In dié artikel wys ons jou keer op keer waar op jul lywe jul prutplekke is en ook wáár julle met hierdie prutplekke kan eksperimenteer – dit is, in kort, jou sekskaart!

VIR HOM:

Die vertebrae in die holte van jou vrou se kleinrug, reg bokant haar agterstewe, bevat blykbaar verskeie senuwees wat direk met jou genitalieë verbind is, sê Mark Michaels en Patricia Johnson, mede-outeurs van The essence of Tantric Sexuality.

Die sakrum is nie die stuitjie nie, maar die driehoekige been aan die basis van die ruggraat en teen die boonste gedeelte van die bekkenholte. Die elektriese stimulasie van hierdie senuwees kan blykbaar ’n orgasme by soveel as 91% vroue ontketen!

Promosie

Hoe doen jy dit? Laat haar op haar maag lê en druk met jou handpalm op hierdie area. Jy kan dit ook ’n ligte karate-kapstyl massering gee. Dit sal hierdie senuwees opwarm en hitte in die genitalieë opbou – perfekte voorspel vir belowende seks, meen Michael Gach, stigter van die Acupuncture Institute (redbookmag.com).

VIR HAAR:

Goed, ons besef dit verg nie veel om manlief in die bui te kry nie, maar het jy ooit gedink dat ’n gewone haarwas die ding kan doen? Een van die belangrikste erogene sones (wat dikwels geïgnoreer word) is die kopvel, wat hoogs sensitief is vir aanraking en temperatuur.

Moet dus nie vir manlief haarsalon toe stuur nie, maar sê jy wil hom bederf met ’n haarwas en ’n kopmassering – by die huis. Gebruik ’n sjampoe met ’n lekker, sensuele geur en span jou ferm vingers (gebuig soos ’n krap) in. Onthou om ook afwaarts, na die nekgedeelte toe, te masseer en moenie ’n sentimeter oorslaan nie.

Hou jou bewegings stadig en diep, en jy sal die hormoon stimuleer wat met orgasme skakel. As jy hom nou waarlik wil laat ril van plesier, trek liggies aan sy hare voordat jy summier ophou en op sy skoot gaan sit vir ’n vurige soen!

TRAMPOLIEN TOE:

As matras-aksie só suksesvol is, hoeveel meer pret kan ’n trampolien nie wees nie, reg? Dit klink soos pret en dis (waarskynlik) in die buitelug, wat dit soveel meer gevaarlik-lekker maak – maar speel julle jul kaarte reg en hou jul klere strategies aan, kan die bure van ’n afstand af dink dat julle net speel.

Die beste posisie vir trampolien-seks is waarskynlik die sendeling-posisie – bloot omdat daar ook ’n risikofaktor aan trampolien-seks verbonde is. As julle dit nie rustig genoeg benader nie, kan die hop-aksie téén julle inwerk – tot só ’n mate dat manlief se penis kan uitglip en ’n . . . eh . . . botsing julle na noodgevalle toe laat jaag, waar hy natuurlik sal moet verduidelik hoe hy sy penis gebreek het.

Só met dié dat trampolien-spring deesdae weer baie in die mode is, oorweeg miskien om net daarop te oefen en miskien ’n bietjie te lê en vry, vóór julle inbeweeg na die meer stabiele en getroue matras toe. Tensy dít vir julle heeltemal te vervelig is . . .

 

Deur Annelize Steyn