So, jy is net bloot nie lús nie? En manlief (en gevolglik die hele gesin) ly onder jou tekort aan libido? Jy is nie die enigste een nie. In die vorige INTIEM artikel het ons genoem dat die antwoord nié in ’n pilletjie lê nie – al belowe wie jou wat! Daar is verskeie oorsake vir ’n lae libido. Volg INTIEM se libido-artikelreeks en dis klaarpraat met die libidomonsters wat jou huweliksgeluk wil kom steel. In hierdie uitgawe gesels ons oor daardie “stemmetjies” in jou kop…
Jy lees INTIEM en besluit nét daar dat jy nou moeg is vir die “koue vrou”. Dat jy haar vir eens en vir altyd in haar eie koffer gaan pak en Kakamas toe stuur sodat jý ’n bietjie ’n huwelik van rissies en chillies kan beleef… Dit is nou hier rondom 10:00 wat jy dié besluit neem – vóór die kleuterskooljuffrou bekommerd gebel het oor die aard van jou vyfjarige se sketse, jy op die radio gehoor het die petrolprys styg al wéér en jou baas ’n vrag nuwe dokumente op jou lessenaar kom neersit het en grootoog verklaar het: “ASAP”. Wat sy immers nie besef nie, is dat álmal in jou lewe álles ASAP wil hê – en dat wanneer ’n mens agt rolle in een vrou verpak, geen multivitamien of kalmeerpilletjie sterk genoeg is om die ding te doen nie.
Teen 20:00 vanaand het jy sewe van die agt rolle vervul en bly daar nie veel van die diva-by-night oor nie. Ja, jy is moeg. Doodmoeg. Maar afgesien daarvan is jou kop net nie meer daar waar dit vanoggend om 10:uur was nie…
Libido-busters in jou kop
“My lelike lyf”
Daar is ’n baie nou verband tussen ’n lae libido en ’n negatiewe liggaamsbeeld. As jy sleg voel oor jou lyf, kan dit lei tot gevoelens van onaantreklikheid en uiteindelik tot ’n lae libido.
PLAN VAN AKSIE: Kyk in die spieël en herinner jouself aan jou positiewe eienskappe. Erken dat jou lyf wél foute het, maar dat jou foute mooi is. Respekteer jouself soos wat jy jou beste vriendin respekteer. Niemand is perfek nie, so moet dit nie van jouself verwag nie. Bestee tyd aan jou lyf. Neem ’n welverdiende borrelbad, verf jou naels, kry ’n haarsny en eet gesond. Gooi jou ou sweetpakke uit en trek mooi aan. Hou op om jouself met modelle en aktrises te vergelyk. Minder as 2% van alle mense in die wêreld val in die supermodel-kategorie. Beskou jouself as ’n mooi individu wat perfek deur God geskape is.
“My baba is prioriteit”
Post-baby coolness is ’n term wat gebruik word vir die verlies aan libido ná kindergeboorte. Ja, dit ís deels weens hormonale kwessies, maar die algemene trauma van kindergeboorte speel ook ’n rol. Ná die geboorte van ’n baba is baie vroue net te moeg vir seks. Boonop is daar soveel fokus op die baba dat daar min hiervan oor is vir manlief!
PLAN VAN AKSIE: Gesels met manlief oor hoe jy voel, sodat hy weet hy doen nie iets verkeerd nie (baie mans voel ook maar onseker na die eerste baba) en laat hom verstaan dat dit jou pla, sodat hy weet hy gaan nie vir die res van sy lewe tweede viool speel nie. Gesels met jou ginekoloog hieroor sodat sy kan kyk na jou geboortebeperking en gee dit tyd – ’n nuwe baba is baie om aan gewoond te raak. Jou lyf verander, jou denke oor jou lyf verander en skielik is jou tyd en jou liggaam nie meer net joune nie. Wees dus geduldig, maar gee jouself ook ’n keerdatum – sodat “geen seks” nie ’n permanente instelling word nie.
“Ek is ’n soet meisie”
Baie vroue is grootgemaak met die gedagte dat seks “verkeerd” en “vuil” is. As jy INTIEM lees, het jy hopelik verby hierdie denkrigting begin beweeg, maar selfs al dink jy jy is liberaal, kan hierdie Calvinistiese kettings jou nog diep in jou psige vasbind.
PLAN VAN AKSIE: As jy vermoed jou opvoeding kan dalk iets te doen hê met ’n lae libido, gaan spreek ’n sielkundige of seksuoloog, wat dit met terapie kan regstel.
“Ek kan net nie ontspan nie”
Stres is ’n groot oorsaak van ’n lae libido. As jy op spanning reageer, gaan jou lyf deur ’n klomp veranderinge om jou voor te berei vir die veg- of vlugreaksie. Deel hiervan is die vrystelling van hormone soos kortisol of epninephrine (adrenalien). As jou stresreaksie nie omgekeer word nie, kan dit bydra tot ’n toestand genaamd chroniese stres, wat kan inmeng met die hormone wat betrokke is by jou seksuele reaksie. Boonop tob jy waarskynlik heeltyd oor dít wat jou laat stres en dit skep nie ’n gunstige atmosfeer vir romantiese gedagtes nie. Dit het ’n lae libido tot gevolg.
PLAN VAN AKSIE: Pas stresbeheer toe. Makliker gesê as gedaan? Miskien, maar doeltreffende asemhalingstegnieke of (of bloot ’n paar stil oomblikke saam met God) kan jou rustig maak. As jy agterkom dat stres jou opvreet, is dit noodsaaklik vir jou om te soek na ’n plek/aktiwiteit waar jy van jou spanning ontslae kan raak. Wat van ’n stokperdjie soos gholf of mosaïekwerk?
“Ons omstandighede is nie perfek nie”
Bitter min mense kan sê dat dinge presies is soos wat dit op die oomblik moet wees. Miskien is julle besig met restourasie aan jul huis, dalk bly jou skoonouers by julle of miskien is julle finansiële omstandighede só sleg dat al wat julle in dié stadium kan bekostig ’n tweeslaapkamerwoonstel is, met die baba wat saam met julle in die kamer slaap.
PLAN VAN AKSIE: As julle jul sekslewe op ys plaas en wag vir die “regte tyd”, gaan julle lank wag. Die tyd sal nooit perfek wees vir ’n gesonde libido nie, want ’n mens se lewe loop soos getye. Jy moet leer hoe om die beste van jul omstandighede te maak. As jou skoonouers by julle woon, maak byvoorbeeld gebruik van hulle as baba-oppassers een keer per maand sodat jy en manlief kan “uitslaap”.
“Ek het spoke uit die verlede”
Daar is soveel mense daar buite wat trauma met hulle saamdra. Mense wat sit met wonde wat ’n dramatiese uitwerking op hul sekslewens het. Seksuele trauma soos molestering as kind of verkragting is soos ’n spook uit die verlede wat jou sekslewe net nie wil uitlos nie. Mense wat hiermee worstel, kan seks vermy en angs beleef gedurende seks. Baie van hierdie vroue sukkel om mans te vertrou, en ander verloor hul libido geheel en al.
PLAN VAN AKSIE: Die spook gaan nooit tot rus kom nie, tensy jy ’n berader/seksuoloog gaan spreek. Dit is noodsaaklik om hierdie trauma te verwerk en terapie kan jou help om die trauma te konfronteer en jou seksuele begeerte te herstel.
“Ek en my maat is nie op ’n lekker plek nie”
Fisieke en emosionele intimiteit is onlosmaaklik deel van mekaar. As jy dus nie emosioneel na aan jou maat voel nie, gaan dit moeilik wees om fisiek die knoppie aan te draai. Die gehalte van ’n verhouding het ’n direkte uitwerking op ’n paartjie se seksuele bevrediging.
PLAN VAN AKSIE: Stap een is altyd kommunikasie. Jy voel dalk die laaste tyd afgeskeep en dit maak dat jy nie lus is vir seks met jou man nie. Hy weet dit waarskynlik nie en dus is dit nodig vir jou om dit aan hom te kommunikeer. Praat ook oor jul behoeftes in die slaapkamer. En as julle voel asof jul verhoudingskrisis handuit ruk, gaan sien ’n professionele berader/sielkundige voor dinge buite beheer raak.
Weet die volgende:
- Die meeste vroue ervaar in ’n stadium van hul lewens ’n lae seksdrang.
- ’n Lae libido moenie verwar word met die onvermoë om ’n orgasme te bereik nie. Dié twee dinge hou nie verband met mekaar nie.
- Daar is baie oorsake vir ’n lae libido, waaronder emosionele oorsake, fisieke oorsake, medikasie, hormone en dies meer.
- Jy kan INTIEM se kursus volg, maar ons doel is om jou bewus te maak van wat moontlik verkeerd kan wees. Dit berus by jou om ’n professionele persoon te gaan sien om jou te help om die probleem op te los.
Lees meer: netdoctor.co.uk, health24.com.