Ons verskil almal as dit kom by idees rondom seks en wat die definisie van ‘n goeie sekslewe is. Ons kom vanuit verskillende agtergronde en kulture wat ons persepsies van seks affekteer.
Ek hoor dikwels hoe mense sê dat Engelssprekendes meer liberaal as Afrikaanssprekendes is as dit by seks kom! En dat jongmense baie meer avontuurlustig en oopkop is as die ouer generasie. Maar wanneer dit kom by seks, is daar drie hoofsaaklike faktore wat beïnvloed hoe jy seks (en die gehalte van jou sekslewe) beleef.
- Jul individuele persepsies van seks
Wanneer het jy aanvanklik van seks geleer? Het jy jou inligting by jou ouers gekry, uit ‘n boek, by maats of van die televisie af? Hoe jy hierdie intieme aktiwiteit ontdek het, sal beslis jou persepsies bepaal. Ek sien dat ouers rondtrippel as seksonderrig ter sprake kom. Dit is iets “waaroor daar nie gepraat word nie” en daar is só ‘n verwagting en misverstaan oor wat seks werklik is, dat baie mense eindelik teleurgesteld is wanneer hulle uitvind dat seks nié so glansryk is as wat die flieks ons wil vertel dit is nie!
Mans raak ongelukkig as vroue nie sommer die eerste keer veelvuldige orgasmes kry nie en wonder of hulle iets verkeerd doen. Ek het ook verskeie mense teegekom wat met seks worstel omdat hulle ‘n vooropgestelde idee het dat dit “vuil” of “verbode” is. Hulle voel asof hulle sonde pleeg wanneer hulle seks het. Jou persepsie van seks word geaffekteer deur die boodskappe wat jy ontvang het toe jy grootgeword het – boodskappe vanaf jou ouers, die gemeenskap, jou kultuur of jou geloof.
- Jul persepsie van seks as ‘n paartjie
Toe jy en jou maat bymekaar gekom het, het julle agtergekom dat julle verskillende idees het oor hoe die seks gaan wees? En wat het julle van mekaar verwag? Dit is so belangrik want gesprekke rondom die verwagtinge van seks, is nie iets wat juis in jong verhoudings plaasvind nie! En dit móét …
Gesprekke moet insluit: Hoe gereeld sal jy graag wil seks hê? Waarmee is jy gemaklik in die slaapkamer? Wat het jou geloof en kultuur jou oor seks geleer? In berading het ek ‘n vraelys wat paartjies help om hul seksuele repertoire te identifiseer, sodat hulle hul maats kan vertel waarmee hulle gemaklik is in die slaapkamer en wat absoluut ononderhandelbaar is. Seks gaan oor jou waardestelsel – wat vir jóú reg en verkeerd is. Dit is belangrik dat paartjies weet wat hul maats opkikker, waarvan hul maats hou en waarvan hul maats nié hou nie.
- Manlike en vroulike persepsies van seks
Wanneer dit by ons verskille kom, is seks ‘n taai kwessie. Mans en vroue verskil in die manier waarop hulle seks beleef, die manier waarop hulle die doel daarvan definieer en hoe gereeld hulle dit wil hê. Sommige mans verstaan nie dat vroue nie liefde en oorlog tegelykertyd kan maak nie. Vir mans word seks dikwels gesien as ‘n vredesvlag en hulle is verbaas wanneer hulle agterkom hul maats is steeds kwaad vir hulle! Vir mans is geen seks gelyk aan geen liefde. Maar baie vroue kan baie lank sonder seks oorleef voor hulle ongeliefd begin voel.
Wat baie paartjies nie besef aan die begin van hul verhoudings nie, is hoe verskillend hul libido’s is. Dis ‘n misverstand dat mans altyd hoër begeerte as vroue het en dat mans seks altyd meer najaag as vroue. Dis nie altyd die geval nie. In my praktyk probeer ek om dié persepsie te verander. Dit is werklik iets wat onder individue verskil – hetsy manlik of vroulik. Ek het baie vroue gesien met hoër libido’s as hul maats en hoe dit hul selfbeeld affekteer wanneer hulle “verwerp” word. Vroue neem dit persoonlik op en dink dat daar iets verkeerds is met hulle en hul verhouding. Dit is dikwels vir vroue moeiliker om te aanvaar dat hul maats ‘n laer seksdrang het.
Verskille in seksdrang kan moeilikheid in ‘n verhouding veroorsaak, maar genadiglik is daar verskillende behandeling-strategieë om die verskille te hanteer, wat kan lei tot ‘n gelukkige, gesonde sekslewe vir die meeste paartjies.
So, hoe gemaak?
Die belangrikste is om daaroor te kommunikeer. Ek vind dikwels dat die manier waarop ons met mekaar oor seks praat, misverstande in ons verhoudings veroorsaak. Die meeste paartjies dink hul kommunikasievaardighede is goed. Maar as ek die paartjie vra of hulle oor seks kan gesels, kan hulle my dikwels nie antwoord nie. En wanneer seks skeefloop, vreet dit weg aan al die ander aspekte van die verhouding. Dit veroorsaak spanning, angs en verwyte tussen die paartjie en hulle begin twyfel aan hul liefde, toewyding, vertroue, eerlikheid en lojaliteit teenoor mekaar. Seks is ‘n ontsettende belangrike deel van ‘n verhouding. Mense kies om seks te he vir verskeie redes – nie net vir die fisieke daad nie. Dit help paartjies om:
- Geheg en intiem te voel
- Goed oor hulself te voel
- Van spanning en angs ontslae te raak
- Te kommunikeer (dis ‘n vorm van kommunikasie)
- Ondersteuning en toevlug by hul maats te kry
- Liefde aan hul maats te wys
- Selfbeeld te versterk
- Harmonie in die verhouding te behou
- Die lewe se uitdagings en hoogtepunte op ‘n diep, emosionele vlak te deel
- Voort te plant
- Pret en vonk tot die verhouding toe te voeg
Paartjies wat probleme in hul sekslewe ervaar, moet verhoudings- en seksterapie ontvang. Omdat seks so ‘n intieme deel van die verhouding is, is dit een van die eerste plekke waar ‘n afname aan intimiteit wys. Dit beteken ook ‘n tekort aan kommunikasie en konneksie tussen ‘n paartjie. Die kwessies kan maklik deurgewerk word met ‘n paar sessies terapie, maar dit is belangrik om gouer eerder as later op te tree, omdat klein kwessies kan groei as dit nie gekonfronteer word nie.
Artikel deur Leandie Buys
- Leandie Buys is ‘n verhoudingsterapeut en kliniese seksuoloog van Port Elizabeth. Vir meer inligting epos haar by: info@leandiebuys.co.za of skakel haar praktyk by: (041) 379 5851. Besoek ook haar webtuiste by leandiebuys.co.za
***
Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!