Helderkleurige tente, woestynsand, speserye en ’n dorp vol helderblou geboue teen ’n majestieuse berg-agtergrond. Marokko is ’n belewenis en ons neem jou Marrakech toe . . .

Promosie

Dis kleur en geur net waar jy kyk, met basaars, borrelpype en pragtige strande. Hier kan jy op ’n kameel se rug deur die Sahara reis of Noord-Afrika se hoogste piek bestyg. Marokko is een van Afrika se gewildste reisbestemmings vanweë sy romanse, kultuur, geskiedenis en natuurskoon.

Die stad Marrakech is groot, raserig en asemrowend mooi! Die strate en meeste van die geboue is helder blou geverf. Die berge wat jy vanaf elke klipstraatjie kan sien, is majestieus en die berglug gee aan dié stad ’n magiese gevoel. Djemma el Fna is die hart van Marrakech en teen laatmiddag verander Djemma el Fna in ’n vermaaklikheidsparadys vol slangtoertjies, kegelaars en musiek.

Marokko se kos het verskeie invloede. Elke dis wissel volgens die mark, seisoen en streek. Hul hoofmaaltyd is middagete met verskeie slaaie en tagines aan tafel, waarna die gasvrou ’n vrugtebord en tee bring. Brood is heilig in Marokko en nog ’n gewilde dis, koeskoes, staan bekend as seksu (ja, regtig!). In Marokko eet jy dit deur dit in klein balletjies te rol en met jou vingers in jou mond te prop!

Promosie

Marokkaanse spyskaart
Marokkaanse lam- en sampioen-sosaties, bedien op koeskoes, aspersie- en kekerertjieslaai en besprinkel met ’n jogurt-, mint- en sultana-slaaisous.
Drankie-voorstel: Syrah

Só berei jy voor vir jou eksotiese ete:
Van nou af spreek ons julle aan as Zawji (man) en Zoujah (vrou) in Arabies.

Trek só aan:
Konserwatief. ’n Spaghetti-bandjie hempie en minirompie is taboe! ’n Tradisionele Marokkaanse vrou het twee keuses: ’n Djellaba, wat in ’n souk gekoop kan word en bo-oor normale klere gedra word. Jy hoef nie ’n serp te dra nie, maar bind jou hare in ’n enkel vlegsel, tensy jy jou man wil verlei (Marokkaanse mans word seksueel geprikkel deur los hare!). En dra skoene in plaas van tekkies. Die manne se drag het minder reëls, maar jy sal hulle selde in ’n kortbroek sien. Aangesien jy nie sommer ’n Djellaba in die hande kan kry nie, is sigeuner-tipe drag vir vanaand ’n goeie opsie.

Zawji: Jy het twee opsies. Gaan stook die kaggel vir ’n romantiese ete langs die kaggelvuur. As julle nie ’n kaggel het nie, moet jy die tent in jul sitkamer gaan opslaan met kerse daar rondom . . . Julle kan ook albei kombineer deur die tent langs die kaggel staan te maak!

Zoujah: Kry elke helderkleurige lap in jou huis wat jy aan kan dink om ’n ware liefdestent te skep. As julle dit voor die vuur doen, drapeer die lappe om julle en bo-oor die meubels. Gaan maak ’n draai by die kostuumwinkel en die vrugtemark (sien by die poedingafdeling hoekom).

Dekor-idees:

  • Dink aan besige winkeltjies, paadjies met vaandels en mosaïekmure. Dit is ’n vreemde, eksotiese land. Die geheim is om die sensuele trefkrag van ’n Marokkaanse tent na te maak met ’n ryk kleurpalet en goeie beligting.
  • Sorg dat eksotiese geure in die lug hang, met gebreekte kaneelstokkies en stukke gemmer. Lig is baie belangrik om ’n Marokkaanse ambiance te skep.
  • ’n Mes en vurk is nie nodig aan ’n Marokkaanse tafel nie. Hulle gebruik hul brood en hande om te eet en om al die heerlike oorblywende souse mee op te vee. Moet jou dus nie te veel steur aan eetgerei nie. In Marokko is atmosfeer die heel belangrikste!
  • Gebruik diep, helderkleurige materiaal in rooi, oker en kobaltblou.
  • Dis ’n land van kleur en geur, so hopies speserye dra by tot ’n eksotiese walm in die vertrek.
  • Gebruik kleibakkies vir die kos.
  • Brand eksotiese wierook.
  • As jy wil, kan julle die koffietafel se pote afskroef vir ’n lae tafeltjie.
  • Drapeer sjiffon oor die ligte (oppas net dat dit nie brand nie).
  • Gebruik verskillende groottes liggies en olielanterns vir ’n Afrika-gloed.
  • Laai die volgende musiek van die Internet af vir die agtergrond-klanke: Chalf Hassan, Ercan Saatchi, Kayhan Kahor of Petrol Bomb Samosa.

Etiket-wenk!

  • Trek jou skoene uit voordat jy die “huis” binnestap vir ete.
  • ’n Wasbak word tafel toe gebring voor die ete bedien word. Hou jou hande oor die wasbak terwyl die water daaroor gegiet word en droog dit af met ’n handdoek.
  • Die kos word in ’n gemeenskaplike bak bedien. Vee die kos op met ’n stuk brood of die duim en eerste twee vingers van jou regterhand.

Beplanning:

  • Marineer die lam.
  • Sny die vrugte in blokkies en plaas al die ander nagereg-bestanddele in bakkies.
  • Maak die vrugte- en neut-koeskoes.
  • Maak die jogurt-, mint- en sultana-slaaisous.
  • Maak die aspersie- en kekerertjieslaai.
  • Braai die sosaties.

Hier volg die resepte:

Marokkaanse lam- en sampioen-sosaties (bedien 4)
250ml mintblare
1 gepreserveerde suurlemoen, slegs die vlees
400g vetlose lam-steaks, in 20cm blokke gesny
32 knopiesampioene
125ml sprietuie, gekap
Varsgemaalde swartpeper

Só maak ’n mens:
Terwyl Zoujah die mint en gepreserveerde suurlemoen in ’n voedselverwerker of stokkieblitser tot ’n dik pastavorm verwerk, kan Zawji die blokkies lam-steak, sampioene en sprietuie in ’n mengbak gooi. Skep die mint-pasta daaroor, geur dit met varsgemaalde swartpeper en gebruik sommer jou hande om alles goed te meng. Bedek dan met kleefplastiek en plaas in die yskas vir 20 minute.

Zoujah, neem nou die sosatiestokkies en ryg die vleis en sampioene beurtelings aan die stokkies. As daar marinade oorbly, hou dit eenkant.

Zawji, verhit ’n riffelpan tot baie warm en braai die sosaties oor ’n hoë hitte. Draai en verf gedurig met die oorblywende marinade vir ongeveer 8-10 minute of tot dit gaar is.

Bedien bo-op warm koeskoes-, aspersie- en kekerertjieslaai en bestrooi met die jogurt-, mint- en sultanasous. Garneer met ’n sprinkel paprika.

Koeskoes-, aspersie- en kekerertjieslaai
2 bondels aspersies
75g sneeu-ertjies (snow peas)
500ml gaar vrugte- en neut-koeskoes (sien resep hierna)
1 blik kekerertjies (chickpeas)
2 knoffelhuisies, fyngekap
10ml fyn komyn
10ml olyfolie
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Só maak ’n mens:
Zoujah, dreineer die blik kekerertjies en spoel dit goed af met kraanwater. Plaas die kekerertjies in ’n klein mengbak en gooi die olyfolie, fyn komyn en knoffel by. Geur dit met sout en varsgemaalde swartpeper. Meng goed.

Intussen kan Zawji die aspersies vir ongeveer twee minute stoom of tot net-net gaar. Plaas die sneeu-ertjies in ’n hittebestande bak en bedek met kookwater. Laat staan vir een minuut. Maak solank ’n bak vol yswater en sodra dit reg is, verfris die aspersies en sneeu-ertjies in die koue water. Dreineer goed.

Zoujah, skep dan die vrugte- en neut-koeskoes in ’n bedieningsbord en pak die aspersies en sneeu-ertjies bo-op saam met die kekerertjies. Bedien saam met die lam- en sampioen-sosaties. Besprinkel met jogurt-, mint- en sultanasous.

Vir ’n heerlike alternatiewe smaak saam met jou koeskoes, gooi hierdie geurige bestanddele by en maak ’n vrugte- en neut-koeskoes:

Vrugte- en neut-koeskoes (bedien 4-6)
450ml koeskoes
625ml gekookte vuurwarm hoenderaftreksel of kookwater
60ml olyfolie of botter
Sout en varsgemaalde swartpeper
30ml olie
1 ui, fyngekap
5ml fyn komyn
5ml fyn kaneel
5ml varsgemaalde swartpeper
5ml fyn gemmer
50g dadels, fyngekap
50g gedroogde appelkose, fyngekap
50g amandels, sonder vel, bietjie gerooster in ’n droë pan en fyngekap
500ml gaar koeskoes
30ml suurlemoensap
30ml vars koljanderblare
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Só maak ’n mens:
Zawji, dis baie eenvoudig, plaas die koeskoes in ’n hittebestande bak, ’n lekker groot bak. Gooi nou die warm aftreksel of kookwater bo-oor en bedek met kleefplastiek. Laat die koeskoes vir tien minute staan om te stoom.

Verwyder dan die kleefplastiek en vlok die koeskoes met ’n vurk tot jy pragtige vlokkies het (partykeer werk dit om sommer jou vingerpunte te gebruik om ontslae te raak van die klonte), gooi die olyfolie of botter by en vlok verder.

Zoujah, verhit ’n pan oor ’n matige hitte en gooi die olie daarin. Braai die uie tot deurskynend en gooi knoffel by. Braai vir nog twee minute. Gooi nou die komyn, kaneel, swartpeper en gemmer by en braai vir nog ’n minuut.

Roer nou die dadels, appelkose en amandels by en verwyder van die hitte.

Gooi die mengsel by die nou reeds voorbereide koeskoes saam met die suurlemoensap en geur met sout en, as nodig, nog varsgemaalde swartpeper. Roer dit goed en laat manlief proe of daar nog sout of peper kort. Net voor bediening, roer die koljanderblare daarby in.

Jogurt-, mint- en sultana-slaaisous (maak 200ml)
125ml Griekse jogurt
60ml mintblare
60ml sultanas
7,5ml suurlemoensap
’n Knippie sout
’n Knippie witpeper

Só maak ’n mens:
Zawji, verwerk solank die jogurt, mint en sultanas in ’n voedselverwerker, of gebruik ’n stokkieblitser en blits tot dit glad en romerig is. Roer dan die suurlemoensap, sout en witpeper goed deur.

Zoujah, bedien die slaaisous saam met lam- en sampioen-sosaties of sommer saam met enigiets.

En vir nagereg . . .

Jy kan vir Zawji ’n bietjie sensuele vermaak lewer deur ’n belly dance-kostuum by ’n kostuumwinkel te huur. As jy nie daarby uitkom nie, dra ’n los romp laag oor jou heupe en trek een van jou mooiste bra’s aan. Wikkel jou lyf so ’n bietjie op die maat van sensuele musiek. Jy hoef nie ’n belly dancer te wees om sensueel te lyk nie. Swaai jou heupe, speel met ’n serp en siedaar, hy is in die bui!

Nóú verdien julle poeding!

Skryf vooraf allerlei seksuele “opdragte” op kaartjies. Dit kan dinge insluit soos: “Soen my in my nek” of “Kielie my naeltjie met jou tong”, maar dit moet vir albei geslagte kan werk.

Julle poeding vandag is fondue met ’n twist. Elkeen van julle kry ’n beurt om jul maats te blinddoek.

Sny verskillende soorte vrugte (soos pynappels, pere, aarbeie, piesangs en druiwe in stukke en plaas in ’n bakkie). Maak ook bakkies vol met klapper, kondensmelk, gesmelte sjokolade, neute en kaneel.

Blinddoek nou jou maat en maak ’n konkoksie op ’n sosatiestokkie. Voer dit vir jou maat. As hy/sy al die bestanddele reg raai, kan hy/sy ’n kaartjie trek en jy moet aan haar/sy versoek voldoen. Maak beurte . . .