My man se stokperdjies steel al sy tyd. Sedert hy begin het om gholf te speel, is hy elke naweek “vas” en kan ons nêrens heen gaan nie. Ek sien hom nie op Saterdae nie en op Sondae is dit asof hy “eie tyd” wil hê om te herlaai (hy is eintlik ’n introvert). Hy hou ook van kunsvlieghengel en kook, maar het dit lanklaas gedoen.
Manne en hul speelgoed kan vroue gefrustreerd laat! Gholf is ’n tydrowende stokperdjie en manlief kan nie juis gou een keer per week vir ’n halfuurtjie gaan speel en verwag om te verbeter in sy spel nie. Ons neem aan gholf is sy nuutste stokperdjie en dis waarom dit nou al sy aandag vereis.
Hier is ’n paar voorstelle:
- Toon belangstelling in sy gholf. Die kans is goed dat as jy hom ’n bietjie uitvra, hy baie gretig sal wees om jou te wys wat hy kan. Sê ook dat jy eendag graag wil saamgaan as hy speel.
- Begin self om gholf te speel. Ons weet nie wat jou persoonlike omstandighede is nie, maar as dit binne jou vermoë is om te speel, pak dit aan. Jy kan selfs vir manlief vra om jou te leer – wat ’n wonderlike manier om gehaltetyd saam deur te bring. Jy mag dit dalk selfs geniet!
- Baie mans het eie tyd nodig en sal verkies dat jy nie saam met hulle speel nie. Dit beteken nie dat jy glad nie kan speel nie. Kry ’n paar vriendinne om dit saam met jou te begin doen. Julle kan altyd ná die tyd saam kuier.
- Praat eerlik met hom deur vir hom te sê dat jy afgeskeep voel wat tyd betref. Sê dat jy voel Saterdae is sý tyd en jy verwag van hom om ook tyd saam met jou of die gesin deur te bring op ’n Sondag.
- Koop vir hom ’n nuwe kookboek en kyk of dit nie weer sy belangstelling in kook prikkel nie. Die lekker hiervan is ook dat jy hom kan geselskap hou terwyl hy in die kombuis werskaf – jy kan hom selfs help kos maak.
Deur Annelize Steyn