Sê Vroulief dat jy nie ‘n romantiese haar op jou kop het nie? Steek jou liefdesgebare altyd net vas by blomme en sjokelade? Jy kán haar Cassanova wees – en nie net vir een aand nie!

Promosie

MAAK ‘N KALENDER

Sukkel jy om verjaardae, huweliksherdenkings en ander belangrike datums te onthou? Voer die inligting op jou foon se kalender in en stel reminders, of merk die datums op ’n bestaande kalender en plaas dit êrens waar jy dit kan elke dag kan sien. Nou kan jy onthou én dalk iets spesiaals beplan. Waarskuwing: Die spaarkamer-bed gaan jou mis!

DIE TIEN-SEKONDE LIEFKOSING

Promosie

Getroude paartjies sien mekaar gewoonlik bitter min deur die dag en in die aand is daar hope dinge wat gedoen moet word. Dit lei dikwels daartoe dat paartjies slegs fisiese interaksie het wanneer dit tyd is vir seks – en dit is allermins romanties. Maak ’n punt daarvan om vroulief elke oggend en aand vir ten minste tien sekondes lank te druk en te soen.

MIDDAGETE-ONTSNAPPING

Probeer om een of twee keer per maand vir vroulief by die werk te “ontvoer”. Julle kan saam op die datums besluit sodat dit tye kan wees wat julle albei pas. Sonder om vir vroulief te sê waarnatoe julle gaan, laai haar op in haar etensuur en geniet ’n heerlike middagete saam. Onthou, dit gaan oor die samesyn, nie hoeveel jy spandeer nie, so ’n blikkie met toebroodjies onder ’n boom is net soveel werd!

GEE 100% VAN JOU AANDAG

Kla vroulief gereeld dat jy net met ‘n halwe oor luister as sy praat? Jy stel dalk nie noodwendig belang in wat vroulief se vriendin of kollega nou weer gedoen of sê het nie, maar glo dit, sy het die behoefte om daaroor te praat. Wanneer sy dus iets het om vir jou te vertel, probeer om alles neer te sit wat jy doen en gee haar 100% van jou aandag.

NEEM GEREELD SELFIES

Dit is nie nodig om te wag vir Kersfees om mooi herinneringe vas te lê nie. Boonop maak selfone dit vandag makliker as ooit om foto’s van jou geliefdes te neem. So, neem gereeld oulike selfies van julle twee saam. Gebruik daardie foto’s onder andere as agtergrond op jou foon of rekenaar – sodoende neem jy haar saam orals waar jy gaan.

SPOG MET HAAR OP FACEBOOK

Maak gerus ’n punt daarvan – om op jou maat se Facebook-“muur” vir haar te skryf dat jy vir haar lief is en dat sy die beste vrou vir julle kinders in die wêreld is. Of skryf so nou en dan op jou eie profiel hoeveel sy vir jou beteken en sit sommer een van daardie oulike selfies by. As sy jou gunsteling ete voorberei, neem ’n foto daarvan en plaas dit op jou profiel met die boodskap: “Kyk nou net hierdie oulike vrou van my! Sy bederf my vreeslik!” Dit sal vroulief se tone laat omkrul van lekkerkry as jy spog met haar waar almal dit kan sien.

NOODGEVAL-GESKENKIES

Jy sien jou maat voel nie lekker nie, maar ai, jou beursie is leeg en die winkels is toe. Hoe kan jy haar weer laat glimlag? Wees slim en koop elke maand ’n klein “noodgeval-geskenkie” (byvoorbeeld badskuim, oorbelle of ‘n geskenkbewys) wat jy êrens kan wegsteek. Sodra jy sien vroulief voel down in the dumps, verras haar daarmee.

STUUR ROMANTIESE SMS’E

Probeer om een keer per week vir vroulief ’n SMS te stuur. Stel vir jou ’n alarm op jou foon as jy bang is jy vergeet. Jy kan enige iets daarin sê: Van ’n liefdesgediggie tot bloot net ’n “Ek dink aan jou / Ek verlang”-boodskap. (Nee, jy mag niks vra oor aandete nie!) As jy sukkel met idees vir bewoording, gaan kyk gerus op ‘n webwerf soos www.wishesmessages.com – jy kan baie van die boodskappe net so gebruik, geen dinkwerk nodig nie!

Help haar om tyd te maak – Dit is baie moeilik vir huweliksmaats om tyd te maak vir mekaar wanneer daar kinders betrokke is. Daar is baie maniere hoe jy haar kan help in dié opsig. Byvoorbeeld: Spring in en help met die huistake dat sy dit vinniger kan afhandel. Bied aan om kos te maak/ neem haar uit vir aandete. Of vra vir Ouma en Oupa of hulle so bietjie vanaand na die kinders sal kyk.

WEES SPONTAAN

Wys jou liefde sommer uit die bloute. Gee haar ’n soen, draai haar in die rondte, tel haar op of druk haar asem weg wanneer sy dit glad nie verwag nie. Doen gereeld dinge wat haar laat lag of bloos. Dit gaan jou nie net onweerstaanbaar maak nie, maar jy gaan ook heeltyd in háár gedagtes en drome wees.

 

Deur Thalia Brüssow

Addisionele bronne: psychology today.com, askmen.com