Ooit gedink dat ’n instrument so tegnies soos ’n hartmonitor ingespan kan word om jou sekslewe oemf te gee? Ons wys jou hoe kooi-fiksheid net sóveel sexier word!

Promosie

As jy eerder die tipe is wat ’n pak aartappelskyfies voor ’n marathonsessie van Devious Maids sal deurwerk as om die bult agter die huis met jou draftekkies te takel, kom ons gee jou ’n sinopsis van wat presies ’n hartmonitor is: Dis ’n nifty, klein oefeninstrumentjie wat dien as jou persoonlike motiveerder, jou data-analiseerder en is ’n handige veiligheidsinstrument. Vandag se hartmonitors doen heelwat meer as om slegs jou harttempo te meet. En as jy joune boonop in pienk wil hê, sista, dan kry jy vir hom.

Daar is verskeie horlosies met die funksie en ander modelle op die mark, met verskillende features wat ’n stophorlosie, kalender, horlosie, kalorieteller, spoed- en afstandmonitor en fiksheidsafrigter insluit. Sommige het selfs ’n GPS-sisteem in! Die meeste het ook konnektiwiteit (sommige wireless), wat beteken jou hartklop monitor word gekoppel aan jou rekenaar sodat jy statistiek kan aflaai en stoor vir analise.

Miskien is jou hartmonitor netjies in die garage gestoor (soos daardie maag-oefening belt en die kettle bells wat jy in ’n oomblik van waansinnigheid gekoop het). Wel, dit is tyd om dit af te stof en in te span… want ons wed jou daar staan nêrens in jou instruksiegids dat jou hartmonitor baie handig in die slaapkamer ingespan kan word nie…

Promosie

Hier is ’n paar alternatiewe maniere waarop jy daai masjientjie kan laat werk – vir jou en manlief se plesier!

  1. STEL SEXY DOELWITTE! Bepaal ’n teiken, soos om elke week 10% meer kalorieë tussen die lakens te verbrand. In week een moet jul doelwit byvoorbeeld wees om 500 kalorieë te verbrand. In week twee, mik vir 550 en teen week drie moet julle 605 kalorieë kan kafdraf!
  2. SOEK SY SMAAK… Hou hy regtig so baie van orale seks? Kyk of jou maat geniet wat jy opdis deur sy hartklop-data te analiseer. Natuurlik beteken ’n vinniger harttempo meer intense of emosionele aktiwiteit.
  3. MIK VIR ’N DUN MIDDEL! Vir ’n uur se lae intensiteit seks, kan jy sowat 100 kalorieë verbrand. As julle dié soort seks het wat jou ’n lap oor oupagrootjie se foto in die gang laat gooi, kan julle 200 kalorieë per uur verbrand…
  4. MEET JUL MYLE… Die GPS-stelsel in sommige hartmonitors het versnellingsmeters wat die intensiteit van jou bewegings kan meet, al is hulle nie super akkuraat met watter afstand jy in die bed beweeg nie.
  5. HOE LANK HOU JULLE? Gebruik die hartmonitor se timer en strek jul oefensessies. As julle hou van die intensiteit en kurwe waarteen jul sekslewe tans funksioneer, probeer bloot om die lengte van jul bedpretsessies aan te pas. Sorg dat julle elke week jul sekssessie met vyf minute langer uitrek en kyk wat sê die monitor ná ’n maand.
  6. PROBEER INTERVAL TRAINING. Dit beteken dat jy vir een minuut teen 85% van jou maksimum hartklop moet oefen en dan die intensiteit moet laat afneem tot 65% van jou hartkloptempo. Jip, hy kan jou teen die muur oplig vir ekstra oefening en jy kan die danspaal in jou kamer inspan vir ondersteboseks (if you dare!). Ná ’n minuut, hou op en laat jul harttempo afneem… en daarna begin julle weer!
  7. SPEEL ’N BIETJIE. Lê op jou rug en lyk onweerstaanbaar, maar doen jou bes om jou harttempo so laag moontlik te hou. As dit beteken jy moet jou verbeel jy’s op ’n kano in die Karibameer, dan is dit so. Intussen moet manlief alles in sy vermoë doen om jou hartklop-tempo te laat verhoog. Stel ’n teiken. As jou tempo laer is as dit na vyf minute, wen jy. As jou tempo hoër is, wen hy.
  8. VIR ’N STUKKIE SENTIMENT… Maak allerlei prettige statistiek bymekaar wat julle eendag met jul kieries oor ’n koppie Rooibostee kan beloer. Meet die gemiddelde duur van ’n sekssessie oor ’n dekade. Kyk hoeveel middagknypies julle in ’n maand kan deurwerk. En bepaal hoe vas julle slaap in die lepellê-posisie.

As julle jul hartmonitor optimaal benut het, of nie finansieël in die posisie is om een aan te skaf nie, laai die iPhone App Bedometer af! Die Bedometer (of ‘ultimate bedroom athletics measuring tool’) is ontwikkel deur Livvie Thompson, ’n vrou van Londen, wat moeg was daarvoor dat haar kêrel so min oefening inkry. Soos die Pedometer, wat treë tel, tel die Bedometer jou bewegings in die bed. Daar is selfs ’n single-player en multi-player stelling! Sodra jou mattrassessie verby is, tik jy op die skerm wat jou ’n telling sal gee van die hoeveelheid bumps wat julle agter die blad het, die hoeveelheid kalorieë wat julle verbrand het en hoe lank dit julle geneem het!

Is jy bekommerd oor die effek van bedfiksheids-oefeninge op manlief se gesondheid? Moenie wees nie, meen wetenskaplikes. Navorsers in die VSA het bepaal dat ’n man wat vyf of meer orgasmes per week kry, ’n 50% laer kans op sterfte het. Dis dalk nou nie jou beste oefeninge nie – Harvard wetenskaplikes het bevind dat ’n mens gedurende seks sowat vyf tot tien kalorieë per minuut verbrand en dat die harttempo slegs 72% bereik van wat dit op ’n treadmill doen, maar dis beslis héélwat lekkerder!

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: askmenanswers.com; appolicious.com; answers.yahoo.com; myfitnesspal.com; imgur.com; heartzones.com; weightlossresources.co.uk; ncbi.nlm.nih.gov; ar15.com; gizmodo.com; ilyke.net; techcrunch.com