Het jy al ooit aan wonderwerke en jou huwelik in een sin gedink? Jy kan vandag nog begin vra, bid en werk aan wonderwerke vir jou huwelik. Verander die ondenkbare in ’n werklikheid vir jou en jou maat!
Lees elke dag die teksgedeelte hardop saam en kyk met verwagting hoe die Skrif elke dag nuwe insigte in jul verstaan bring. Lees dit uit verskillende vertalings en gebruik die gebedswenke om saam daaroor te bid. Maak aantekeninge en merk belangrike gedeeltes soos wat julle aangaan.
Dag 4: Ek ag jou hoog
Delf dieper: Filippense 2:1-4.
Ds Karel Steyn sê: Die gesin is die basiese bousteen van elke gemeenskap, hetsy of dit die gemeente of die samelewing is. Daarom is hierdie opdrag wat Paulus gee ook op ons huwelike van toepassing. Wanneer ons as egpaar saam groei in ons verhouding met God, leer ons saam die troos van Christus ken, asook die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees en die innige meegevoel en meelewing. En wanneer ons saam God só leer ken, kan ons werklik eensgesind wees.
Bid vir: Jou en jou huweliksmaat dat julle waarlik een in liefde, een van hart en een in strewe sal wees. Bid dat dié eenheid in jul huwelik julle sal versterk en saamsnoer.