Kyk, dis nie asof ons probeer sê daar is iets verkéérd nie. Jy het darem nog nie jou vrou hoor kla nie, of hoe? Maar hoekom tevrede wees met wat jy het as ons jou kan help om “Beter! Groter! Sterker!” ereksies te kry? Dit sal nie net jou vrou laat spin van genot nie – dink net wat dit vir jou ego kan doen.
WEET WAT JY EET EN LEEF REG
Die goue reël is: As dit goed is vir jou hart, is dit goed vir jou ereksies. Min vet, min koolhidrate en dieetaanvullings soos vitamiene is ’n goeie idee en glo dit of nie, bly liefs weg van sjokolade met ’n hoë kakao-inhoud. Dink: Cholesterol. Daar is ’n besliste verband tussen hoë cholesterolvlakke en swakker gehalte ereksies. Oorgewig beïnvloed ook die gehalte van jou ereksies, maar jy kan dié probleem omkeer deur eenvoudig gewig te verloor. Laat toets jou bloeddruk en vra jou dokter hoe om te maak as dit te hoog is. Oor rook: Hoef ons meer te sê? Nóg ’n groot, vet, klipharde rede om dadelik op te hou!
VERMY STRES
Daar is baie redes om stres te vermy. Stres het ’n negatiewe impak op manlike hormone én vernou die bloedvate wat bloed na jou penis moet laat vloei. Stres verhoog ook die vrystelling van adrenalien wat, weereens, bloedvate laat vernou. Dit lei ook tot hoë bloeddruk en hoë cholesterol.
IS JY SENSITIEF?
’n Sensitiewe penis kan lei tot vroeë ejakulasie en gevolglik ’n ereksie wat nie te lank duur nie. Kondome maak die punt van jou penis minder sensitief en is ’n goeie oplossing. Kies goeie gehalte kondome wat styf pas. Kondome – veral as jy haar vra om te help om dit aan te sit – kan lekker kinky wees!
MEDIKASIE
Angstigheid en depressie-simptome is nié goeie nuus vir ereksies nie – ook nie die medikasie waarmee dié siektes behandel word nie. As jy ervaar dat antidepressante jou ereksies en sekslewe in die algemeen ondermyn, vra jou dokter om die medikasie te wysig. Ander tipes medikasie kan ook ’n rol speel – gesels met jou dokter as jy onraad vermoed.
SKOOTREKENAAR
Wees kieskeurig oor wat jy op jou skoot sit. Die lapdog sal deug. Die laptop nie. Wanneer jy volgende keer ’n skootrekenaar op jou, wel, skoot gebruik, onthou: Die hitte van die rekenaar inhibeer nie net die produksie van spermselle nie, maar kan ook ’n negatiewe uitwerking op die gehalte van jou ereksies hê.
BORSER JOU TANDE
Die tandemuis het jou dalk nooit veel betaal nie. En daar was die een of ander haas by die skool wat julle oor tandesorg geleer het, maar steeds verkies jy om net een keer per dag te borsel. Boonop is vlos ’n irritasie. Die uiteinde? Vroulief deel nie soene uit nie! En dis nie al nie . . . daar is ’n direkte verband tussen tandvleissiekte en erektiele disfunksie (ED). Dis bewys dat mans met erektiele disfunksie drie keer meer geneig is tot tandvleissiekte as ander.
OEFEN
Dit kan nie kwaad doen om nou en dan om die blok te hardloop nie en jy kan bench so hard soos jy wil, as jou kernspiere nie bult nie, sal . . . eh . . . Junior ook nie. Maagoefeninge sal jou maagspiere versterk sodat dié spiere jou ereksie in plaas van jou boepens ondersteun.
NIKOTIEN EN ALKOHOL
Hier is die ou sondaar weer: Rook onderdruk bloedsirkulasie en is nie bevorderlik vir ’n menéér van ’n ereksie nie. Wat alkohol betref: Te veel kan jou penis minder gevoelig maak en jou prostaat laat vergroot. Een of twee glasies is oukei, maar draai briek aan as jy . . . eh . . . gróót planne het vir vanaand.
SWAARTEKRAG
Wie sou dit kon dink, maar swaartekrag kan ook ’n rol speel in die gehalte van jou ereksies. Seksposisies waarin jy regop staan of met jou onderlyf óndertoe lê, sal veroorsaak dat meer bloed na jou penis toe vloei. Kan jy dink dat ’n eenvoudige wetenskaplike beginsel sóveel invloed op jou sekslewe kan hê? Só eenvoudig!
TE VEEL VAN ‘N GOEIE DING . . .
Té veel seks (en masturbasie) kan die gehalte van jou ereksies minder indrukwekkend maak – veral oorhaastige, verbeeldinglose seks. Jy weet hoe lekker is daardie stuk vetterige biltong as vroulief jou vir ’n hele paar dae net haaskos gevoer het. Dieselfde geld vir seks. Dit kan die moeite werd wees om jouself so nou en dan ’n bietjie in te hou!
Deur JB Roux
Addisionele bronne: http://www.askmen.com/top_10/ dating/10-steps-to-a-strongerlonger-erection_1.html