“Klitoris” is nie ’n lekker woord nie. “Vagina” ook nie, maar dit is die korrekte name van dele van jou anatomie wat vir baie lekker sensasies verantwoordelik is! Ons fokus vandag op die kleinste van die twee. Nou nie dat ons wil spog nie, maar die klitoris se senuwee-eindpunte is dúbbel dié van die penis – so, jy sit met een stukkie dinamiet!

Promosie

En op die punt van vergelykings, die klitoris is nie veel anders as die penis nie. “Uiteraard is hulle verskillend aanmekaar gesit,” sê Emily Morse, seks- en verhoudingskenner op womenshealth.com. “Maar soos die penis het die klitoris ’n glans, ’n voorvel (die klitorale kappie) en selfs ’n skag. Dit swel boonop as dit opgewek raak!” Natuurlik is ons gunsteling feit oor die klitoris dat dit geskep is vir pure genot! Jip, die klitoris het geen ander doel op aarde as om jou te laat kraai van plesier nie . . .

FEIT 1: Dis klein . . . maar nie so klein soos jy dink nie!

As jy jou feite ken, is die klitoris meer as net ’n knoppie. Dit is in die vorm van ’n wensbeen, met twee “bene” wat meer as 7cm diep in die vagina strek. Net ’n kwart van jou klitoris is sigbaar! ’n Studie in die Journal of Sexual Medicine het bevind dat 10 uit 30 vroue ’n probleem gehad het om ’n klimaks te bereik. Hierdie tien vroue het klitorisse gehad wat verder vanaf hul vaginale opening geposisioneer was.

Promosie

FEIT 2: Dit is ’n sensitiewe stukkie anatomie

Die klitoris het sowat 8 000 senuwee-eindpunte (die penis het 4 000). En hoewel jy dit kan geniet, moet jy jou perke ken. Daar is ’n maksimum-plesier merk. As die klitoris verby daardie punt gestimuleer word, kan hierdie plesier in pyn omskakel. As manlief té veel aandag aan jou toorknoppie gewy het, vra hom om die stimulasie te verlig of meer aandag aan “omliggende dele” te gee.

FEIT 3: Dit gaan alles oor posisionering

Ja, manlief kan sy vingers die praatwerk laat doen, maar as jy wil hê jou klitoris moet tydens seks gestimuleer word, gaan dit alles oor die regte plek. In die gewone sendeling-posisie kan manlief homself só posisioneer dat sy penis in lyn is met jou klitoris, maar elke twee lywe choreografeer verskillend, sê Joy Davidson, seksterapeut en outeur. Jy moet dus eksperimenteer met manlief om te kyk watter hoeke jou die beste sensasies gee – intern én klitoraal. Probeer twee kussings onder jou boude om jouself te lig.

FEIT 4: Die naam is universeel

Ons het reeds genoem dat dit nie juis ’n sexy woord is nie, maar die woord kom vanaf die antieke Griekse woord vir “sleutel”. Dit kan ook terug verwys na die werkwoord “kleitoriazein”, wat beteken “titillate lasciviously or to seek pleasure”. Die woord is bekend in alle moderne Europese tale, nie net in Engels nie.

FEIT 5: Jou klitoris het ewige jeug aan haar kant!

Jy voel miskien jy moet derduisende rande aan teenverouderingsprodukte op jou gesig bestee, maar minstens spaar jy suidlangs. Terwyl die plooie jou bekruip, bly jou toorknoppie vir ewig jeugdig! Sodra die klitoris volwassenheid bereik, bly sy kragtig vir die res van jou lewe. Jy het dus dieselfde orgasmiese kapasiteit op 95 as op 25!

FEIT 6: Jy moet oefen vir ’n gesonde klitoris

As jy op 95 steeds voordeel uit jou klitoris wil trek, is dit ’n goeie idee om nou al saam met manlief om die blok te stap. Ja, jou beste vorm van voorspel is sowat 20 minute se oefening. Dit vergroot jou genitale swelling met sowat 168% en die uitwerking daarvan hou vir ure daarna aan. Hoe meer jy oefen, hoe gesonder is jou klitoris.

FEIT 7: Die klitoris groei

Wanneer puberteit begin, groei die klitoris en teen die einde van puberteit is dit sowat 1,8 keer groter. Teen die ouderdom van 32 sal jou klitoris vier keer so groot wees as aan die begin van jou puberteitsjare. En na menopouse sal jou klitoris sowat sewe keer so groot wees as met geboorte!

FEIT 8: Die ware klitoris is eers onlangs ontdek

Dis ’n stukkie lyf wat al baie “verlore en gevind” is. In 1559 het ’n Italiaanse ontleedkundige, Realdo Colombo, gesê hy het die klitoris ontdek. Dit is weer herontdek deur Kinsey in die 1950’s en weer deur Masters and Johnson in die 1960’s, wat die belangrikheid daarvan om vroue met orgasmes te help, beklemtoon het. Maar eers in 1998 het die Australiese uroloog Helen O’Connell MRI-studies op vroulike vrywilligers uitgevoer, en só is die anatomie van die klitoris vir die eerste keer ooit verstaan en gesien!

Ons is jou ewig dankbaar, Helen O’Connell . . .

 

WENKE VIR MANLIEF!

Voel jy onbeholpe met haar toorknoppie? Hier is ’n paar wenke:

  • Lees haar soos ’n horlosie! Die sensitiefste area op die klitoris is tussen twaalfuur en drieuur, skryf seksuoloog Elmari Craig en Bybelkenner Hennie Stander in hul boek A-Z van Seks.
  • Posisioneer jou tong links of regs van haar klitoris en beweeg in sirkelbewegings (kloksgewys of anti-kloksgewys).
  • Gebruik suigkrag. Dit moet jy egter eers doen wanneer sy reeds opgewek is. Neem haar klitoris in jou mond en suig dit liggies asof jy deur ’n strooitjie suig. Gebruik ligte, stadige en sagte bewegings.
  • Dink aan jou tong as ’n pen. “Skryf” die ABC bo-op en rondom haar klitoris. Jy kan ook syfers “skryf” en selfs mooi liefdesboodskappe!
  • “Vou” haar klitoris toe met die skaamlippe aan weerskante en gebruik jou hand om haar klitoris só indirek te stimuleer.
  • Die geheim is om jou tyd te neem, geduld te gebruik en met ligte, klein hale te begin. Laat vroulief jou lei deur haar lyftaal en pas jou bewegings daarvolgens aan.

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.yourtango.com, www.medicaldaily.com, www.drshellypersad.com, www.mic.com.