Droom jy van ’n bikinilyfie vir die somer, of wil jy net weer vol energie en lewenslus voel? Dan is dit nóú die tyd om plannetjies te maak. Jou heel eerste stap? ’n Detoks!
HOE WEET EK ’N DETOKS IS VIR MY?
Om te detoks, beteken bloot dat jy ontslae raak van gifstowwe wat jy elke dag inneem deur die dinge wat jy drink en eet, en selfs die lug wat jy inasem. Dit is waar dat ons liggame geskape is om self van gifstowwe ontslae te raak, maar as gevolg van ons moderne leefwyse plaas ons gans te veel druk op ons liggame. Die resultaat is dat ons konstant simptome ervaar soos:
- Onverklaarbare moegheid.
- Hardlywigheid en winderigheid.
- Allergieë en infeksies.
- Velprobleme.
- Probleme met menstruasie.
- Sakkies onder die oë.
- Verlies aan konsentrasie, geheueprobleme.
- Sukkel met gewigsverlies.
Al hierdie simptome kan boonop ’n bedpret-bederwer wees, want wie wil vroetel tussen die lakens as hulle bleh voel en lyk? So, kom ons kyk hoe jy ’n suksesvolle detoks kan doen.
WAAR BEGIN EK?
Daar is verskeie detoks-programme wat jy kan probeer. Sommige is baie drasties en duur lank, terwyl ander eenvoudiger is. Voor jy besluit om jouself te verhonger of net van vrugtesap te lewe, begin eers reg by die begin – die uitskakeling van gifstowwe in jou daaglikse lewe.
Stap 1: Raak ontslae van die alkohol, koffie, sigarette, verfynde suikers en versadigde vette in jou kruidenierskas.
Stap 2: Kyk na die inhoud van jou skoonheids- en huisskoonmaak-produkte. Sommige van die chemikalieë in dié produkte is nie goed vir jou nie, soos Paraffien-bevattende rome; nie-biogradeerbare skoonmaakmiddels; preserveermiddels en hormone in kos (koop liewer organies). Soek vir meer natuurlike opsies en roetines. Alternatiewelik, probeer net om so min as moontlik kontak met hierdie produkte te hê tydens jou detoksproses.
Stap 3: Stres, veral in oormaat, laat die liggaam hormone afskei wat detoksifikasie verstadig. Hoe kan jy dit aanspreek? Oefening is die heel beste antwoord. Dit is belangrik om te onthou dat, gedurende die eerste paar dae van ’n detoksifikasieprogram, die gifstowwe in jou sisteem jou moontlik onwel gaan laat voel. Dus, kies oefeninge wat nie te drasties is nie, soos byvoorbeeld joga en sexcercise. Wanneer jy meer energie het, kan jy kyk na drie oefensessies van 30 minute elk (of selfs meer) per week.
WAT IS MY DETOKS-NEE’S?
Oorslaan van etes: Jy mag dalk dink dat jy vinniger gewig gaan verloor as jy etes oorslaan, maar dit kan eintlik veroorsaak dat jy gewig optel. Hoekom? Eerstens verstadig dit jou metabolisme. Tweedens (en dit is die gevaarlikste een) gaan jou verhongering jou een of ander tyd na kalorieë laat gryp en jy gaan jouself totaal en al ooreet. Dus, moenie probeer detoks deur geen voedingstowwe in te neem nie!
Te min slaap: Volwassenes het gemiddeld sewe tot nege ure slaap nodig. Slaap gee jou sisteem kans om te reboot sodat jy môre weer die energie en breinkrag het om te funksioneer. Jy gaan veral genoeg slaap benodig tydens jou detoksprogram sodat jou liggaam kans het om die gifstowwe uit te werk.
TOP SES WENKE VIR ’N NATUURLIKE DETOKS
Vesel help om jou liggaam te reinig. Bruin rys, beet, radyse, artisjokke, kool, broccoli en seewier is uitstekende detokskos.
Verhoog jou daaglikse inname van natuurlike diuretika. Dit is voedsel wat die spoed vermeerder waarteen vloeistowwe jou liggaam verlaat en help jou om te de-bloat. Dit sluit in komkommer, aspersies, suurlemoen, groen tee en enige voedsel met ’n hoër konsentrasie van magnesium, kalium en vitamien C.
Twee van die belangrikste vitamiene wat jy benodig, is vitamien C en D. Vitamien C (te kry in donkergroen groente, sitrusvrugte en papajas) help die liggaam om glutathione te produseer – ’n lewer-verbinding wat gifstowwe verdryf. Vitamien D (te kry in olierige vis, kaas en eiergele) sal ook help om jou lewer gesond te hou.
Drink twee liter water per dag. Om dinge ’n bietjie interessanter te maak, voeg gerus skyfies suurlemoen of komkommer by jou water.
Haal gereeld diep asem. Dit laat suurstof toe om beter deur jou hele stelsel te sirkuleer.
Sweet gifstowwe uit in die stort. Neem ’n baie warm stort vir vyf minute, gevolg deur koue water vir 30 sekondes. Doen dit drie keer na mekaar en klim dan in die bed vir 30 minute.
DIE BESTE OEFENING VIR ’N BIKINILYFIE
Hierdie oefening fokus op jou maag en boude. En nou gaan jy bloos: Hierdie oefening is ook ’n baie stoute seksposisie!
Lê op jou rug met jou knieë opgetrek en jou voete plat op die bed. Lig jou heupe en boude op. Jy kan jou skouers op die grond hou, jou stut op jou elmboë of jou arms reguit maak en jou stut op jou hande.
Vir gewone oefening: Skop jou bene beurtelings uit asof jy op een plek marsjeer. Tydens seks: Manlief kniel tussen jou bene, plaas sy hande onder jou boude en laat waai!
Deur Thalia Brüssow
Addisionele bronne: womenshealthmag.com, fitnessmagazine.com, life.gaiam.com