Het jy al ooit aan wonderwerke en jou huwelik in een sin gedink? Jy kan vandag nog begin vra, bid en werk aan wonderwerke vir jou huwelik. Verander die ondenkbare in ’n werklikheid vir jou en jou maat!
Lees elke dag die teksgedeelte hardop saam en kyk met verwagting hoe die Skrif elke dag nuwe insigte in jul verstaan bring. Lees dit uit verskillende vertalings en gebruik die gebedswenke om saam daaroor te bid. Maak aantekeninge en merk belangrike gedeeltes soos wat julle aangaan.
Dag 3: Eerbied en respek
Delf dieper: Efesiërs 5:21-33.
Ds Karel Steyn sê: Hierdie is sekerlik dié sleutelgedeelte in die Bybel oor die huwelik. Wanneer ons onthou dat God ons huwelike vir ons gee as ’n getuienis en ’n veilige ruimte om intimiteit te ontdek, kan ons verstaan waarom Hy só ’n groot prys stel op eerbied en respek tussen huweliksmaats. Eerbied en respek word geleer deur liefde en onderdanigheid. Liefde is dié liefde van Jesus Christus aan die kruis en onderdanigheid is om jouself diensbaar te stel ter wille van ’n groter saak. Om onderdanig te wees, beteken dat ek in dit wat ek doen op my huweliksmaat fokus om vir hom of haar diensbaar te wees ter wille van ’n gesonde huwelik.
Bid vir: Eerbied, respek en bewondering tussen jou en jou eggenoot en dat julle die vrug van dié wonderwerk sal geniet.