Wanneer jy seks het met jou maat, stel jy jouself bloot. Jy is broos en dit is wat daardie intimiteit teweegbring. Jou woorde in daardie sensitiewe oomblikke kan die atmosfeer maak of breek, só wees versigtig vir wat jy sê.

Promosie

“Fisiek is my sekslewe op koers, maar op emosionele vlak skiet iets tekort,” dink jy dalk. As alles nie op emosionele vlak is wat dit moet wees nie, gaan dit julle vroeër of later inhaal en gaan seks futloos raak. En jy wil net so graag soos sy hê dat seks spesiaal moet wees. Mans is só bedag daarop om altyd die régte ding te sê dat hulle vergeet dis soms beter om net eenvoudig jou smoel te hou. Hier is ’n paar dinge wat jy nié ná die tyd vir haar moet sê nie – dit sal help sorg dat seks nie later sommer net seks is nie.

(Sug . . .) Stilte

Wat jy ook al doen – moet net nie stilbly nie! Deur die eeue heen was en is die grootste fout wat ’n man in die slaapkamer kan maak, om ná die tyd op sy sy te draai en te begin snork. As jy regtig aan niks kan dink om te sê nie, sê jou gunsteling Shakespeare-sonnet op – amper énigiets is beter as om stomgeslaan na die plafon te lê en kyk.

Promosie

“Jy het die lekkerste/mooiste/begeerlikste lyf . . .”

Komplimente is altyd welkom – vroue hou (net soos mans) daarvan om te hoor hoe begeerlik hulle is. Maar wees baie versigtig. Jy wil nie hê sy moet dink jy is net oor haar borsies en ellelange bene vir haar lief nie. Gebruik dié een net as julle seksuele verhouding reeds gegrond is op ’n gesonde, emosionele basis. ’n Goeie idee is om dié kompliment te plant ná jy iets moois gesê het wat ’n bietjie dieper strek as die uiterlike.

“Seks sal nooit dieselfde wees as dit nie met jou is nie”

Dit klink dalk na die regte ding om net ná seks kwyt te raak, maar wees baie versigtig hóé jy dit sê – en miskien is dit beter om dit glad nie te sê nie. Netnou vermoed sy jy sê dit omdat jy haar in jou agterkop met ander vroue vergelyk, of dat jy nog altyd daarvan gedroom het om inderdaad met iemand anders seks te hê. Vroue is verbeeldingryke wesens!

“Die plafon moet geverf word”

Of iets dergeliks, soos dat julle miskien die sitkamerstel nuut moet laat oortrek of dat jy lankal bevordering moes gekry het by die werk of jy dink nie die Stormers gaan dit hierdie seisoen maak nie. Dink ’n bietjie: Hoe sal jy voel as sy ná passievolle seks kla oor die gras wat gesny moet word of hardop wonder wat jy vir haar vir haar verjaardag gaan gee?

“Jy is nie meer so passievol soos voorheen nie”

Natuurlik moet julle eerlik met mekaar wees as jy of sy nie meer tevrede is met die ander een se bedprestasies nie, maar elke ding het sy plek en tyd. Minute nadat julle seks gehad het, al was dit hoe teleurstellend, is nié die regte tyd nie.

“Vat môre my kredietkaart en koop vir jou ietsie moois”

Of: “Jy verdien ’n naweek by ’n spa”, of “Net môre koop ek vir jou daardie peperduur hangertjie wat jy nog altyd wou hê.” As jy jou vrou laat voel sy word betaal vir seks, sal jy lank moet wag voor sy weer daardie sexy rooi dingetjie spesiaal vir jou aantrek (óf sy gaan dit aantrek sodat sy jou kredietkaart in die hande kan kry!). Jy dink nie nou met jou hart of jou verstand nie, en jy gaan spyt wees sodra jy jou kredietkaartrekening kry!

“Ek is jammer as ek jou vanaand teleurgestel het”

Jy was nie hierdie keer ’n resiesperd tussen die lakens nie, maar almal het soms ’n, wel, af dag. Sy sal begryp sonder dat jy enigiets hoef te sê en ’n régte man vra buitendien nooit om verskoning wanneer dit by seks kom nie. Druk haar styf teen jou vas en sê vir haar hoe lief jy vir haar is. Ons weet nie hoekom nie, maar strelende aanrakings en mooi woordjies is vir baie vroue net so vervullend soos seks.

“Miskien is dit tyd om weer jou toonnaels te sny / beenhare te skeer / hare te laat kleur”

Dis nie lekker om met jou eie kussing versmoor te word nie, al het jy dit as ’n grap bedoel.

“Spanner by die werk sê sý vrou kan vier keer ná mekaar . . .”

Moet nooit jou vrou met ’n ander vrou vergelyk nie, veral nie wanneer dit by seks kom nie en veral nie net nadat julle seks gehad het nie. Hoe sou jy in dieselfde posisie gevoel het? Boonop gaan dit haar laat dink jy bespreek jul sekslewe met Spanner by die werk . . . en geen vrou wil op dié manier die onderwerp van bespreking wees nie.

Sê dit met gevoel

Hier is iets wat jy kán “sê”. Ons het dit miskien nie letterlik bedoel toe ons gesê het niks is so erg soos om heeltemal niks te sê nie – jy kan baie sê sonder om jou mond oop te maak. Fisieke kontak eindig nie nadat julle ’n klimaks gehad nie. Druk haar teen jou vas en streel haar lig, maar beslis oor haar hele lyf. En soen haar oral: Naspel is net so belangrik soos voorspel. Dit sal haar oortuig hoe lief jy haar het en hoe jy haar liggaam bewonder. Sy sal dol wees daaroor!

 

Deur JB Roux