Daar is niks wat ’n man se ego en selfvertroue so kan aftakel soos wanneer sy soldaat nie op aandag wil staan nie. Maar voordat daar na die wonder-bloupilletjie gegryp word, is daar stringe faktore wat eers in ag geneem moet word om ’n ingeligte besluit te neem.

Promosie

Afgesien van erektiele disfunksie is daar ’n magdom faktore in ons moderne, gejaagde lewens wat probleme Doer Onder kan veroorsaak. Die probleem is dat dit slegs een keer hoef te gebeur om prestasie-angs te veroorsaak. Dit is ’n bose kringloop wat aanleiding tot erektiele disfunksie en impotensie kan gee.

Die meeste mans sal een of ander tyd in hulle leeftyd ’n probleem hê om ’n ereksie te kry, maar dit is geen rede om jou polse af te kou nie. Stres, angs, werksdruk, medikasie, asook drank- en dwelmmisbruik, kan as groenvoer vir die probleempie dien.

Sewe van die grootste oorsake wat ereksieprobleme kan veroorsaak, is spanning, alkohol, tabak, kafeïen, pornografie, fietsry en onrealistiese verwagtinge en mites. Stres, die sluipmoordenaar van die 21ste eeu, verwoes nie net huwelike en lewens nie – dit steel ook ereksies. Alkohol verhoog begeerte, maar verlaag prestasie. En kafeïen en tabak is twee van die grootste bydraende faktore tot ereksieprobleme.

Promosie

Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) kan ’n persoon wat rook se bloedvloei verswak en dit kan tot ereksieprobleme lei. Die sommetjie is eenvoudig. Die penis bestaan uit weefsel (corpora cavernosa en corpus spongiosum) wat uitsit en vergroot wanneer bloed soontoe vloei om ’n ereksie te veroorsaak. Geen bloed is gelyk aan geen ereksie.

In ’n neutedop: Koffie en sigarette is stimulante wat ’n uitwerking op jou sentrale senuweestelsel het en jou kan verhoed om ’n ereksie te kry. Volgens professor Elna McCintosh, ’n bekende Suid-Afrikaanse seksuoloog, toon studies dat mans wat oormatig kafeïen inneem (dieselfde geld vir tabak en alkohol), meer vatbaar vir ereksieprobleme is as as diegene wat matigheid voor oë hou.

Volgens studies kan pornografie ’n chroniese “verbruiker” daarvan desensitiseer en sodoende veroorsaak dat werklike alledaagse stimuli nie voldoende gaan wees om ’n ereksie te veroorsaak nie. Volgens www.everydayhealth.com veroorsaak dit ’n chemiese wanbalans in die brein, wat tot ’n verlaagde libido en ereksieprobleme kan lei.

Hoewel kardiovaskulêre oefeninge soos swem, draf, muurbal en tennis voorgeskryf word vir mans met ereksieprobleme, is fietsry ’n groot “nee”. Hoewel dit uitstekende kardio-oefening is, is dit glad nie goed vir die Adamsgeslag se privaat dele nie. Die primêre probleem lê by die fiets se saal. Die fietsryer se gewig word op ’n baie klein oppervlak vasgedruk. Die inhoud van Alcock se kanaal word teen die pelviese been vasgedruk – wat die bloedvloei na die genitalieë en geslagsorgane beperk en gevoelloosheid in die area veroorsaak. Dit is nie goed nie – punt.

Pornografie se twee negatiewe nefies is mites en onrealistiese verwagtinge, wat die volgende wanpersepsies insluit:

  • Om ’n vrou te bevredig, moet jy goed bedeeld wees.
  • ’n Regte man moet spiere op spiere en maagspiere hê.
  • ’n Ware man kry elke keer ereksies wat ure lank hou.
  • Vroue gil en skreeu gedurende die veelvoudige orgasmes wat hulle ervaar.
  • As jy nie ’n ereksie kan kry nie, is daar slegs iets fout met jou penis.

Hoewel mans hul ereksies vir 15 minute tot ’n uur gedurende seks kan behou, het navorsing bewys dat 75% van alle mans binne twee minute van seksuele omgang ’n orgasme bereik. Die seksuele reaksiesiklus en die gepaardgaande ereksie bestaan uit vier fases: Die opwekkingsfase, plato, orgasmiese fase en resolusiefase, wat gevolg word deur ’n refraksie-periode wanneer geen orgasme of ejakulasie kan plaasvind nie.

In die seksterapeut Bernard Zillbergeld se boek Male Sexuality word vermeld dat vroue bitter selde die grootte van ’n seksmaat se penis as ’n belangrike faktor in seksuele bevrediging noem.

Hoewel ereksieprobleme meer algemeen onder ouer mans voorkom, beteken dit nie dat jy probleme gaan ervaar bloot omdat jy ouer word nie. Een ding wat jy wel moet onthou, is dat mans na die ouderdom van 40 elke jaar tot 1,5% minder testosteroon kan produseer. Testosteroon is verantwoordelik vir ’n mens se spiermassa, beendigtheid en seksdrang.

Vyf maniere om jou testosteroonvlakke te verhoog:

  • Kry genoeg slaap.
  • Verloor daardie bierpens.
  • Neem meer sink in.
  • Sny jou suikerinname.
  • Kry voldoende oefening.

Jy kan ook sorg dat die volgende items in jul supermark-trollie beland: Rissies, oesters (ryk aan sink en vitamien B6), piesangs, salm, kersies, uie en knoffel (kou pietersielie of peppermente vir jou asem), hawermout en rooiwyn (matige hoeveelhede daarvan).

Dit is nie net die Evasgeslag wat kompleks is nie. Wanneer ’n man probleme met sy ereksie ervaar, is daar geen kitsoplossing nie. Volgens prof McCintosh is ’n gebalanseerde dieet, oefening en ’n positiewe ingesteldheid die gesondste maniere om ’n sterk ereksie te behou en te geniet. Goeie kommunikasie en ’n ondersteunende lewensmaat sal jou bedsake weer vinnig op koers kry.

 

Deur Ettienne van Rensburg