Jy weet dit reeds: Die huwelik is ‘n driehoek, met God as die bopunt. Beweeg nader aan die hoek en jy en jou maat sal vanselfsprekend nader aan mekaar beweeg. Sonder God as die middelpunt is jou huwelik egter ‘n hopelose stryd…

Promosie

In die perfekte huwelik, sou ‘n paartjie elke oggend vyfuur saam opstaan om huisgodsdiens te hou en saam te bid.

Hulle sou elke Bybelkamp denkbaar bywoon, weekliks twee kerkdienste bywoon, selgroepleiers en huweliksmentors wees.

In die perfekte huwelik sou jy en jou maat die vrug van die Gees uitleef en nooit lelik baklei nie. Julle sou mekaar onvoorwaardelik liefhê en mekaar se foute vergeef. En julle sou gewapen wees teen elke aanslag van die bose.

Promosie

Dít is die ideaal. En terwyl baie paartjies baie na aan hierdie ideaal kom, sukkel die meeste van ons om bloot te oorleef en elke nou en dan saam te bid. As God-gesentreerdheid gelyk aan perfeksie was, kon niemand dit bekom nie, maar God weet ons is menslik. So, waarna julle wel kan streef is…

1. Om na Hom te draai wanneer die water warm raak. Ons is menslik en soms louer in die geloof as ander tye. Maar dit is belangrik om te midde van die goeie én die slegte tye altyd te weet waar jou hulp vandaan kom. Om Hom in dankbaarheid te prys wanneer jy en jou maat op ‘n kruin in jul huwelik staan. En om op jul knieë te staan en smeek wanneer julle in die diepste vallei lê. Om God-gesentreerd te lewe, beteken nie om heeldag teksverse vir mekaar te kan aanhaal nie. Dit beteken wel om só te funksioneer dat jul hele lewe en huwelik rondom God se wil draai en om altyd jul fokus op die regte plek te hou. Herken jul afhanklikheid van die Skepper en leef in hierdie afhanklikheid.

2. Om jou maat jou eerste prioriteit te maak. God wil sien hoe jy mooi omgaan met die maat wat Hy vir jou gegee het. Hy wil sien dat dié maat jou belangrikste persoon is en bly. Austin Bonds skryf in die artikel What does a Christ-centered marriage even look like op Relevant Magazine se webtuiste: “Soos enige huwelik het ek en my vrou in die teenwoordigheid van familie, vriende en God besluit om ons aan mekaar te verbind vir ewig – vanaf ons eerste dag tot ons laaste dag op hierdie aarde. Binne hierdie ruimte is ons individuele en kollektiewe strewe na geregtigheid. ‘n Intensionele begeerte om mekaar te dien en onvoorwaardelik lief te hê, sal die katalisator wees wat ons na daardie punt toe dryf”.

3. Om gelyke vennote te wees. ‘n Christus-gesentreerde huwelik is een waar twee huweliksmaats mekaar dien. Op Founders Ministries skryf Phil Newton dat selfsugtigheid, luiheid en traagheid huwelike vernietig, terwyl nederige diens ‘n bewys is van huweliksmaats se liefde vir mekaar. In die praktyk, meen hy, beteken nederigheid ‘n huwelik waarin jy en jou maat met aandag luister (in plaas daarvan om mekaar te onderbreek), soek na maniere om te dien en te help en mekaar vergewe omdat jy weet dat jy net so weerloos en menslik is soos jou maat.

4. Om opofferings vir jou maat te maak. Jy wil graag die nuwe musiekblyspele sien. Hy wil graag die nuwe aksie-fliek sien. Die kans dat jy en jou maat presies dieselfde behoeftes het, is nul. Daarom is opofferings iets wat jy reeds vroeg in jou huwelik behoort te kweek. Onselfsugtigheid is een van die belangrikste bestanddele vir ‘n God-gesentreerde huwelik. Dit staan immers in Filippense 2:3-8 geskryf. Dit is nie maklik nie, maar as albei partye daarna streef om mekaar se behoeftes te bevredig, gebeur iets wonderliks: Albei se behoeftes word bevredig!

5. Om saam emosioneel, geestelik en fisiek te groei. Enige verhouding streef tog na emosionele groei. As jy ná ‘n vriendskap van 10 jaar steeds voel jy kan net vir jou beste vriend vertel wat jy hom vertel het die eerste dag van jul vriendskap, was daar mos geen groei nie… En in ons verhouding met die Here streef ons tog ook na hierdie groei. Jy doen dit deur elke dag jou huwelik van voor af te kies en daarin te belê. Spirituele dissipline (deur byvoorbeeld saam te bid, kerk toe te gaan en Bybel te lees) maak geestelike groei baie makliker, hoewel daar baie maniere is waarop jy en jou maat geestelik kan groei – kyk elke middag saam in verstomming na God se handewerk met sonsondergang en jy sal verstaan wat ons bedoel. Fisieke intimiteit behoort ook jul aandag te kry as jul missie is om ‘n God-gesentreerde huwelik te hê. Probleme in die slaapkamer kan paartjies weg van mekaar af hou en God het seks gemaak vir julle om nader aan mekaar te groei.

6. Om te kommunikeer en sodoende misverstande te voorkom. Een van die grootste dilemmas in ‘n huwelik, is misverstande! Die lyne kruis, dinge word buite konteks gehaal en kort-voor-lank ontplof die bom. Dinge word gesê wat liefs ongesproke moes bly. Ou koeie word uit die sloot gehaal, verwyte word heen-en-weer geslinger en daar kom onherstelbare krakies in die kosbare band wat julle van dag een af gevorm het. Daarom moet ons ons monde bewaak (soos in Psalm 141:3 staan) en behoorlik met ons maats kommunikeer. As julle ‘n God-gesentreerde huwelik wil hê, werk aan jul kommunikasievaardighede en as julle tekort skiet in dié verband, gaan sien ‘n kenner om julle hiermee by te staan.

7. Om jul vriendskap soos goud op te pas. Moet nooit die mens met wie jy getroud is uit die oog verloor nie. Moenie haar goeie eienskappe vergeet nie, en waardeer hom vir die mens wie hy is. Jul verhouding het dalk as ‘n vriendskap begin, en dalk in ‘n vriendskap in gegroei, maar een feit bly staan: ‘n Huwelik kan nie suksesvol wees as daar nie ‘n mate van vriendskap is nie. Hoe pas jy ‘n vriendskap op? Jy is lojaal, jy praat mooi met die ander persoon, julle doen saam pret-aktiwiteite, julle maak staat op mekaar, julle ondersteun mekaar en stel belang in mekaar. Onthou daardie eienskappe en sorg dat jul vriendskap floreer, die huwelik buite rekening gelaat.

Dit is maar slegs sewe roetes wat lei na ‘n God-gesentreerde huwelik. Die lys is lank. Sit een aand ‘n uur by mekaar, kry ‘n pen en papier en lys wat júlle dink ‘n God-gesentreerde huwelik behels. Onthou dat God in die alledaagse is, in die klein oomblikke wat verbyflits sonder dat jy werklik bewus is daarvan. Dit help nie jy hou vroom jou maat se hand vas Sondag in die kerk, maar kryt hom uit vir ‘n sukkelaar die oomblik wat julle by die deur instap nie. God-gesentreerdheid is meer van ‘n ingesteldheid as wat dit ‘n aksie is. Voor jy saans gaan slaap, dink oor die dag wat verby is en vra jouself af: Het ek God-gesentreerd teenoor my maat opgetree? Deur bewus te wees van jou rol hierin, is ‘n stap in die regte rigting….

Addisionele bronne: www.foundders.org; www.crosswalk.com; www.relevantmagazine.com; www.theprayingwoman.com; www.timewarpwife.com

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!