Om ’n gewone huwelik te laat werk, is nie maklik nie. En wanneer ’n hartseer tragedie jul huisgesin tref, is geloofsgroei waarskynlik laag op jul prioriteitslys. Maar deur vas te hou aan jul geloof, kán julle huwelik deur die seer groei.
Dwarsdeur jul getroude lewe sal julle hoogtepunte en laagtepunte beleef. Julle sal val en weer genadiglik opstaan. Maar daar is dié soort hartseer wat nie so maklik verwerkbaar is nie. Dié soort wat ’n huwelik in ’n hoek kan dryf.
Om ’n kind te verloor, is seker die seerste seer wat ’n paartjie kan tref en ’n mens kan jou kwalik voorstel hoe enigeen kan opstaan na só iets. Maar dit gebeur.
Daar is ook huwelike wat ander seer tragedies moet trotseer. Soos diegene wat ná jare se probeer moet hoor dat ’n kind hulle nooit beskore sal wees nie. Of moet beleef hoe hul enigste kind met ’n ernstige gebrek gebore word, of in die fleur van sy grootmensjare permanente skade ná ’n motorongeluk oorhou.
Daar is paartjies wat al hul aardse besittings in ’n natuurramp verloor, paartjies wat deur affairs werk en pare waar een party jarelange tronkstraf kry.
Dit is dan wanneer ’n huwelik tot sy uiterste beproef word. Soms stuur die ramp ’n paartjie in die rigting van spirituele en huweliksgroei. Met ander tye is die wonde net té seer vir die huwelik om te oorleef. In die televisiereeks The Affair knoop een van die hoofkarakters, Alison Lockhart, ’n buite-egtelike verhouding aan met Noah Solloway, ’n getroude man en pa van vier kinders.
Haar pogings om haar huwelik en haar lewe te heel ná haar en haar man se enigste kind in die see verdrink het, is tevergeefs . . . maar hierdie affair is net die begin van ’n reeks tragiese gebeure in almal se lewens daarna. Net só gebeur dit in die werklikheid dat individue wat rou ’n toevlug soek in ongesonde gewoontes – drankmisbruik, spandabelrigheid . . .
In haar boek, When the bough breaks, skryf Judith R Bernstein: “Huwelike sterf nie met die dood van ’n kind nie, maar soms kry hulle ’n agterstallige begrafnis.” Soms kan selfs ’n gesonde huwelik dit nie oorleef nie. Mense rou verskillend, en skuldgevoelens speel ’n rol – by vroue wie se identiteit gesetel is in dié van versorgers en mans wat glo hulle moet beskermers en probleemoplossers wees.
Ja, só ’n huwelik verkeer onder druk, maar as ’n Christen-paartjie het julle ’n voorsprong, sóú so iets jul huwelik tref. Dink maar aan Prediker 4:12: “Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie.”
En aan Matteus 7:24-25: “Elkeen wat dan hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.”
In ’n Today’s Christian Woman-artikel, “Staying married through tragedies”, deur Don Harding sê Jeanne Caverley dis belangrik vir ’n paartjie wat deur so iets gaan om te sê: “Ek heg waarde aan my huwelik. Ek het genoeg verloor.”
Só bly julle staande
Hou aan een van die belangrikste waarhede van jul situasie vas: Julle is sáám hierin. Daar is bewys dat paartjies wat saam deur hul hartseer werk en rou, se huwelik ’n beter kans op oorlewing het as ander wat nie hierdie doelbewuste besluit neem nie.
Soms is ’n mens se natuurlike reaksie om te wil onttrek as jy seer het, maar in ’n studie onder ouers wie se kinders aan wiegiedood oorlede is, het 90% van mense gesê tyd saam met hul maats het hulle met die rouproses gehelp.
Bemoedig mekaar, maar rou ook saam. Skep saam ’n herinnering. As julle ’n kind aan ’n seldsame siekte verloor het, skep ’n fonds vir die siekte. As die persoon wat julle verloor het julle aan ’n spesifieke plek herinner, gaan vier jaarliks sy/haar verjaardag op daardie plek.
Julle kan ook jul hartseer in welwillendheid omskep deur betrokke te raak by ’n liefdadigheidsorganisasie of by ’n ondersteuningsgroep aansluit waar julle ander kan help wat deur dieselfde situasie as julle gaan (mits julle reeds self ’n pad na genesing gestap het).
Wees geduldig met jou maat. Een van die grootste oorsake van egskeidings ná ’n tragedie is die feit dat paartjies se maniere van rou verskil. Dit veroorsaak misverstande en hartseer, maar deur begrip te hê met mekaar en mekaar ruimte te gee wat dit aanbetref, kan julle ver kom. Gee jou maat die vryheid om nié te wees soos jy is nie en om die seer op sy/haar eie tyd te verwerk.
Onthou ook dat ’n gewonde dier aanval. Rou maak ’n mens hipersensitief en meer geneig om seer te kry wanneer ’n lewensmaat iets kwytraak wat onsensitief klink. Wees dus bewus daarvan dat jy moontlik kan oorreageer en wees ook ekstra sensitief teenoor jou maat.
Kry hulp van buite af. Daar is bewys dat paartjies wat hulself met vriende en familie omring wat ondersteuning bied, meer geneig is om by mekaar te bly as ander. Spandeer ook tyd saam met ander paartjies wat deur ’n soortgelyke ervaring is, maar verder in die proses is as julle. Hulle raad kan waardevol wees en hulle geselskap sal julle laat besef dat julle nie alleen is nie, maar dat daar ander mense is wat weet waardeur julle gaan.
Outeur en prediker Rick Warren sê dit is belangrik om julself nie te isoleer nie. Galasiërs 6:2 sê: “Help ander gelowiges wat swaarkry, en gee só uitvoering aan Christus se liefdeswet.”
Volgens hom het rampe die manier om ’n mens se waardes duidelik te maak en te wys wat saak maak en wat nie. “Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie,” staan in Lukas 12:15.
Fokus op jul geloof. Maak beurte om te lees en te bid. Gebed skep ’n band tussen God en julle as paartjie, en dit gee jul huwelik struktuur, leiding en stabiliteit. En ja, dit sal ’n toets vir julle wees, want in moeilike tye kan ’n mens maklik voel asof God jou versaak het, maar jul hoop, gegrond in Jesus Christus, is dít wat julle deur hierdie moeilike tyd sal dra.
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.charismamag.com, www.marriagemissions.com, www.griefandrenewal.com.