Eenwording in die huwelik is iets wat huweliksmaats soms moeilik verstaan. Beteken dit paartjies is nou soos ’n Siamese tweeling wat álles deel en waar die een gaan, daar gaan die ander? Of is dié eenwording waarvan onder meer in Genesis en Efesiërs gepraat word meer van ’n figuurlike eenwording? Wat as jy jouself in hierdie eenwording verloor?
Die één-wees van man en vrou binne die huwelik is volgens prof Fika Janse van Rensburg, soos hy in Die Bybellenium skryf, baie verrykend en omvattend. Dit beteken dat enigiets wat die een raak, ook die ander sal raak.
Daarenteen beteken eenheid in die huwelik nié dat jy jou eie persoonlikheid en menswees moet prysgee en geheel en al in jou maat moet opgaan nie. Dit beteken eerder dat jy na jou maat sal omsien soos jy na jouself omsien en dat jy jou maat moet help om sy/haar volle potensiaal te bereik.
Die Boodskap-vertaling verwoord Genesis 2:23-24 as volg: “Die mens het oorstelp van vreugde gesê: ‘Uiteindelik het ek iemand gekry wat net soos ek is en soos ek lyk, iemand met ’n liggaam net soos myne. Ek gaan haar ‘vrou’ noem, want sy is deel van my. Dit is waarom ’n man tot vandag toe sy ouerhuis verlaat om saam met die vrou van sy liefde te bly. Hulle liefde vir mekaar maak hulle een in liggaam en gees.’”
Aanvaar my geestelike weerloosheid
Die Bybellennium sê die beeld van die man wat van sy ouers af weggaan in Genesis 2:23-24 dui nie op die losmaking van sy ouers nie, maar op die selfstandigmaking van hierdie nuwe eenheid tussen man en vrou. Die agting vir mekaar en die aanvulling van mekaar bring algehele aanvaarding van mekaar, ongeag die onderlinge verskille. Dit maak ook dat huweliksmaats nie vir mekaar skaam is nie, al is hulle ook kaal en weerloos teenoor mekaar.
Die geestelike naaktheid is soms iets wat ’n probleem kan skep. ’n Suksesvolle man-vrou-verbintenis lê eintlik in die aanvaarding van mekaar se psigiese, geestelike, morele en godsdienstige naaktheid en weerloosheid. Dit is die ware toets vir mekaar se wedersydse liefde, trou en vertroue.
Vul mekaar aan
Ds Liesel Krause-Wiid, leraar by die NG Kerk Kameeldrift in Pretoria, verduidelik dat God Adam uit stof gemaak het, maar Hy het Eva uit Adam se rib gemaak. Dus is Eva uit dieselfde materiaal as Adam gemaak, so hulle is eenders.
“Toe Adam vir Eva die eerste keer sien, begin hy ’n huwelikslied sing wat spreek van verwondering, maar nie verwondering oor haar skoonheid nie, verwondering oor die eenheid tussen hom en Eva. Op drie verskillende maniere bevestig hy hierdie eenheid in Gen. 2:23: ‘Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy vrou genoem word, sy is uit die man geneem.’
“God stel die huwelik in en ten diepste gaan die huwelik oor die eenwording van man en vrou! Binne die huwelik leef ons só na aan mekaar en wat ons nie aldag besef nie, is dat dit wat ons aan ons maat doen, doen ons eintlik aan onsself! Wanneer ek my maat afbreek, breek ek eintlik myself af en wanneer ek my maat opbou, bou ek myself op.
“Die 1953-vertaling van Gen. 2:18 sê dit só mooi. Dit lees dat God vir Adam ’n vrou gemaak het, ’n lewensmaat wat sy lewe ryker en meer sinvol maak! Wanneer ons een word, vul ons mekaar dus aan. Daar waar my maat tekortskiet, vul ek in,” sê Liesel.
Saam word ons méér
“In die huwelik is daar nie plek vir selfsug nie, Paulus sê ons moet uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig wees, dus ons moet mekaar selfopofferend liefhê. Eenwording beteken ek moet ingestel wees op my maat en op sy of haar behoeftes. Ons moet Jesus se voorbeeld volg!
“Eenwording beteken dit is nie meer ‘ek’ versus ‘jou’ nie, maar ‘ons’ teenoor die res. Hierdie eenwording is nie ’n verskraling van ons menswees nie, dit is ’n verryking van myself, want my maat vul my aan! Dink hoe saai en eensydig die huwelik sou gewees het as ons almal dieselfde was – in die huwelik verryk ons mekaar en vul ons mekaar aan. Prediker 4:9 sê: ‘Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets.’
“Maar in die huwelik moet ons ook ruimte skep vir mekaar se andersheid, want dit is gesond om vir mekaar spasie te skep en om begrip te toon vir mekaar se verskillende persoonlikhede. Ons word dus nie só een dat die een nie weet watter een hy of sy is nie,” sê Liesel.
Wat beteken hierdie eenwording prakties? Liesel sê eenwording beteken dat huweliksmaats sielsgenote is wat saam hul kinders geestelik kan opvoed. “Eenwording is om mekaar se tekortkominge in liefde te aanvaar, ons staan geestelik ‘naak’ voor mekaar en aanvaar mekaar se psigiese, geestelike en morele naaktheid en weerloosheid. In Maleagi 2:15 staan daar dat die Here man en vrou een gemaak het sodat daar ’n nageslag kan wees wat Hom eer. God weet gelowige ouers kweek gelowige kinders.”
Eenwording in die huwelik is ’n wonderlike proses van gees én liggaam. Doen moeite om jou maat op te bou, aan te vul en te ondersteun. Jy doen dit nie ter wille van jou maat nie, maar ter wille van die spesiale eenheid waarvan jý ’n onontbeerlike deel is.
Deur Lize Groenewald
Addisionele bronne: Die Bybellennium – ’n Een-volume kommentaar.