Jy staan op trou of oorweeg dit om jou troubeloftes te hernu, maar die standaard-beloftes is vir jou te onpersoonlik. Die probleem is, jy weet nie wáár om te begin nie . . . ons wys jou!

Promosie

Dit is een van daardie oomblikke wat jy skielik en half onverwags ’n traan oor jou wang voel rol wanneer jy ’n ooggetuie is, én wanneer jy die bruid of bruidegom is . . . die oomblik wanneer die troubeloftes vir mekaar gesê word. Dit is een van die grootste beloftes wat jy ooit sal maak en in daardie oomblik doen jy dit voor God. Wow.

Dalk het julle besluit dat die spanning vooraf nét te veel is om self jul troubeloftes te skryf – in daardie geval kan julle die formele troubeloftes agter jul dominee aan sê. As dit is wat julle gaan doen, vra hom vir die troubeloftes op skrif en doen moeite om dit vooraf saam met jou maat deur te lees en seker te maak julle gaan elke woord bedoel.

As julle verkies om dit self te skryf (maak seker julle voel dieselfde hieroor), volg dié stappe:

Promosie
  1. Lees vir inspirasie. Soek op die Internet vir verskeie voorbeelde van troubeloftes (julle kan van hierdie beloftes gebruik en dit net hier en daar verpersoonlik as julle wil). com is ’n wonderlike bron hiervoor.
  2. Besluit op ’n trant. Besluit watter tipe beloftes julle albei van hou. As hy ’n grapjas is en jy is bekend vir jou sarkastiese humor, gaan formele troubeloftes dalk nie vir julle “soos julle” voel nie. Hou dit ernstig, maar dalk ’n bietjie meer informeel om by jul persoonlikhede te pas.
  3. Bepaal die proses. Besluit of julle dit afsonderlik gaan doen en of julle twee die taak om pizza en ’n bottel wyn gaan aanpak. Gaan julle dieselfde beloftes sê of gaan dit verskil? Gaan julle dit aflees of memoriseer? Gaan julle dit vir mekaar wys of dit as ’n verrassing hou?
  4. Doen dit in isolasie (as julle besluit om dit nie saam te doen nie). Gaan skryf op ’n plek waar jy kan stil raak en inspirasie kan kry – dalk die plek waar julle ontmoet het. Dink diep oor jou maat en jul verhouding.
  5. Skryf kernpunte neer.
  • Hoe het julle ontmoet?
  • Waarom het julle besluit om te trou?
  • Wat was die hoogtepunte en laagtepunte in jul verhouding?
  • Wat is die moeilike tye wat julle voorsien in jul toekoms?
  • Wat wil julle bereik as ’n paartjie?
  • Wat maak julle verhouding prettig en lekker?
  • Waarom wérk julle verhouding?
  • Wanneer het jy besef hy/sy is jou lewensmaat?
  • Wat is sy/haar aantreklikste karaktereienskap?
  • Hoekom respekteer jy hom/haar?
  • Hoekom is jou lewe lekkerder saam met hom/haar?
  1. Verwerk die notas. Maak dit persoonlik en intiem. Verbind al die dinge om ’n vloeiende toespraak te maak.
  2. Wees oorspronklik en bedagsaam. Ignoreer al die geykte spreekwoorde en praat uit jou hart uit. Dit moet soos júlle beloftes klink. En hoewel dit intiem is, moet dit die gemeente insluit – moet dus nie té persoonlik raak met troetelname en kodewoorde nie.
  3. Hou jou toespraak tydloos. Wanneer julle dit teruglees oor tien jaar, gaan dit steeds sin maak?
  4. Skryf dit neer en hou dit kort. Die toespraak-skrywer Robert Lehrman sê jy moet ’n vierstuk-buitelyn gebruik: Bevestig jul liefde, prys jou maat, sê jou beloftes en sluit dit af met ’n finale belofte. Hou dit een tot twee minute lank.
  5. Skryf dit op mooi papier. ’n Paar dae voor die troue kan jy dit op mooi papier neerskryf. Kry miskien ’n mooi kaartjie wat by jou troue se tema en kleure pas (onthou, daar gaan foto’s wees). Dis ’n goeie idee om dit nie uit te tik nie, maar in jou eie handskrif te skryf. Dit is meer spesiaal en kan later deel vorm van jul trou-album.

. . . en ’n paar jaar later

Wanneer jy vyf, tien, vyftien of selfs vyftig jaar getroud is, voel jy beslis heeltemal anders as die dag toe jy getroud is. Die realiteit van die huwelik het jou dalk hard getref of selfs onmeetbaar verras. Jy het jou maat beter leer ken, julle het saam ’n paar sakke sout opgeëet en skielik wéét jy wat jy wil sê (soveel beter as tóé). Julle kan al bogenoemde stappe volg, maar waar dit kom by die notas, kyk julle na jul verlede saam. Vra julself die volgende vrae:

  1. Wat is jou maat vir jou? Dit bepaal jy deur sy karaktereienskappe. As hy byvoorbeeld standvastig is en jy altyd op hom kon vertrou, is hy jou rots of jou anker.
  2. Watter konstante was daar in jul huwelik? Met ander woorde, dit wat jul verhouding tóé laat werk het en steeds laat werk. Die onwrikbare in jul huwelik.
  3. Wat het julle ryker geword in die huwelik? Hier praat ons nie van monetêre rykdom nie, maar van kinders, lewenservaring, reiservarings . . .
  4. Wat het julle sterker gemaak in die huwelik? Dink hier aan julle swaarste tye en waaraan (en aan Wie) julle vasgehou het gedurende dié tyd.
  5. Wat het van julle ’n span gemaak? Dink aan projekte wat julle saam voltooi het, berge wat julle saam geklim het en doelwitte wat julle saam bereik het.
  6. Hoe het julle die lewe vir mekaar makliker en lekkerder gemaak? Hier kan jy dink aan hoe julle mekaar in persoonlikheid en talente aanvul en hoekom dit lekkerder saam met jou maat is as sonder hom.
  7. Wat hou die toekoms vir julle in? Hier kan julle dink aan julle drome as ’n paartjie.

Daar is wonderlike bronne op die Internet, uit flieks en in boeke wat julle kan inspireer om mooi troubeloftes te skryf en hoewel ons riglyne gee, kan julle doen net wat julle wil. Jul troubeloftes kom vanuit ’n diep plek wat net julle twee ken en die enigste vereiste vir goeie troubeloftes is ’n opregte gesindheid. Die res kom vanself . . .

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.theknot.com