Die manlike ego is ’n brose ding . . . in ’n roekelose vrou se hande. Miskien moet ons eerder die woord “ego” los en die woord “eiewaarde” gebruik wanneer ons praat van jou man se ego, want dit is presies wat dit is.

Manlief is besig om die skottelgoedwasser te pak. Jy wik en weeg – moet jy julle peuter gaan optel of die videokamera gaan haal? Dis immers ’n oomblik om te verewig, want jy het nie geweet hy ken die verskil tussen dié masjien en die tuimeldroër nie! Jy loer onderlangs wat hy doen terwyl jy ’n bottel warm maak en wanneer jy sien hoe hy die glase pak waar die borde moet kom, sê jy die onvergeeflike: “Los, ek sal dit eerder self doen!”

Jou man wil hê jy moet dink hy kán. Alles. Enigiets. Goed. Doen. Dis ’n klap in die gesig vir hom om te hoor dat jy dink hy is nie goed genoeg nie. Sy daaropvolgende aanname? “Ek kan nooit enigiets reg doen in haar oë nie.” En net daar val hy . . . and the ego has landed.

Jy besef dit nie eers nie nie, want ons vroue is anders aanmekaar gesit. En hy is selfversekerd, sterk en nogal traak-my-nieagtig. Wat jy ook nie weet nie, is dat daar een persoon is wie se goedkeuring hy nodig het: Joune. Jy hou die mag in jou hande om manlief op te hef, te kritiseer en te ondermyn. Lees weer Spreuke 31:10-12 met aandag: “’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk.”

Sielkundige Jay Carter sê in ’n onderhoud met Michelle Burford in The Oprah Magazine dat, terwyl die setel van ’n vrou se siel haar emosies is, die setel van ’n man se siel sy doel is. En terwyl vroue meer verbaal georiënteerd is, is mans meer geneig om woorde letterlik te interpreteer. As jy dus sterk woorde gebruik om sy doel in twyfel te trek, takel jy hom waar dit die seerste maak.

Hier is die dolksteke wat jou man se ego inmekaar laat sak:

  1. Jy verkleineer hom voor ander mense. Soms bedoel jy dit nie eers nie. Julle gesels oor harige mans en jy laat val grappenderwys: “Ek is met ’n gorilla getroud!” Almal lag, jou man ook, maar diep binne voel hy verneder en seergemaak.
  2. Jy korrigeer hom. Hy het die spaarkamer se spieël opgehang en jy hou nie van die hoogte nie. Wat doen jy? Jy gaan hang die spieël van voor af, hoër, agter sy rug. As jy hom voortdurend op sy foute wys, word hy herinner aan die feit dat hy nie aan jou standaarde voldoen nie.
  3. Jy kritiseer hom in die slaapkamer. Ja, jy moet definitief verwoord wat werk en leiding gee in die areas waar dinge nié so goed werk nie, maar kies jou woorde fyn en in plaas daarvan om te sê waarvan jy nié hou nie, lê eerder klem op dit waarvan jy wel hou.
  4. Jy maak hom verantwoordelik vir hoe jy voel. Jy maak hom die rede waarom jy sleg/ hartseer/depressief voel. Dit is onnodige druk – verlos hom van daardie skuldgevoel, want net jy is verantwoordelik vir jou eie geluk.
  5. Jy kla oor jul omstandighede. Ja, jy kan dalk nie saam met jou vriendinne Kenia toe gaan nie en ook nie daardie peperduur horlosie bekostig nie, maar moet hom nie daarmee opsaal nie. Hy is ’n voorsiener en voel of hy misluk as jy klem lê op wat jy nié het nie.
  6. Jy flirt met ander mans. Nee, dit gaan nie vuur in jou verhouding blaas nie en dit gaan hom nie jaloers genoeg maak om harder aan jul huwelik te werk nie. Dit gaan hom seermaak. Daar is net een mens met wie jy behoort te flankeer en dit is met hom.
  7. Jy waardeer hom nie. Hy is wraggieswaar trots op die swewende rak wat hy in die badkamer opgerig het, veral aangesien hy nie juis handig is nie. Jy maak dit af as “niks” en sy ego kry ’n hou. ’n Harde hou. Komplimenteer hom en vertel hom hoeveel jy sy pogings waardeer.

Wat kán jy doen om sy ego ’n hupstoot te gee?

  1. Laat hom iets regmaak! ’n Man hou daarvan om iets te fix, daarom dat hulle soms ’n oplossing probeer gee wanneer ons net ’n oor wil hê! Vra hom om jou te help met iets, selfs al weet jy jy kan dit self doen.
  2. Gee hom erkenning. Sien raak wanneer hy iets gedoen het of reggekry het, en gee erkenning aan hom vóór hy jou daarop hoef te wys. Jou oplettendheid kan baie beteken in dié opsig.
  3. Wys hom jy begeer hom! Inisieer seks. Dit is een van die grootste boosts wat jy sy ego kán gee. Dit laat hom goed voel. Dit laat hom soos ’n man voel.
  4. Vertel hom jy mis hom. Hy wil graag weet jy kan nie sonder hom klaar kom nie, so wys vir hom dat jy hom mis, deur hom te vertel met ’n oulike SMS, ’n nota in sy sak of lang, uitgerekte telefoonoproepe waartydens jy weier om totsiens te sê!
  5. Lag vir sy grappe. Ja, jy het hulle al tot vervelens toe gehoor, maar kom ons wees eerlik – hulle blý snaaks. Moenie só gewoond raak aan hom dat jy nie eers meer opkyk wanneer hy moeite doen om snaaks te wees nie. Wat gaan dit van jou verg om vir ’n grappie te lag?

 

Deur Annelize Steyn