Hoewel ons Evas die begrip ‘versoeking’ maar al te goed verstaan, begin en eindig die betekenis daarvan vir ons gewoonlik by ’n Aero of silwer stiletto’s met diamantgespes. Ons besef dat dit nie ’n manne-ding is nie en ’n vrou ook voor versoekings kan swig, maar dikwels bring jul versoekings julle in groter moeilikheid…

Promosie

Ja, jy weet jy moet versoekings weerstaan, maar jy is waarskynlik nie ’n ou wat kan lepels buig nie. En al was jy, sou dit steeds nie die Scarlett Johansson look alike by die apteek se ferm buuste minder aanloklik gemaak het nie. Jy sal jou bes probeer, maar sover dit versoekings aangaan, word geen resultate gewaarborg nie! Ons begryp dit, want ’n man bly ’n man en ’n man is ’n… visuele wese (hmm, gedink ons gaan iets anders sê?). Bygesê: Jy is ook darem sterker as ’n handpop sonder ’n ruggraat.

Die webtuiste Biblecentre.com verduidelik die proses van versoeking so: Dit begin met ’n skadelose gedagte wat jou lok om iets te doen wat jy nie veronderstel is om te doen nie. Daarna word die aanvanklike gedagte deur jou ondersoek en word die sonde beplan. Dit is dán wanneer die daad uitgevoer word om jou begeertes te vervul. Natuurlik dink jy nie so daaroor nie en in jou eie kop “gebeur dit” dikwels net. Daarom wil ons jou ’n paar wenke gee oor hoe om daardie soete (maar stoute) verleidings makliker in die kiem te smoor.

Bly uit die moeilikheid!

Promosie

Ja, jy het reg gehoor. Moenie na die Satan gaan soek net om vir hom jou muscles te wys nie! “Ons is nie veronderstel om na moeilikheid te gaan soek en van spirituele kranse af te spring met die verwagting dat die engele ons sal red nie,” skryf Joseph Tkach, president van Grace Communion International (www.gci.org). Doen die teenoorgestelde: Stel vir jouself grense. En dit beteken nie dat jy kan gaan wei tot téénaan daardie grens om te kyk hoe ver jy kan gaan sonder om daaroor te trap nie.

Verskuif jou fokus

Jou vroutjie sal jou baie hieroor kan vertel. Daardie Maandag wat sy met ’n dieet begin en wéét sy mag nie die choc-chip-koekies in die kas eet nie, is die choc-chip-koekies in die kas ál wat sy raaksien! As jy fokus op wat jy nié mag doen nie, gee jy daardie versoeking ’n kans om in jou te groei en groei. So, in plaas daarvan om voortdurend te dink: “Ek mág nie na daardie webtuiste toe gaan wat my terg vir méér nie…”, besluit om eerder die rekenaar af te skakel en te gaan draf, saam met vriende te gaan kuier of ’n romantiese fliek vir jou en vroulief op te sit. En wanneer jy dit wel reggekry het om sterk te staan, beloon jouself! Gaan kyk ’n rugby-game op Loftus of gaan koop vir jou daardie flits wat jy so begeer (jy hét immers gewys jy het muscles om die Satan mee jaloers te maak!).

Weet: almal is nie eenders nie

Onthou, die krag van jou weerstand wissel van dag tot dag. En wat vir een persoon werk, werk nie noodwendig vir die volgende nie. ’n Seksueel suggestiewe foto sal dalk nie eens jou beste pel se oog vang nie, terwyl jy miskien weet jou toleransie hiervoor is laag. Moenie jou selfbeheersing oorskat nie… As jy maklik swig, dink daaraan soos ’n gerehabiliteerde alkoholis oor drank dink. Die veiligste grens is om heeltemal daarvan weg te bly. Die waarskynlike gevaar is te hoog, die voordele laag en dit is doodeenvoudig nie die risiko werd nie. Daarmee saam: As so iets nie vir jou pel ’n versoeking inhou nie, moet hom nie veroordeel as hy nie volgens jou reëls leef nie!

Onthou: niemand is gevrywaar nie

Moenie glo dat jy sterk genoeg is om versoekings te weerstaan nie. Die feit is: amper elke man sukkel hiermee. Dis gevaarlik om jouself te vertrou met die idee dat jy altyd sal kan “nee” sê. Miskien sê jy 98 keer in ’n ry “nee” en die 99ste keer swig jy. Wanneer jy voel asof jy versoek word, is jy reeds té naby aan ’n situasie wat jou in die moeilikheid kan bring. Moenie vir jouself sê: “Ek gaan gou saam met haar koffie drink, want ek weet waar om halt te roep en dinge sal nie verder gaan nie.”

Jy weet ook nie wat haar bedoelings is nie, en as dit dalk nie suiwer is nie, het jy tien teen een nie ’n kat se kans nie!

Kry ’n accountability partner

Skubaduikers en rotsklimmers weet dit is altyd beter om ’n buddy te hê. Niemand is perfek nie en mense moet mekaar aanvul waar die ander een te kort skiet. Dis waarom ’n geestelike mentor so ’n blink plan vir ’n ieder en ’n elk is. As daar iets is wat jy voel jy vir jou vrou wil wegsteek, is dit nie ’n goeie teken nie. Sorg minstens dat jy iemand het teenoor wie jy hierdie gedagtes kan bely voordat dit meer as gedagtes word. Hy kan jou regruk met ’n “Nee, ou maat, nou loop jy op dun ys!” Hoe minder jy wegsteek, hoe makliker kan iemand jou help om die lewe se Monica Lewinsky’s te weerstaan!