So, jy het uitgestel omdat jy nie aan die perfekte plan kon dink nie en vanoggend het jy jou wake-up call gekry – dis drie dae voor jul huweliksherdenking! Is dit nog moontlik om dit enigsins spesiaal te maak? En waar begin jy?

Promosie

Marsha is een van daardie laaste minuut-girls. Sy kan nie perform as die adrenalien nie op volspoed pomp nie. Sy is altyd die laaste een om by die skoolgeleenthede op te daag, teen agtuur op ’n Sondagaand kommandeer sy die kinders vir huiswerk en daai petrolliggie moet helder brand voor sy besluit om haar kar vol te maak.

Daar’s ’n Marsha in elkeen van ons wat soms na vore tree. Miskien is jy ’n super-georganiseerde vrou wat daarvan hou om in beheer te wees maar die kanse is tóg goed dat jy in die een of ander stadium gaan uitstel omdat die kreatiewe sappe bloot nie wil vloei nie! Só het menige van ons al in die hardloop-supermark-toe-en-gaan-koop- ’n -boks-sjokolade-situasie beland, as ’n laaste poging om te bewys dat ons darem net ‘iets’ gedoen het. Maar eintlik wéét jy: Vir daardie powere poging kon jy dit net sowel gelos het.

So, wat maak jy as jy teen Woensdagoggend besef jou en manlief se huweliksherdenking is 72 uur weg?

Promosie

OGGEND VAN DAG EEN: Beplanning, beplanning, beplanning…

Stel ’n begroting op

Kyk heel eerste na jul begroting! Want dis ’n edele gedagte om manlief Parys toe te vlieg vir twee aande as jy reeds teen die vyftiende van elke maand rek-jou-rande-aandetes optower. Is julle lus om vir twee dae in ’n spa te gaan ontspan, net om vir die res van die maand met seer, gespanne skouers rond te loop omdat jy oorbestee het? As jy eers ’n budget vasgemaak het, kan dit jou rig in watter tipe herdenking jy kan beplan.

Brainstorm oor idees

As jy en manlief saam beplan, kan dit dinge vergemaklik, maar as jy vir hom ’n verrassing wil gee, sal jy jou sussie, sy sussie of beste vriendin se hulp moet inroep. Kry ’n notaboekie en pen, gaan sit in ’n koffiewinkel en begin neerskryf wie en wat julle is en wat jul verhouding spesiaal maak. Jou lysie kan bestaan uit woorde, soos: “spontaan, turkoois, vierwielvakansies, blou lug, Saterdag brunches ens”. Skryf ook romantiese idees neer. Selfs al is die idees verregaande, kan julle dalk ’n goedkoper en doenbare alternatief met dieselfde resultate kry. Dink aan die volgende:

  • Watter kos, plekke, flieks en spesifieke musiek is vir julle romanties?
  • Wat wil jy en manlief nog graag saam doen? Jul bucket list?
  • Het julle enige romantiese gunsteling flieks?
  • Hou jou maat daarvan as jy spesifieke sexy klere aantrek?
  • Het jy al gehoor van spesifieke plekke waarheen jou maat wil gaan?

Neem ’n besluit

Sodra jy nou al die moontlike feite en idees bymekaar het, kyk na wat jou begroting pas en wat die maklikste haalbaar is binne die gegewe (beperkte) tyd wat julle het. Omkring die romantiese dinge wat moontlik kan werk en dit wat nie haalbaar is nie. Hou jou maat ingedagte. Dit help veel jy beplan die mees romantiese huweliksherdenking denkbaar (vir jóú) en jou maat dink nie veel daarvan nie.

MIDDAG VAN DAG EEN: Laat die wiele rol!

Noudat jou plan gefinaliseer is, is dit tyd om die reelings te tref. Jy kan jou eie, spesiale romantiese herdenking reël, maar ons gaan jou ’n voorbeeldplan gee, vir as jy regtig geen idees het nie. Jy kan dit tweak om by julle te pas.

PLAN VAN AKSIE:

Huur ’n plaaslike sjef/sjefstudent om by die huis vir julle ’n romantiese ete voor te sit met alles waarvan jou maat hou. Daarna is ’n romantiese fliek aan die beurt wat julle herinner aan die tyd toe julle dol verlief was. Laastens is ’n dans op jul trouliedjie aan die beurt.

Jy kan die plan soos volg aanpas volgens jou begroting:

AS GELD NIE ’n OPSIE IS NIE:

Skakel een van die sjefs by jul gunsteling restaurant en vind uit of hy by jul huis vir julle ’n vyfster ete sal kom bedien. Wees voorbereid daarop dat hy moontlik nie beskikbaar kan wees nie, in welke geval jy hom kan vra vir ’n aanbeveling.

Besluit saam met jou sjef op die spyskaart. As geld nie ’n opsie is nie, kan julle ’n vyfgang maaltyd beplan met geregte wat duur bestanddele insluit en net die beste wyn. As die spyskaart ’n spesifieke tema het, gaan skaf die mooiste eetgerei aan wat jy moontlik kan bekostig (kristalglase ingesluit).

Omskep jul sitkamer in ’n fliekteater. Vind uit of jy iewers ’n projektor kan huur waarmee jy die fliek op ’n muur of ’n doek in jul sitkamer kan projekteer á la grootskerm! Koop ’n springmielie-masjien en huur ’n kelner om gereeld jul drankies en jul springmieliebakke aan te vul.

Gaan koop onderklere en ’n uitrusting wat manlief se asem sal wegslaan! Kompleet met ’n stel mooi hoë hakskoene. Maak ook ’n afpsraak by jou haarkapper vir ’n kapsel wat geskik is vir ’n black tie geleentheid. Sorg dat manlief ook iets skafliks het om aan te trek.

Huur ’n klanksisteem en ’n sanger om die liedjie wat vir julle twee spesiale betekenisse inhou, lewendig in jul huis te kom uitvoer vir ’n baie spesiale dans.

AS GELD WEL ’n OPSIE IS:

Skakel een van jul plaaslike kookskole en vind uit of hulle dalk ’n finalejaarstudent het wat deel van sy/haar prakties by jou huis kan kom kook. Dit behoort julle ’n fraksie te kos van wat ’n sjef met sy eie restaurant julle sal kos.

Besluit saam met die student op die spyskaart. Julle kan dit redelik bekostigbaar hou met ’n ligte voorgereg, hoofgereg en eenvoudige nagereg. Bespreek moontlike opsies en kry ’n bekostigbare wyn om die ete te vergesel.

As jy ’n spesifieke tema met moeite wil deurvoer, huur spesifieke eetgerei en dekor by jou naaste dekorhuur winkel. So nie, kan jy make do met wat jy in die huis het en jou eetkamer met goeie beligting, ’n bietjie kreatiwiteit, en finesse omskep in ’n pragtige romantiese eetplek.

Vir die fliek kan jul eie sitkamer met ’n lekker snuggle kombers, tuisgemaakte springmielies en koeldrank net so ’n lekker ervaring wees. Om dit ekstra flair te gee, koop polistireenbekers, strooitjies en bokse vir die popcorn en koeldrank.

Kyk in jou kas na dit wat manlief se bloed laat bruis. Hou hy van jou in jou klein rooi nommertjie? Verkies hy jou in jou kant-onderklere?

As julle nie reeds die liedjie op CD het nie, koop dit op iTunes en leen luidsprekers by ’n vriend/vriendin.

Maak eers seker alles is haalbaar deur die volgende te reël:

  1. Bel rond en hoor of jou kinders kan oorslaap by ’n familielid of goeie vriende en maak seker hulle het die datum reg. Sê ook vir manlief om niks te reël nie – dit is immers jul huweliksherdenking (miskien beter om hom te herinner en die kans dat hy jou gaan teleurstel deur te vergeet, uit te skakel!)
  2. Tref reëlings met die sjef of kookstudent en vra hom/haar om ’n draai by jou huis te maak om die kombuis te leer ken. Gesels ook vooraf met hom/haar oor presies waar jy die ete wil hou. Die tuin is dalk ’n goeie idee, maar dink aan die honde wat die sjef kan omstamp sodra die kos bedien word. Hou ook in gedagte dat dit dalk kan reën.
  3. Maak seker jy en die sjef is op dieselfde golflengte wat die ete aan betref. Weet hy dat jy lekker hartlike kos verwag, of dink hy jy het meer French Style cuisine in gedagte? Weet hy dat jou deep fryer ’n bietjie sukkel om aan die gang te kom? Weet jy dat jy al die bestanddele moet koop en waar jy sy gunsteling handelsmerke in die hande kan kry? Of gaan hy die inkopies doen?
  4. Bespreek ook die ‘program’ vir die aand. Julle moet stiptelik begin sodat die sjef se timing As jy ’n kelner en/of musikant reël, moet jy ook vir hom/haar ’n baie spesifieke tyd gee.
  5. As jy ’n CD gebruik om die liedjie te speel, maak seker dis nie gekrap nie. En maak seker die fliek wat julle wil kyk, is beskikbaar.
  6. Maak seker jou klere pas mooi – manlief s’n ook. Dit help veel jy wil hom ’n tux laat dra wat hy jare gelede gedra het en skaars in kan beweeg!

DAG 2: Doen die voetwerk!

Vanoggend moet jy die uitnodiging maak. Kry wat jy nodig het. Jy kan self bepaal hoe ingewikkeld, eenvoudig en met hoeveel detail jy dit wil maak (jul persoonlikhede sal dit help bepaal). Gebruik jul troukaartjie as inspirasie. Gebruik dieselfde kleure en dalk jou nooiensvan met ’n (oops!) agterna. Laat dit aflewer by sy werk.

Nou is dit winkels toe! Kry die dekor-items wat jy nodig het. As dit jou taak is, kry die bestanddele wat die sjef gaan nodig kry vir jul ete. Gaan koop die uitrusting wat jy wil aantrek en gaan huur die DVD. Gaan koop alles wat jy nodig het om die aand so spesiaal moontlik te maak.

Dink aan die blomme wat julle op jul troue gehad het. Dalk is hy gaande oor granate – kry dit vir die tafelruiker. Dalk het julle spesiale kristalglase gekry as ’n trougeskenk. Miskien is hy mal oor Chuckles… vra die sjef om dit in jul nagereg in te werk. Dit gaan alles oor personal touches!

DAG 3: Ready, set, go!

As dit ’n werksdag is, het jy waarskynlik verlof ingesit en manlief is by sy werk – wat dit heelwat makliker maak. So nie, moet jy hom wegstuur sodat jy kan werskaf. Jy het baie om te doen! Pak die kinders se tasse en alles wat hulle sal nodig kry vir die oorslaap.

Doen ekstra moeite met jul slaapkamer. Die kans is goed dat julle aan die einde van die dag hier gaan opeindig (hopelik vir meer as net slaap!) so maak seker daar is vars linne op die bed, mooi blomme op die bedkassie, ’n mooi kaartjie op manlief se kussing ensomeer.

Nou is dit tyd vir die ‘fliekteater’. Skuif die meubels só dat julle ’n bank het wat voor die televisie staan sodat julle styf teen mekaar kan opkruip en lekker kan vry in die ‘agterste ry!’ Vir ’n lekker twist op die gewone, kan jy ’n ‘inryteater’ prakseer in jul motorhuis.

Nou is dit jul venue! In die eetkamer of waar ook al julle van plan is om jul ete te hê. Moenie ’n piekniek in die boomhuis of ’n prawn braai op die stoep as ’n moontlikheid opsy skuif nie (dit kan die deftigste braai óóit wees). Die setting moet pas by jul persoonlikhede.

Laastens aan die beurt (maar die heel belangrikste) is jy. Onthou, van al die pakkies in die wêreld is jy die geskenk wat manlief die heel graagste sal wil oopmaak. So,sorg dat jy sy gunsteling parfuum en die mooiste stel onderklere wat jy besit dra. Maak seker jou naels is gedoen soos hy daarvan hou en jou hare lyk fantasties. Nou kan jy dit alles ‘toedraai’ met ’n sexy swart (of rooi of pienk) nommertjie.

Eindelik gaan die perfekte huweliksherdenking oor die details. Dit hoef nie peperduur te wees nie, maar as jou aand ‘persoonlikheid’ het, gaan dit manlief van sy voete af slaan. Dis al wat jy nodig het – drie dae vir ’n asemrowende geleentheid om die mooiste dag van jul lewens te herdenk!