Wanneer ’n mens eers getroud is, ervaar jy emosies wat jy nie eens geweet het bestaan nie. Sommige goed en sommige sleg. Maar as jy nie dié gevoelens op ’n gereelde basis in jou huwelik ervaar nie, skort iets.
Love is a circular emotion that surrounds you like a hug . . .” Dis die woorde van Jarod Kintz, en ja, dis ’n alomvattende emosie, maar een wat nóg ’n aantal emosies binne hou.
“Ek is getroud met ’n polisieman,” vertel Sandra*. “Voorheen het ek geweet wat ware liefde is, maar die huwelik het my nuwe emosies geleer. Elke keer wanneer my man aan diens is, ervaar ek ’n vrees wat uit liefde gebore word – wat as hy iets oorkom? Ek kan my nie ’n lewe sonder hom indink nie.” Hoewel die huwelik soos seisoene is en emosies dikwels gebore word uit omstandighede, is daar ’n paar gevoelens wat op ’n gereelde basis deel van jou huwelik behoort te wees . . .
#1. ’N GEVOEL VAN ONDERSTEUNING. Jou maat moet jou tot só ’n mate ondersteun (en jy vir hom) dat dit voel asof jy tot enige iets in staat is! Hy moet jou motiveer en jou vlerke gee om te kan vlieg. By hom moet jy voel soos ’n veer wat na die oppervlak dryf wanneer dinge swaar gaan en nie asof jy ’n paar swaar stewels aanhet in die water wat jou aftrek nie. Sy motivering en ondersteuning moet jou doelgerig en gedetermineerd maak om jou volle potensiaal te bereik.
#2. ’N GEVOEL VAN GEMAKLIKHEID. ’n Gevoel van gemaklikheid moet daagliks in jou huwelik ontvang en gegee word. Jy moet weet jou maat aanvaar jou presies soos jy is – onvoorwaardelik – mét jou misvormde gebruik van idiome, jou voorliefde vir fudge en jou onvermoë om (as gevolg van laasgenoemde) daardie laaste drie kilo’s af te skud. Jy moet weet hy aanvaar jou drome en ideale sodat jy énigiets met hom kan deel sonder om bang te wees dat hy vir jou gaan lag daaroor of sal kritiseer (en vice versa). Gemaklikheid is broodnodig in elke huwelik.
#3. ’N GEVOEL VAN VEILIGHEID. In ’n huwelik wat werk, laat maats mekaar gekoester en veilig voel. As jy enigsins bang is vir jou lewensmaat se reaksie op dit wat jy gedoen het (of dit nou is oor die glas wat jy gebreek het of die koffie-afspraak met ’n vriendin), moet die waarskuwingsligte vir jou flikker. Fisieke of emosionele aanranding is nooit aanvaarbaar nie en vrees is ’n emosie wat nooit tussen jou en jou maat mag heers nie, want by hom moet jy ten alle tye veilig kan voel.
#4. ’N GEVOEL VAN SEKURITEIT. Sekuriteit is anders as veiligheid en beteken dat jy op hom kan staatmaak. ’n Maat wat vir jou sekuriteit bied, spring nie in die kar sodra die water warm raak nie. Wanneer julle deur ’n moeilike tyd gaan, staan hy op. Hy is betroubaar en hy is dáár. Dit beteken ook dat jy kan sê wat jy dink en voel sonder om bang te wees vir jou maat se oordeel.
#5. ’N GEVOEL VAN HOOP. Dit is belangrik dat jy en jou maat ’n toekomsvisie deel en dat jy hoop het vir wat vir julle voorlê. As ’n paartjie (of een van die twee) hoop verloor, is daar moeilikheid.
#6. ’N GEVOEL VAN PASSIE. In ’n gesonde huwelik is daar altyd passie. Ja, soms word dit effens gedemp deur die koms van kinders en die realiteit van ’n dag-tot-dag roetine, maar al kook dit nie, moet dit altyd prut! Dit moet vir jou lekker wees as manlief jou in sy arms neem en ’n stywe druk gee. As daardie gevoel van passie nie meer daar is nie, is dit dalk wys om die hulp van ’n terapeut in te roep.
#7. ’N GEVOEL VAN DANKBAARHEID. Dankbaarheid is seker een van dié belangrikste dinge wat jy in jou huwelik moet beleef. Wanneer dinge swaar gaan, is dit moeilik om met oë van dankbaarheid na jou maat te kyk, maar daar is altyd iets in jou maat waarvoor jy kan dankbaar wees en hierdie gevoel sal jou daaraan herinner om jou maat te komplimenteer en vir hom/haar te bid.
Die volgende gevoelens behoort nié teenwoordig te wees in jul huwelik nie:
- ’n Gevoel van onsekerheid wanneer jou maat by jou is, en ook wanneer hy nié by jou is nie. As jy afhanklik is van jou maat vir sekuriteit en geluk, is daar probleme.
- ’n Gevoel van oordeel. As jy en jou maat mekaar veroordeel vir die verskille tussen julle en jul toekomsdrome, is daar opknapwerk wat aan jul huwelik gedoen moet word.
- ’n Gevoel van hulpeloosheid wanneer julle baklei omdat dit onmoontlik lyk vir julle om jul konflik op te los.
- ’n Gevoel van verwerping deurdat jou maat emosionele nabyheid of seks (of albei) van jou weerhou wanneer julle vir mekaar kwaad is of om mekaar te straf.
- ’n Gevoel van oneerlikheid. Daar is moeilikheid wanneer jy nie oop en eerlik met jou maat kommunikeer nie, en wanneer jy oneerlikheid by jou maat bespeur.
- ’n Gevoel van seer. Elke huwelik ervaar soms seer, maar as joune ’n aaneenlopende gevoel is wat selde ophou, is dit beslis nie normaal nie.
- ’n Gevoel van verwaarlosing. As dit vir jou voel asof jou maat nie jul huwelik of vir jou belangrik genoeg ag nie, ervaar jy verwaarlosing.
- ’n Gevoel van minderwaardigheid. ’n Maat wat jou selfbeeld aftakel, tree nie Goddelik op nie en as jy gedurig kritiek ervaar of uitdeel, moet julle dringend hulp soek.
- ’n Gevoel van manipulering. As jy of jou maat die ander een dwing om op te tree sodat jy/hy jul sin kan kry, sal dit jul verhouding skade aanrig. Emosionele afpersing is nooit gesond nie (www.divorcesupport.about.com).
As jy meer van laasgenoemde in jou huwelik ervaar as die eerste sewe emosies, is daar moontlik onderliggende probleme in jou huwelik en is dit wys om die hulp van ’n kenner in te roep. Die huwelik is veronderstel om lekker en positief te wees . . . neem beheer oor joune.
Deur Annelize Steyn
Artikel geïnspireer deur “Seven feelings couples experience in a successful relationship” op love.allwomenstalk.com.