening sal verander sodra julle getroud is. As dit bekend klink, beweeg jy op gevaarlike terrein! Sommige kenners meen wel dat die situasie mettertyd kan verander omdat ’n mens groei en nie noodwendig dieselfde mens is as wat jy oor ’n paar jaar gaan wees nie. Maar kan jy die kans waag? Kan jy ’n lewensveranderende besluit neem en ‘hoop vir die beste’?

Moenie ’n huwelik binnegaan en glo julle kan mekaar van besluit laat verander nie. Dit is nie regverdig om te verwag dat jou maat ’n ouer sal wees vir kinders wat hy nie wil hê nie, en ook nie om hom van kinders te ontneem nie.

Oor ’n week, ’n maand of tien jaar?

Sodra julle albei besluit het julle wil wel kinders hê, hou die huiswerk nie op nie. Praat oor wanneer wat gaan begin gebeur. Miskien wil jy die nessie begin volmaak sodra julle gekerk is, min wetende dat manlief eers die wêreld saam met jou wil platreis en kinders eers oor tien jaar in sy gedagtes sal feature. Moet ook nie die invloede van buite af onderskat nie. Ouers druk jong getroudes dikwels om kinders te hê met die woorde: “Wanneer kom die kleinkinders nou – julle is immers al ses jaar getroud?” Maar julle besluit om kinders te hê moet bepaal word deur jul eie behoeftes, en nie die mense óm julle s’n nie.

Hoe gaan ons by ons kalender hou?

Sodra julle besluit het wanneer julle wil begin broei, behoort die kwessie oor voorbehoeding aangeraak te word. Van watter soort geboortebeperking sal julle gebruik maak? Jou aanstaande neem dalk aan dat jy die Pil sal gebruik, min wetende dat jy voel hý behoort verantwoordelikheid hiervoor te neem. Gesels oor moontlike opsies. Dit is ook ’n goeie besluit om sommer saam die ginekoloog te besoek voor jul troue. Wil julle gou kinders hê? Of eers oor ’n hele paar jaar. Dit kan alles die ideale soort voorbehoeding vir julle situasie help bepaal.

Hoeveel vissies in die sardientjieblik?

Dalk is hy van plan om ’n klein rugbyspannetjie te kweek, terwyl jy heeltemal tevrede sal wees met een mini-me. Dis belangrik om hieroor te gesels, hoewel kenners sê dit is heeltemal okay om oor hierdie onderwerp te verskil. Die meeste paartjies sal eers ná die geboorte van die eerste kind ’n goeie idee hê van hoeveel kinders hulle begeer. Jy maak jou dalk gereed vir ’n halfdosyn, net om ná die eersteling se geboorte te besef hoe harde werk kinders grootmaak is en dan te settle op ‘net die twee’. Moontlik is dit vir julle so ’n spirituele ervaring, dat julle nie by een of twee wil ophou nie. Julle eie ervaring van jul kinderjare sal ook help om jul besluit te bepaal. Jaclyn Bronstein, ’n geestesgesondheids berader sê egter in dié stadium is die hoeveelheid nie so belangrik soos die kalender nie.

Wie gaan waar vir al die sardientjies sorg?

Ons word elkeen groot met ons eie veronderstelling van hoe ’n gesinstruktuur behoort te werk. Dalk het jou aanstaande se ma nooit gewerk nie en glo hy in tradisionele geslagsrolle. Miskien het sy ma wel gewerk en het hy haar teenwoordigheid só gemis dat hy dit anders sal wil hê vir sy kinders. Of dalk droom hy daarvan om ’n tuisbly-pa te word. Die vraag is: Gaan een van julle tuisbly terwyl die ander een werk? Of gaan julle albei werk. En indien julle op laasgenoemde besluit, gaan julle van dagsorg, kleuterskole of ’n inbly-kinderoppasser gebruik maak? Dit is moontlik om ’n kompromie hieroor te bereik as julle verskil. Jy kan dalk jou voldagpos laat vaar en ’n halfdagpos aanvaar. Of ’n kinderoppasser aanstel wat jou kleintjie by die huis oppas terwyl jy flexi-ure werk.

En wat as alles nie volgens plan verloop nie?

’n Mens wil nie graag nou al spoke opjaag nie, maar dit is goed om mekaar hieroor ook te pols. Wat as kinders kry vir julle nie so maklik kom nie? Sal julle albei vrugbaarheidsbehandeling oorweeg? En tot hoe ver sal julle gaan hiermee? As dit nie ’n opsie is nie, sal julle aanneming of surrogaatskap oorweeg? Hoewel dit goed is om daaroor te gesels, is dit ook belangrik om te onthou dat ’n mens nie sulke besluite kan neem voor jy nie in daardie situasie staan nie. Dis egter goed om die moontlikheid in gedagte te hou en die kommunikasiekanale hier rondom oop te hou.

Hoe om die gesprek aan te raak:

Julle kan ’n afspraak maak met mekaar in ’n koffiewinkel of sommer net lekker rustig by die huis. Sommige mense verkies om hieroor te gesels tydens voorhuwelikse berading of met ’n terapeut wat kan help om die gesprek te lei. Sommige mense is bang om dit te bespreek want “wat as ek van plan verander?”

Onthou, gee mekaar die vryheid om dit openlik te bespreek, met die besef dat julle wel van besluit kan verander. Jy kan byvoorbeeld sê: “Ek wil baie graag vier kinders hê, maar ek het eintlik nie ’n idee wat kinders grootmaak behels nie en sal sien hoe dit gaan met die eerste twee.” Of hy kan sê: “Ek weet jy begeer vier kinders, maar ek dink ons moet eers kyk hoe lyk ons finansiële situasie in daardie stadium.” Onthou, jul besluite is nie in yster gegiet nie, maar ’n gesprek is ’n goeie vertrekpunt.

Die groot gesprek is ook nie ’n eenmalige gebeurtenis nie en moet deurentyd in jul huwelik aangeraak word. As julle emosioneel broos is, kan dit gou ontaard in ’n hewige argument en sal dit moeilik wees vir julle om ’n oplossing te vind. Moet julself ook nie onder druk plaas om alles in een gesprek te probeer oplos nie. Maar elke gesprek is goud werd. Onthou: Vir ’n huwelik om te floreer, móét julle op dieselfde golflengte wees wat seks, geld en kinders aan betref.

 

Addisionele bronne: www.chatelaine.com; www.huffingtonpost.com; www.womansday.com; www.msn.com; www.epigee.org/family-planning-together.html; www.theravive.com