Jy kyk soms na die vrou met wie jy getrou het, en jy wonder hoe dit gebeur het dat haar pad met joune gekruis en julle mekaar liefgekry het. Jy is die ewige optimis en sy . . . wel, die teenoorgestelde.
“Ek gaan dit nóóit klaarkry nie,” laat hoor sy uit die kombuis, besig met jul driejarige se verjaardagkoek. “Kyk hoe lyk dit sover – ek het nog nooit in my lewe so ’n lelike skepping gesien nie.” Vir jou lyk die koek eintlik voltooid en glad nie so sleg nie. “Ek weet môre gaan ’n slegte dag wees, die weervoorspelling sê daar is ’n 50% kans op reën . . . só haar partytjie is alreeds ’n flop en dit het nog nie eens begin nie,” stoom sy voort.
Jy wil antwoord: “Só die kans dat dit ’n lieflike dag kan wees, is 50%!” maar jy byt op jou tong. Jy ken die scenario té goed. Wanneer sy in een van haar buie is, irriteer jou optimisme haar. Maar om die waarheid te sê, jy raak ook redelik keelvol vir die donderwolk wat permanent oor jul huishouding hang. Dit voel of jy gedurig besig is om vervaard na ligkolle te soek en hulle uit te wys, maar dat haar oogklappe haar keer om dit raak te sien.
As jy haar kan opsom, lyk sy min of meer só:
- Sy is die ewige slagoffer. Die hele wêreld het hul mes in vir haar – van die graad 1 skooljuffrou tot die tandarts.
- Jy is altyd die sondebok. As daar iets skeefloop in en om die huishouding (en daarbuite),, moet jý die skuld dra. Selfs jul hond se ekseem is jóú skuld!
- Daar is net een mening – en dit is hare. Ja, jy kan joune uitspreek, maar dit beteken nie dat sy daarna gaan luister nie.
- Sy gaan haal die bobbejaan agter die bult en dink niks daarvan om nóú ure lank hare te kloof oor wat jul sewejarige ná skool gaan doen nie.
- Sy laat jou alewig soos ’n mislukking voel. Selfs wanneer jy ’n bevordering gekry het, is dit nie genoeg om haar goedkeuring weg te dra nie en sy wonder wat jy aangevang het om dit te verdien.
- Sy is in haar element as sy ’n paar trane van hartseer, swartgalligheid, ongelukkigheid, woede of teleurstelling kan stort. Jy sien haar bitter selde lag, want dit is nie vir haar ’n prettige emosie nie.
- Sy is altyd ontevrede en onvergenoegd. Dit maak nie saak wát julle het nie, dit sal nooit goed genoeg wees nie en sy vergelyk julle gesin altyd met ander.
Wanneer optimis en pessimis trou
Heidi Grant Halverson sê in die artikel “When optimists marry pessimists” op Psychologytoday.com dat dit algemeen is vir een party in ’n verhouding om ’n promosie-fokus te hê, wat beteken hulle sien hul wêreld en doelwitte volgens wat hulle daaruit kan kry (optimiste), terwyl die ander party meer van ’n voorkomingsfokus het en na die wêreld en hul doelwitte kyk in terme van wat hulle kan verloor.
Só sien een party dikwels sukses as iets om te bereik, na te streef en die beste weergawe van jouself te wees, terwyl die ander party dit sien as die vervulling van verpligtinge, die vermyding van gevaar en foute en om iemand te wees waarop ander kan staatmaak (pessimiste).
Optimiste werk vinnig, kreatief en hulle waag kanse. Pessimiste vermy risiko’s en word gemotiveer deur kritiek eerder as lofprysing. Hulle werk vasberade, versigtig en akkuraat. Hulle beplan vooruit en stel nie uit nie.
In ’n huwelik kan dit ’n groot kopstampery veroorsaak. Dink aan ’n maat wat toelaat dat sy kinders op hul vinnigste fietsry en op hoë apparate rondklouter, terwyl sy vrou hulle eerder in watte wil toedraai. Niemand is reg of verkeerd nie, maar elkeen benader hul doelwitte anders.
Die gelukkigste paartjies handhaaf ’n goeie balans tussen promosie en voorkoming. Maar soms is dit moeilik. Daar is ook ’n verskil tussen ’n maat wat soms ’n pessimis is en iemand wat van pessimisme ’n leefstyl gemaak het!
Só hoe gemaak as jou maat se glas áltyd halfleeg is?
Die webtuiste www.oureverydaylife.com sê dat as jou maat ’n pessimis is, jy eerstens op jouself moet fokus en besef dat, hoewel jy nie haar emosies kan beheer nie, jy wel beheer het oor jou eie gedagtes, gevoelens en die manier waarop jy met haar kommunikeer. Moenie haar kritiek persoonlik opneem nie.
Volgens Raj Raghunathan, outeur van Dealing with negative people, wat op die webtuiste Psychology Today verskyn, is die kanse goed dat jou maat ’n diep vrees koester wat die wortel van sy negatiewe energie is. Hy het drie vrese geïdentifiseer: ’n Vrees vir disrespek, ’n vrees daarvoor om nie geliefd te wees nie te wees en ’n vrees dat die wêreld ’n gevaarlike plek is. As jy probeer om jou maat se gedagtes te verander, sal dit jou net dreineer.
Plaas jou in haar skoene en probeer empatie hê met jou maat. Terwyl haar negatiwiteit jou dreineer, is dit emosies wat sy konstant met haar saamdra. Moet haar nie beskuldig vir jou ongelukkigheid nie, maar wys haar dat jy in beheer is van jou eie lot – dat jy jou drome najaag, kanse waag en goeie verhoudings vestig.
Onthou ook dat ’n pessimis se siening tot voordeel van jul huwelik gebruik kan word. As dit kom by finansies, is dit byvoorbeeld dalk beter om eerder die pessimis se versigtigheid te oorweeg as om kop eerste in te duik.
Jy kan ook die volgende wenke beproef:
- Bestee tyd saam met positiewe paartjies! Jy het die positiewe blootstelling nodig en hopelik kom jou maat agter dat daar mense is wat die wêreld vanuit ’n ander hoek beskou.
- Besef dat jou maat se negatiwiteit voortspruit uit ’n plek van minderwaardigheid en/of teleurstelling. Sien haar prestasies raak en moedig haar aan om kanse te waag.
- Wees soms ferm en smoor ’n negatiewe gesprek in die kiem. Sê: “Dis nou genoeg,” en verander die onderwerp van bespreking
- As haar negatiwiteit besig is om jul huwelik te vernietig, gaan sien ’n kenner om perspektief te gee vanuit ’n objektiewe plek en om julle te help om hierdie probleem in jul huwelik te bestuur.
Daar is baie paartjies wat leer hoe om hul verskille suksesvol te bestuur, so daar is geen rede waarom ’n optimis en pessimis nie dolgelukkig getroud kan wees nie.
Deur Annelize Steyn