Op jou troudag glo jy jou huwelik is bestem vir ewige geluk. Maar die realiteit vertel ’n ander storie. Hoe sorg jy dat jou huwelik véél langer as jou troudag hou?
Om ’n troue te beplan, is nie vir sissies nie. Daar begin ’n stelselmatige gedaanteverwisseling in beide van julle. Hy sien die bitsige kant van jou wat die trou-uitnodigings terugstuur (en wéér terugstuur) omdat dit nie die presiese pistachio-kleur is waarvoor jy gevra het nie. In jou verweer: Jy weet net wat jy wil hê. Jy sien die suinige kant van hom wat nie kan verstaan hoekom blomme wat net ’n dag gaan hou soveel kan kos nie. In sy verweer: Hy is oordeelkundig. En dan begin jy wonder . . . Kan ek regtig met hierdie persoon saamleef vir die res van my lewe? Maar jy maak onmiddellik daardie stemmetjie stil. Die rok is immers klaar gekoop . . .
Die eerste twee jaar is die belangrikste
Ted Huston, ’n professor in menslike ekologie en sielkunde aan die Universiteit van Texas, het ’n langtermynstudie onder getroude pare onderneem. Wat Huston se studie uniek gemaak het, is die feit dat paartjies reeds vanaf hul eerste jare saam ondersoek is.
Hy het die volgende bevind: Baie pasgetroude paartjies is ver van dolverlief af! Diegene wat dolverlief was, was juis geneig tot egskeiding omdat hulle nie die intensiteit kon volhou nie. Die paartjies wat met minder “Hollywood-romanse” begin het, se toekoms was meer belowend en laastens: Dit is is die verlies aan liefde en nie die voorkoms van interpersoonlike probleme nie, wat paartjies op die pad na egskeiding plaas . . .
Teen die einde van die studie in 1994, het die paartjies in vier groepe geval. Hulle was óf gelukkig getroud, ongelukkig getroud, vroeg geskei (binne sewe jaar) of laat geskei (na sewe jaar). Elke kategorie het ’n uitsonderlike patroon behels.
Hy het gevind dat hoe goed ’n paartjie oor die weg kom in die eerste twee jaar na hul troue, die bepalende faktor was tussen dié wat getroud en geskei was. “Die eerste twee jaar is belangrik – dit is wanneer die risiko vir egskeiding veral hoog is,” meen hy. “En die veranderinge wat plaasvind gedurende dié tyd vertel ons baie van waarheen die huwelik op pad is.”
Só wat sê die statistieke?
Jy kan nie in die toekoms insien nie, en huwelike wat aanvanklik lyk soos mislukkings raak suksesvol. Maar kenners meen daar is tog sekere statistieke wat kan bepaal hóé geneig jou huwelik tot egskeiding sal wees. Hier is ’n paar interessante bevindings in die studie “A diamond is forever and other fairy tales” (2014) deur AM Francis and HM Mialon, geskryf deur Randy Olson:
- Hoe duurder jou verloofring, hoe groter jou kanse op egskeiding.
- Hoe meer mense jy by jou troue het, hoe kleiner raak jou kanse op egskeiding. (Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat die ondersteuning van vriende en familie krities belangrik is vir langtermyn huwelikstabiliteit.)
- Paartjies met godsdienstige dienste by die troue se kanse op egskeiding is skraler (natuurlik!).
- Dié paartjies wat ’n wittebrood onderneem, se kanse is 41% laer om te skei.
- Paartjies wat nog nooit ’n kerkdiens bygewoon het nie, is twee keer meer geneig tot egskeiding.
- Pare wat vir langer as drie jaar uitgaan, se kanse is beter om ’n stabiele huwelik te hê en die egskeidingsyfer is die hoogste onder paartjies wat minder as ses maande uitgaan.
Is jy boots and all in die ding?
’n Suksesvolle huwelik is egter nie so eenvoudig soos ’n gastelys nie en jy kan jou verloofde nie in ’n onbekostigbare wittebrood indwing met dié artikel nie! Jy het waarskynlik ’n prentjie van hoe ’n huwelik behoort te lyk. Die kwashale van jou prentjie word gebore uit jou ouers se huwelik, dít wat jy op televisie gesien het en hoe jy grootgemaak is. Jou maat het sy eie prentjie en saam moet julle prentjies kuns maak.
Dit is wys om vir voorhuwelikse berading te gaan om julle voor te berei op die realiteit van die huwelik en om julle verwagtinge te bespreek. ’n Berader kan julle help om die dinamiek van wat ’n huweliksverhouding behels, te begryp.
Kenners beveel aan dat jy en jou maat minstens een tot twee jaar moet uitgaan voor julle trou sodat julle al die seisoene van die jaar saam kan sien en beleef. Elke seisoen bring veranderinge. As jy met ’n boer gaan trou, gaan strooptyd stres bring. As daar skoonfamilie-moeilikheid is, gaan die feesseisoen dit verlig. En as jou verloofde nie sy bonus gekry het nie, sal julle dalk jul Desember-planne moet kanselleer. Hoe julle op al bogenoemde reageer, sal jy eers weet as julle al die seisoene beleef het.
Saam met ’n langtermynverhouding kom verskeie ontnugterings oor jou maat, die lewe en die liefde, maar jy wil sorg dat jy meestal vóór jou troudag ontnugter word. Ontnugterings ná die troudag wat ernstige probleme teweeg kan bring, is ’n tekort aan eerlikheid, die feit dat jou maat nie van jul huwelik ’n topprioriteit maak nie en wanneer paartjies met mekaar kompeteer in plaas daarvan om mekaar te komplementeer, meen Mark Goulston op huffingtonpost.com.
Só hoe kan jy jou huwelik langer as jou troudag laat hou?
- Vind uit wat jou maat se liefdestaal is en gee aandag daaraan. ’n Gelukkige huwelik begin wanneer jy trou met die een wat jy liefhet en dit blom wanneer jy die een liefhet waarmee jy getrou het.
- Onthou die krag van jou woorde. Woorde kan seermaak en woorde kan heelmaak. Moenie ou koeie uit die sloot grawe nie, moenie veralgemeen nie en onthou om jammer te sê.
- Bid vir jou maat en bid vir jou huwelik. Adrian Pantonial skryf op wordpress.com dat ’n paradigmaskuif plaasvind die oomblik wat ’n paartjie besef hulle kan nie hul huwelik sonder God se hulp laat werk nie.
- Maak jou maat ’n groter prioriteit as jou doelwitte. Huwelike misluk wanneer ’n mens se werk, vriende en lewensideale belangriker raak as jou lewensmaat. Skryf jul drome neer, gesels daaroor en werk gereeld daaraan.
- Gee sonder om terug te ontvang. Die huwelik is nie soseer gee en neem nie, maar eerder gee, en gee en gee, sonder om enigiets terug te verwag. Vrygewigheid, ver verby jou gemaklikheid, is die sleutel tot huweliksgeluk.
- Wees minnaars en beste pelle! Ruim tyd in vir date nights, maar speel ook saam. Maak avonture en vriendskap deel van jou huwelik.
- Besluit vooraf hoe jul rolverdeling gaan werk. Die stereotipiese rolle wat vir jou ouers gewerk het, geld nie meer vandag nie – veral nie as jy ook ’n werkende vrou is nie.
- Moenie die harde tye as berge sien nie. Sien dit as geleenthede vir huweliksgroei. Ja, dit is baie moeilik om positief te bly as die lewe jou ’n hou gee, maar as julle ’n span is, kan niks julle keer nie.
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronnne: www.aplus.com, www.randalolson.com, www.huffingtonpost.com.