Ek en my maat beleef ’n baie slegte tyd in ons huwelik. Ons is slegs ’n paar maande getroud en ons ervaar probleme met konflikhantering, kommunikasie en soveel ander dinge. Dit is net asof dinge nie wil “jel” nie.

Promosie

Ek glo in die krag van terapie, maar my maat is heeltemal daarteen gekant en kom uit die skool van “Ek is nie mal nie, hoekom moet ek ’n terapeut gaan sien?” Hy stem saam dat ons huwelik hulp nodig het, maar glo ons gaan hierdeur werk. Ek weet hoe gevaarlik dit is om dinge net te los, maar hoe doen ek dit as hy nie wil saamwerk nie?

Wilmé Steenekamp antwoord:

Die heel eerste ding wat ek moet sê, is: “Julle klink só normaal!” Die meeste paartjies sukkel vir die eerste ruk na hulle getroud is om aan te pas by die nuwe omstandighede. Dit is asof ’n mens se onderbewussyn in ’n heel ander rat gaan sodra ’n mens weet die huwelik is nou beklink. Dus, om mee te begin – wees geduldig met julself. Verwag dat dit aanvanklik vir julle moeilik gaan wees en gaan voel asof dinge nie “jel” nie.

Promosie

’n Mens moet egter nie dinge wat pla net los nie – dit is waar. Hier is ’n paar stukkies raad wat jy kan toepas terwyl jy julle kans gee om aan te pas:

  • Probeer om dinge wat hy sê nie te persoonlik op te neem nie. Probeer net luister en verstaan wat sy realiteit is, sonder om dadelik te reageer.
  • Wanneer iets jou pla, probeer om dit aan hom oor te dra sonder om hom aan te val, sonder om krities of sarkasties te wees en sonder om eise te stel. Dis wanneer “ek-stellings” (“Ek voel . . .”, “Ek sal hou daarvan as . . .”, “Ek het nodig dat . . .”) baie handig kan wees. As jy dit só doen en hy raak verdedigend, is dit belangrik dat jy moet kalm bly en hou by “Ek-stellings”.
  • Lees boeke oor kommunikasie in verhoudings – voorbeelde is boeke oor die vyf liefdestale of Imago. Al stel hy nie nou belang in professionele hulp nie, beteken dit nie jý kan jouself nie beter toerus nie. Dit maak alreeds ’n verskil wanneer een persoon in ’n verhouding meer vaardighede aanleer.
  • Gaan vir individuele terapie. Dit gee jou insig in jou eie gedragspatrone, behoeftes en kan jou sodoende help om meer konstruktief in verhoudings op te tree.
  • Fokus op die dinge wat steeds reg werk tussen julle, en spandeer meer tyd en energie aan daardie dinge.
  • Spandeer tyd aan dinge wat julle in die eerste plek na mekaar toe aangetrek het.
  • Vermy kras, kritiese en beledigende taal teenoor mekaar. Dis okay om te sê “Ek is kwaad vir jou”, maar dis nie okay om te sê “Ek haat jou” nie.

Ek kan nie ’n tydlimiet voorstel vir hoe lank julle dinge self moet probeer regmaak nie, maar as dit voel of julle verder eerder as nader aan mekaar groei oor ’n redelike tydperk, sal dit tog beter wees as julle professionele hulp kry – nie omdat enigeen van julle “mal” is nie, maar omdat verhoudings gekompliseerd is en omdat mense nie altyd so goed toegerus is om die haakplekke uit te sorteer nie.