Manne, as julle smoking wil wees in die slaapkamer, is dit nodig dat julle die smokes bietjie opsy skuif. Rook kan erektiele disfunksie (ED) veroorsaak…

Soos jy seker al baie gehoor het, is dit die hoeveelheid bloevloei na die penis wat maak dat jy jou belangrikste liggaamsdeel seksgereed kan kry of nie (Jy gee vroulief se oulike boudjies een kyk en jy voel hoe pomp die bloed deur jou lyf!). Rook is een van die dinge wat plaak in jou are laat opbou en jou bloedvloei belemmer – dus kan jy die petrolpedaal van jou Ferrari plat trap tot teen die vloer, maar in plaas van flat out wegtrek, opeindig met ’n flat.

Wat is die verwantskap tussen ED en rook?

Erektiele disfunksie (ED) is ’n algemene gesondheidsprobleem wat miljoene mans wêreldwyd affekteer. Dit het ’n sterk negatiewe invloed op interpersoonlike verhoudings, welstand en kwaliteit van lewe.

Promosie

Volgens ‘n wetenskaplike studie op medscape.com, het hulle bevind dat die verhouding tussen ED en rook meer as net ’n verbygaande fling is. Om die waarheid te sê, dit is ’n ongesonde simbiose.

Diegene wat gerook het, het ’n hoër risiko tot ED gehad as die nie-rokers. Die manne met ED was ook meer geneig om te begin rook as dié vry van ED. Die afleiding was dus dat rook ED veroorsaak, en dat dit op sy beurt weer slegte rookgewoontes kan veroorsaak – moontlik as gevolg van die stres en ander psigologiese faktore wat met ED gepaard gaan.

Die herstel van ED was laer onder die rokers as onder nie-rokers, maar rokers met ED was meer geneig om hulle rokery te los as manne wat glad nie aan ED gelei het nie.

Wat gebeur met my liggaam as ek ophou rook?

Twee weke tot drie maande later: Jou risiko vir ’n hartaanval begin verminder en jou longfunksie begin verbeter. Vroulief sal moontlik ook minder kla dat jy soos ’n asbakkie proe elke keer as sy jou soen.

Een tot nege maande later: Jou hoesery en kortasem verminder. Dalk het jy nou genoeg asem dat julle die cowgirl én reverse cowgirl in een aand kan probeer?

Een jaar later: Jou risiko vir koronêre hartsiektes is die helfte minder as ’n huidige roker s’n.

Vyf jaar later: Jou kanse op ’n beroerte is dieselfde as ’n nie-roker s’n. Nou begin dinge al hoe beter klink, né?

Tien jaar later: Jou risiko tot kanker van die mond, keel, slukderm, blaas, niere en pankreas verminder.

15 jaar later: Jou kanse om koronêre hartsiektes te ontwikkel is op dieselfde vlak as ’n nie-roker s’n.

Hoe kan ek nikotien uit my lewe kry?

Daar is ongelukkig nie plek vir maybes and buts of cigarette butts in jou sekslewe nie. Die pad na herstel gaan vol dorings en skerp klippe wees, maar dit kan suksesvol gedoen word!

  • Kies ’n quit datum een tot drie weke in die toekoms. Om voor te berei vir die datum, begin wegbly van jou gunsteling rookplekke af en beplan hoe jy stresvolle situasies gaan hanteer sonder om na ’n sigaret te gryp.
  • Op jou gekose datum, raak ontslae van al die sigarette, kry dinge om jou hande besig te hou (oefen om vroulief se bra strap los te maak in ’n halwe sekonde) en beweeg in rook-vrye plekke. Nou is ook ’n goeie tyd om ’n stokperdjie op te neem of die rotstuin te maak waarvoor vroulief al so lank skimp.
  • Praat met jou dokter as jy nikotien vervangingsterapie wil probeer. Nikotienplakkers, -kougom of selfs anti-rook medikasie kan baie behulpsaam wees.
  • Maak ’n skoon breek. Moenie jouself toelaat om “nou en dan” ietsie te rook nie. ’n Verslawing aan nikotien kan enige tyd geaktiveer word, selfs jare nadat jy opgehou het.
  • Doen oefening: Dit is moeilik om te rook terwyl jy besig is om te draf, swem of vroulief bed toe te dra in jou arms.
  • Neem dit een stap, een uur en een dag op ’n slag. Die drang om te rook is gewoonlik van korte duur en sal wel weggaan – of jy nou ’n sigaret gerook het of nie.
  • Kies ’n omvattende rookprogram wat nie net op ’n enkele tegniek (soos medikasie) staatmaak nie – hoe meer ammunisie jy het om jou rookgewoontes te beveg, hoe beter. Herinner jouself gereeld aan die redes hoekom jy wil ophou – om langer uit te hou in die kooi, jou gesondheid te verbeter ensovoorts.
  • Sluit aan by ’n ondersteuningsgroep, of daag ander rokers (kollegas, vriende, familie) uit om saam met jou op te hou. Dit is baie makliker om ’n verslawing af te skud as jy jou frustrasies met ander kan deel.

 

Deur Thalia Brüssow
Bronne: quitsmoking.about.com, webmd.com