Jy het dit al gehoor: Jou brein is jou belangrikste seksorgaan! Hoekom? Want as dié ou nie saamspeel nie, gaan niks anders jou lyf oortuig dat seks op die agenda is nie!

Promosie

Menige besige ma kan hiervan getuig: As jou kop gevul is met ’n eksamenrooster, ’n sportprogram en ’n inkopielysie, is daar min ruimte vir gedagtes oor swart kant, satynlint en dít wat daarmee gepaard gaan . . . jy vóél dit net nie. Jy is nie dáár nie en selfs die gedagte aan jou en manlief op die kombuisvloer met ’n botteltjie spuitroom doen dit nie vir jou nie.

En nee, dit gaan nie net oor ’n kopskuif nie (as dit maar so maklik was!). “Die wortel van ’n vrou se begeerte is kompleks, maar daar word geglo dit begin in haar brein,” meen Laura Berman, seks- en verhoudingskenner op empoher.com. “Die brein is die sentrum vir gedagtes en emosies, maar dit is ook die tuiste van ’n komplekse senuweestelsel, hormone en ander chemikalieë wat seksuele begeerte kan beïnvloed.”

Volgens ’n Australiese studie in die Journal of Sex and Marital Therapy het sowat 28% vroue en 53% mans tussen die ouderdom van 35 en 54 gesê hulle wil graag meer seks hê – wat beteken dat die helfte van die paartjies nie op dieselfde golflengte was nie.

Promosie

Mans en vroue se breine verskil nogal merkbaar, met die hipotalamus (die gedeelte wat reageer op sekshormone) wat by mans twee en ’n half keer groter is as by vroue. Vroue het ’n groter corpus callosum en met meer breinaktiwiteit is Evas beter daarmee om voortdurend te dink , lysies te maak en te multi-task. Hulle is ook meer sensitief vir reuke en aanraking.

Omdat mans se breinaktiwiteit laer is as vroue s’n en hul testosteroonvlakke hoër is, verg dit min om ’n man fisiek aan die gang te kry, terwyl vroue nodig het om gepamperlang en bemoedig te word (dis waar Adam se eersteklas voorspel ter sprake kom!). Omdat vroue hoër oksitosienvlakke as mans het, is voorspel super-belangrik.

Vir mans om te bond het hulle seks nodig en vir vroue om seks te wil hê, het hulle bonding en intimiteit nodig! Dilemma? Nie noodwendig nie. Wanneer jou brein propvol is met allesbehalwe seks, is dit moontlik om hom so ’n bietjie te truuk . . .

  1. Stel vas wat jou van 0 tot by 100 kry – en vinnig! Soms is daar bloot net nie genoeg tyd of energie vir urelange voorspel, lang warm baddens en kersligetes nie. Dit sal egter ook nie deug om van een perfekte romantiese afspraak tot die volgende te leef nie (in dié geval sal seks yl gesaai wees). Stel dus vas wat vinnig passie by jou gaan ontlok. Is dit ’n hygroman? Manlief se hande op jou heupe? Latyns-Amerikaanse musiek? ’n Sexy en stoute uitrusting? Lubrikant? Ken jou lyf goed genoeg om te weet waarop jy vinnig reageer en hou dit byderhand vir tye wanneer die seksdroogte dreig!
  2. Hou kiekies van jou maat in jou selfoon se galery. ’n Studie toon dat om vir 30 sekondes na ’n foto van jou maat te kyk, areas in die brein aktiveer wat met die vervaardiging van dopamien gepaard gaan (dopamien help om die libido te verhoog), volgens womenshealth.com.
  3. Hou dinge roetinevry. Daar is nie verniet ’n gesegde wat lui “A change is as good as a holiday” nie. Die opwinding van ’n verrassing of die onverwagse kan van seks ’n heel nuwe speletjie maak. Dit is getroudes se grootste uitdaging – om nie toe te laat dat jou sekslewe saai raak nie. Verras jou maat met ’n nuwe uitrusting, nuwe onderklere, ’n nuwe posisie, ’n nuwe tegniek of ’n nuwe plek, en kyk wat gebeur.
  4. Begin vroeg reeds met die voorspel. Stel jou alarm vir agtuur en stuur vir jou maat ’n sexy foto van jouself  (hou dit maar redelik subtiel, onthou sosiale media is gevaarlik!) en stuur weer een teen eenuur. Om seks heeltyd in jul agterkoppe te hou, ontketen ’n stroom van hormone wat die libido verhoog, soos dopamien, serotonien en testosteroon, meen seks- en intimiteitsafrigter Will Fredericks op womenshealth.com.
  5. Klim in jou maat se hippocampus! Dr Daniel Amen, ’n neurowetenskaplike en hoof van die psigiatriese behandelingsentrum in Newport Beach, Kalifornië, sê ’n gesonde brein kan jou sekslewe ’n hupstoot gee. Hy beveel aan dat jy in jou maat se hippocampus (die geheuesentrum) klim deur liefdevolle oomblikke te verewig in die vorm van foto’s, briewe, kaartjies en gedigte.
  6. Vra jou maat vir ’n voetmassering! Ja, die area van jou brein wat seksuele opwekking voel, is geleë direk langs die area wat die voete voel, meen Barry Davenport op stevenaitchinson.co.uk.
  7. Maak jou koskaste vol met die regte bestanddele. Die regte kossoorte (soos oesters, vye, avokado’s en amandels) verhoog die phenylethylamine, ’n neurotransmitter-chemikalie in die brein wat jou op iemand laat verlief raak. Dit is ’n natuurlike vorm van amphetamine wat die areas in die brein oorspoel wat verband hou met seksuele opwinding.
  8. Trek hom nader as hy van die gym af kom! Studies toon dat om jou maat se sweet te ruik (ja, regtig!), hormoonvlakke ’n hupstoot kan gee sodat jou seksuele begeerte lig!

Hoe lekker is dit nie om te weet dat sekere doelbewuste aksies jou kan help om sekere hormone vry te stel nie? Jy kan dus jou libido aanskakel! (Onthou egter dat ’n lae libido ook ’n komplekse probleem kan wees wat nie bloot met ’n paar truuks herstel kan word nie en dat daar diepliggende oorsake kan wees wat liefs deur ’n psigoterapeut of seksuoloog behandel moet word.)

Beproef dus tegnieke soos bogenoemde, en onthou dat fisieke oefening ook een van daardie wondermiddels is wat enigiets (ook die libido!) ’n hupstoot kan gee. Jaag jou maat om die huis en kyk of ons reg is!

 

Deur Annelize Steyn