Jy kyk na die reis wat agter julle lê. ’n Affair het byna jou huwelik verwoes, maar julle is vasberade om dit nog ’n kans te gee. Intimiteit is egter ’n groter probleem as wat jy gedink het dit sou wees . . .
Om fisiese intimiteit en die seksuele verhouding te herstel nadat daar ontrouheid was, is seker een van die moeilikste en mees emosionele dinge waardeur ’n mens kan gaan. Veral wanneer die buite-egtelike verhouding ook ’n seksuele verhouding was, of selfs ’n eenmalige seksuele interaksie . . .
Trauma en selfbeeld
Die blote gedagte aan intimiteit nadat jy van ontrouheid bewus geword het, kan lei tot gevoelens van angs, onsekerheid, woede of begeerte na intimiteit. Dit is ook so dat seksuele intimiteit dikwels meer intens en meer gereeld is ná so ’n trauma. Dit is waarskynlik as gevolg van die oerinstink om dit wat “joune” is te beskerm.
Die verhouding, sowel as albei maats, gaan deur intense trauma en ’n verskeidenheid emosies van skuldgevoelens, skaamte en woede, tot angs en onsekerheid. Natuurlik het dit ook ’n impak op veral die selfbeeld van die maat wat te na gekom is.
Die pad na herstel is uniek
Daar is geen regte of verkeerde manier om seksuele intimiteit te hervat nie. Onthou, alle mense hanteer trauma op verskillende maniere en gewoonlik is daar eers ontkenning by albei maats en dan onderhandeling, hartseer, woede en uiteindelik aanvaarding. Hoeveel tyd elke persoon in elke fase spandeer, is baie individueel.
’n Paartjie kan nie die trauma van ontrouheid alleen hanteer nie en professionele hulp is baie belangrik. ’n Verhouding kan sterker aan die ander kant uitkom, maar dit hang af van hoe julle dit hanteer. Wat die seksuele betref, gaan doelbewuste, deurdagte besluite geneem moet word oor emosionele en seksuele intimiteit, asook die genesingsproses van die spesifieke verhouding.
Luister wel na jou gut feel en intuïsie in terme van die hantering hiervan, en besef dat albei van julle seer het. Geen persoon moet ooit voortydig gedruk voel om weer seksueel te verkeer nie. Jy moet voel dat jou lyf en jou emosies reg is daarvoor.
Laat toetse doen
Indien ons na die liggaam spesifiek kyk, is dit belangrik (ongeag die aard en hoeveelheid van seksuele kontak) dat albei maats vir toetse vir seksueel oordraagbare infeksies (SOI’s) gaan. Onder geen omstandighede kan seks daarsonder hervat word nie.
Vandag is daar ’n verskeidenheid SOI’s wat deur orale seks alleen oorgedra kan word. Albei moet ook vir die menslike papilomma-virus getoets word. Weet dus ’n trouring beveilig jou nie teen SOI’s nie. Besef ook dat die emosionele spanning ’n impak op die lyf het. Op ’n emosionele vlak kan ’n mens ook angstig en depressief raak. Praat dus met jou dokter indien jy sulke simptome ervaar.
Seksuele disfunksies soos ’n verlies aan seksuele behoefte (hipo-aktiewe seksuele begeerte), probleme met seksuele opwekking of die onvermoë om ’n orgasme te kry, is algemeen. Soms voel die lyf “dood” of “gevries”, wat ’n teken van trauma is.
Die rol van jou hart
As ons na die “hart” of emosies kyk, kan jy voel asof jou hart gebreek is omdat die lewe soos jy dit geken het nie meer daar is nie. Daar is ’n verlies in terme van die prentjie wat julle oor julle huwelik gehad het.
Die persoon wat die ander verhouding gehad het, kan ook emosies van verlies in terme van die derde party ervaar. (Dit is normaal as daar ’n langer en emosioneel intieme verhouding was.) Natuurlik is daar ook gevoelens van verwerping en “ek is nie goed genoeg nie” by die maat. Dit is dikwels ’n baie eensame pad.
Dit neem die meeste mense ten minste ’n jaar om op liggaamlike en emosionele vlak regtig gesond te word. Die vraag moet ook gevra word wat die motivering of redes vir seks is. As dit is om jou maat te probeer behou, te manipuleer of jou skuldgevoelens beter te maak, gaan dit meer skade berokken.
Seksuele intimiteit kan egter ook kommunikeer waar woorde soms tekortskiet. Liefde en verbintenis word deur seksuele intimiteit gesimboliseer en kan nuwe energie in ’n seer verhouding blaas.
Stappe tot seksuele intimiteit ná ’n affair:
- Besef julle gaan ’n nuwe verhouding moet bou – op ’n nuwe fondasie en nie op die ruïnes van die vorige verhouding nie.
- ’n Gesonde, positiewe en getroue seksuele verhouding is deel van daardie fondasie. Fokus op julle twee en nuwe seksuele intimiteit. Verban enige beelde van jou maat tydens seks met iemand anders uit jou gedagtes.
- Fokus op die “hier en nou”. Julle het weer mekaar en die huwelik gekies.
- Beweeg weg van “wie was reg en wie was verkeerd”, maar vergewe mekaar en jouself. Gee en ontvang empatie.
- Om mekaar se vrese en seer te deel en te voel jou maat verstaan – dit is die kern tot genesing op alle vlakke.
- Begin weer voor met intimiteit. Hou hande vas, soen en druk. Dit is die eerste stappe nadat die emosies van woede en skok hanteer is.
- Begin bou aan vertroue. Daar kan nie seksuele intimiteit wees indien ek jou nie genoeg vertrou om weerloos by jou te wees nie.
- Hanteer seksuele disfunksies soos erektiele disfunksie of ’n gebrek aan begeerte of orgasme soos dit gebeur en kry professionele hulp.
- Kry individuele psigoterapie om deur jou eie seer en onsekerhede te werk.
Deur Dr Elmari Mulder Craig
Onthou ook, wat die geestelike aanbetref, (soos in 1 Kor. 6:16 in die MSG staan), dat seks meer om die lyf het as blote vel-teen-vel kontak. Dit is net so ’n spirituele misterie as wat dit ’n fisieke feit is. Twee word een.
Wanneer ontrouheid ’n huweliksbed besoedel het (die Bybel gebruik ’n fontein as beeld), het ’n geestesband gevorm wat gebreek moet word – ook in die geestesrealm. As hierdie fontein weer by die kern skoongemaak word, kan die fontein weer suiwer begin oorborrel. Gesels dus met ’n leraar wat julle kan bystaan in jul poging om – ook geestelik – van nuuts af te begin. – INTIEM-redaksie