Bekommernis en onsekerheid is welbekende emosies wat ons as Suid-Afrikaners vierkantig in die oë staar. Die politiek, ekonomie, werkloosheid – om nie eers te praat van korrupsie nie, het sy manier om harte en bloeddruk die hoogte in te jaag en gesprekke om die braaiplek sommer gou moedeloos en sonder hoop vir die toekoms te laat. Hoe hou jy jouself en jou huwelik positief?
Wanneer dinge donker lyk, val ’n mens maklik in ’n swart gat, wat jou laat wonder: Hoe lank gaan dit so aanhou? Is daar hoop vir ons as ’n paartjie of ’n huisgesin in hierdie omstandighede?
Dit laat my dink aan ’n jong man met die naam Pedro wat die wêreld wou verander. Kort voor lank besef hy toe dat die wêreld te groot was om te verander. Korrupte politici en radikale groepe het sy ideale heeltemal omvergegooi en hy het toe eerder besluit om sy omgewing te verander. Maar ook dít het nie gewerk nie en Pedro het keer op keer voor ’n toe deur te staan gekom.
Hy besluit toe om sy aandag op sy familie te vestig. Maar sy kinders raak rebels en sy vrou dreig hom met egskeiding! Só kom Pedro se droom om mense te verander toe tot ’n einde. Met dié besluit Pedro om homself te verander . . . en skielik het die wêreld verander!
Ons idees en verwagtinge kan net so tot stilstand kom as ons nie besluit om daardie gehalte-besluite te neem en klein doeltreffende aanpassings te maak nie. In Habakuk 2 lees ek ’n paar gedagtes wat jou as man en metgesel net weer in die regte rigting kan stuur. Ek vertrou dit sal jou help soos dit vir my en Elmien aangemoedig het om wel klein stappies in die regte rigting te neem.
- Bring jou mond in lyn met God se Woord
Baie keer praat ons saam met die negatiewe wat om ons gebeur . . . maar ek en jy as Christen-mans het ’n verantwoordelikheid om saam met God se Woord en Sy planne vir ons te praat. Dit verg dissipline en die verstaan van God se plan. Hy sê dat Hy vir ons ’n hoopvolle toekoms beplan, en dít moet my en jou belydenis wees.
- Staan vas volgens jou geloofsoortuiging
Onthou, mense en modes verander vinniger as wat jy dink. Politieke partye kom en gaan. En net so kan slegte dinge ook met goeie mense gebeur! Die waarheid is egter, die geskrewe Woord verander nooit! God se Woord sê dat Sy Woord vir ewig vasstaan. Daarom kan ek en jy letterlik op Sy Woord staan en met selfvertroue enige uitdaging in die oë staar! Onthou, geloofswoorde is die voertuig wat geloof, gesondheid, voorspoed, oorwinning en sukses dra!
- Stel jouself in om op jou doelwitte te fokus
Om hierdie ingesteldheid in jou hart vas te maak, kan jou lewensuitkyk nogal drasties beïnvloed. Onthou om mekaar en mense om jou in jou werksplek en sosiale lewe te bemoedig met opbouende woorde van stigting. Vermy kritiese uitlatings en help mekaar om op hierdie nuwe doel te fokus! In die begin gaan jy vir seker faal, hou net moed. Ons het almal begin kruip voordat ons begin loop het! Elmien help my so nou en dan reg – onthou ou gewoontes neem 21 dae om te breek! Probeer dit gerus, dit werk soos ’n bom!
- Speur om te sien wat Hy wil spreek
Ek onthou hoe my pa aan my as tiener wou verduidelik hoe en wat ek moes maak, en hoe ek moes staan om ons wind surfer te kon seil. Ek wou natuurlik niks weet van enige les of raad van sy kant af nie, en het my eie kop gevolg! Nietemin, na ’n hele dag se probeer in die middel van die dam was ek eers oop vir inspraak. En natuurlik het ek na ’n les van drie minute maklik teruggeseil kant toe. Ek dink vandag nog, ná soveel jare, dryf ’n ego wat aan my behoort steeds op die Roodeplaat-dam rond! Ek was eers nie oop vir inspraak en onderrig van my pa se kant af nie, maar wel later toe ek op moedverloor-stadium was. Manne, ons Hemelse Vader wil jou onderrig en jou pad duidelik maak! Jou Vader weet wat jy nodig het, doen net wat Hy vir jou sê! Jou oorwinning is nader as wat jy dink.
- Skryf jou droom en doelwitte neer
Net so, maak jou lys vandag nog en deel dit met jou vrou. Hou haar in die prentjie, vertel haar alles, jou kommer en jou vrese. Moenie dinge probeer weghou van haar nie. Onthou, sy sien reg deur jou en deur dinge van haar te weerhou, gaan jou net in die hakskeen byt! Soms weerhou ons inligting weens ons gevoel van minderwaardigheid. Moenie vergeet dat jou geliefde wel net die beste bedoelings vir jou het nie, jy is haar held – onthou agter elke suksesvolle man staan ’n vrou en ja, ’n verbaasde skoonma!
- Spoedig sal jou doelwitte bereik word
Manne, die Woord is duidelik en baie op die man af! Neem die besluit om vandag God se pad te volg, dan sal jy sien hoe vinnig en onverwags onverdiende guns jou pad begin kruis!
Sekerlik sal jy jou wêreld sien verander. Pedro se wêreld kon nie verander soos hy dit gesien het nie. Hy moes verander en toe hy verander, toe verander die wêreld om hom! Mag ek en jy ook in Sy voetspore volg.
Deur Stephen Claassens
- Pastoor Stephen Claassens is een van die stigters van Awakening Ministries SA. Hy en sy vrou, Elmien, het ’n passie om te sien hoe elke plaaslike kerk groei en volwasse word in die werking van die Heilige Gees.