Wat is jou verhouding met die tweeling? Geniet jy jou man se gunsteling speelgoed en tooi hulle in mooi kantbra’s? Is hulle vir jou ’n frustrasie sedert puberteit? ’n Noodsaaklike simbool van jou vroulikheid?

Grootte is altyd ter sprake. Spanspekke, pomelo’s, lemoene of litchis . . . dit is nie asof jy kon kies wat in jóú mandjie beland nie! Dalk is jy nog altyd redelik ongelukkig met jou pakkie. Of dalk het jy ná die borsvoeding van jou babas nuwe respek gekry vir dít wat jy nog altyd net as ’n sekssimbool beskou het. Moontlik het jy vrede gemaak met jou twee borste wat hul werk goed gedoen het, al sit jy nou met twee empty envelopes . . .

Die meeste van ons worstel in die een of ander stadium met ’n taai kwessie rakende ons borste. Soos die elfjarige meisie wat vroeër as haar vriendinne begin bra dra. Soos die borskankerlyer wie se man voorheen trots verklaar het hy is ’n boobs-man. Soos die nuwe ma wat ná die geboorte van haar kinders nie meer kans sien om haar push-up bra tydens seks uit te trek nie. En soos die 36DD-kandidaat wat wens sy kon ’n moulose trourok dra.

’n Bietjie meer as twee teesakkies

“Ná ek my twee kinders normaal gehad en albei geborsvoed het, het ek nou net ’n bietjie meer as twee teesakkies vol,” vertel ’n INTIEM-leser. “Ek voel borste is ’n teken van jou vrouwees, iets wat jou meer vrou maak, en ek het net mooi niks meer oor nie.” Sy vertel dat hoewel sy nie ’n rekmerk het nie en met ’n plat maag sit, sy steeds skaam voel omdat haar borste nou “amper so plat” soos haar maag is.

Nog ’n leser skryf oor haar positiewe ervaring met borsvoeding, maar ook die negatiewe gevoelens oor haar borste wat daarmee saam gekom het. “Ek het altyd klein borste gehad, maar skielik, ná die derde baba, is dit asof my borste ‘gekrimp’ het. Skielik voel ek minder vrou. Ek sal altyd ’n trotse mamma wees, maar sou graag net weer ’n normale C-cup wou dra.”

Wat sê my Adam oor my borste?

Ons verhouding met ons borste is só kompleks. ’n Leser vertel hoe sy ná haar swangerskap gesukkel het om die seksuele en moederlike rol van haar borste te onderskei. Haar borste het vergroot van ’n 34B na ’n 38DD. Sedert sy ophou borsvoed het, het hulle teruggekeer na ’n 36B. “Kyk, hulle hang en hulle is vol rekmerke, maar vir hierdie twee is ek net dankbaar. Ek moet sê dit was vir my baie lekker toe my man my ’n ruk gelede ’n kompliment oor my borste gegee het. Ja, hulle is nou nie meer wat hulle was nie, maar hulle het hul deel gedoen. Plus: ’n Goeie bra verrig wondere.”

Vroue is bekommerd oor wat hul mans van hul borste dink. En geen wonder nie! Onder soogdiere is ons die enigste spesie waar die man seksueel opgewek word deur die vrou se borste. Dit is net by die mens waar die vrou se borste gedurende puberteit vergroot. En dit is ook net ons wat borsstimulasie as voorspel en gedurende seks gebruik!

Swaar dra aan albei kante

Vir elke vrou wat ongelukkig is oor haar klein borste, is daar iemand wat swaar dra aan haar groter bates. Soos die INTIEM-leser wat skryf: “Jong, borste is ’n groot ding vir mans, ongeag van die grootte. My man is natuurlik mal daaroor. En ek sal sê my borste is een van my beste bates. Maar dit raak swaar. ’n Mens se skouers en rug ly daaronder. Ek sal graag myne ’n bietjie kleiner wil laat maak (van ’n DD na ’n C), maar dit is ’n kosmetiese prosedure en die mediese fonds dek dit nie.”

Sy voeg grappenderwys by: “Altesaam nege uit tien mans verkies groot borste. Die tiende een verkies die ander nege manne!”

Daar is talle vroue wat sielsongelukkig was met hul borste en sê dat ’n borsvergroting hul lewens ten goede verander het. Daar is ook diegene wat ontdek het dat die gras nie noodwendig groener is aan die ander kant van die draad nie.

’n Leser op INTIEM se Facebook-blad vertel dat sy ’n borsvergroting ondergaan het (maar eintlik net haar borste wou lig). Die resultaat was ’n 34DD ná haar voormalige 34B. “Ek het gedink dat ek beter oor myself sou voel met perky boobs, maar dit was nie die geval nie.” Haar borste was swaar en sy het hoofpyn ontwikkel. Haar brabandjies het ook diep kepe oor haar skouers in haar vel gesny. Boonop kon sy nie klere kry wat netjies pas sonder om iewers oop te gaap nie.

Sy skryf dat haar man reeds vóór haar operasie tevrede was met haar borste en dat hy gewaarsku het dat sy gaan spyt wees. “Ek het sowat sewe jaar daarmee saamgeleef. Ek het dit aan die Here opgedra en bely dat ek weet dit was ’n fout.” Een aand het sy teenoor haar man erken dat sy ’n fout gemaak het en genoem dat sy die silikoon wou laat verwyder. Hy het dadelik ingestem en sy het dit gedoen.

“Ek het my eie borste terug. Dit is die beste ding wat ek kon gedoen het,” sê sy

Jou borste en jou selfbeeld

Navorsing toon dat ’n vrou se verhouding met haar borste haar dag-tot-dag lewe dramaties kan beïnvloed. Dr Jill Castro, ’n kliniese sielkundige, het “emosionele borsgesondheid” ondersoek deur intensiewe navorsing onder vroue wat hul borste weens kanker laat verwyder het en vroue wat hul hele lewe lank groot borste gehad het.

Dit het duidelik na vore gekom dat vroue wat ongelukkig is met die voorkoms en grootte van hul borste, meer geneig is om te sukkel met ’n lae selfbeeld, ’n swak liggaamsbeeld en probleme met intimiteit.

Navorsing toon ook dat vroue wat nie van hul borste hou nie, minder geneig is om aan dié deel van hul lywe te raak en dus ook minder geneig is om vroegtydig ’n knop op te spoor wat die aanduiding van borskanker kan wees. Daar is ook ’n ongesonde klem in die media op hoe die “perfekte paar” moet lyk.

Borste word uitgebeeld as die optimale sekssimbool. Dít kan vroue wat hul borste moet laat verwyder weens kanker se gevoel van aantreklikheid en vroulikheid laat skade ly. Sommige vroue voel asof ’n mastektomie ’n belangrike simbool van hul vroulikheid verwyder en hulle is bekommerd dat hul mans hulle dan nie meer aantreklik gaan vind nie.

Gelukkig is dit aan die verander en baie vroue meen dat hulle enige tyd van hul borste sal ontslae raak in ruil vir ’n hoë gehalte lewe daarna. In ’n onlangse studie oor die uitwerking van borskanker op seksualiteit, liggaamsbeeld en intimiteit, sê dr Leslie R Schover, ’n sielkundige van Ohio: “Die meerderheid vroue hanteer die spanning van kanker-chirurgie en die verlies van ’n bors goed.”

Die klem op die behoud van borsweefsel en opsies vir rekonstruksie gee vroue ’n nuwe gevoel van beheer oor hul behandeling, en is redelik suksesvol daarin om vroue weer gemaklik met hul lywe te laat voel, meen Leslie.

Borste kom in all shapes and sizes. Miskien is dit tyd om op te hou om joune te vergelyk met dié van voorbladnooiens, hulle lief te kry en hulle te waardeer vir hul rol in jou lewe, maar ook om hulle nie die bepaler van jou seksualiteit te maak nie. Jy is immers volbloed vrou, ongeag die feit dat jy klein borste het, groot borste het of geen borste het nie . . .

Word lief vir die tweeling!

  • Koop die regte bra’s! Kyk ook na die verskillende tipes ondersteuning wat verskillende bra’s bied. Wil jy hê jou borste moet gelig word? Soek jy ’n borsgleufie? Smag jy na behoorlike ondersteuning? Soek jy ’n groter voorkoms? Daar is iets vir elke Eva!
  • Dra jou klere slim. As jy groot borste het wat jy nie wil beklemtoon nie, dra ’n cowl neck-bostuk wat aandag trek na die area bó jou borste. Boonop bedek die kraag jou borste. Een kleur van bo na onder help ook om die aandag af te lei van jou borsgrootte.
  • Gebruik grimering! As jy ’n bietjie kortkom in daardie departement, gebruik ’n highlighter aan die bokant van jou borste om hulle te beklemtoon en ’n donkerder verbronser tussen jou borste om die illusie van ’n borsgleufie te skep.
  • Word lief vir hulle. Doen gereeld ’n selfondersoek in die spieël om borskanker vroegtydig op te spoor. Kry ’n lekker vogroom of gebruik klapperolie om jou borste ná badtyd mee te masseer. Dit aktiveer die limfstelsel, wat help om gifstowwe vry te stel. As jy goed vertroud is met jou borste, kan jy boonop enige abnormaliteite betyds voel.

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.curiosityaroused.com, www.cosozo.com, www.nytimes.com.