Sonder om jou die skrik op die lyf te jaag, wil ons jou graag waarsku dat (indien jy dit nie geweet het nie) jou lewe gaan verander ná kinders. Die veranderinge is nie noodwendig sleg nie (die meeste hiervan is belonend), maar vir baie paartjies is dit ’n reuse aanpassing.
Jy beny jou sussie haar nuwe baba. Klein Rebekka is ’n droomkind. Sy slaap stroopsoet in haar wiegie en word net een keer snags wakker. Tot die dag wat alles omswaai en jou suster met blou kringe onder haar oë by jou opdaag.
Haar hare is ongewas in ’n poniestert vasgebind, haar voete is in tekkies en jy kan sweer sy het daardie top eergister aangehad. Sy is ’n driekwartier later as wat sy gesê het sy sou wees en sy is hier om jul wegbreeknaweek saam met hulle te kanselleer. “Alles het verander . . .” sê sy en jy verbeel jou jy hoor die Jaws-kenwysie in die agtergrond. Haar stem word laag en haar oë gevaarlik: “Ek het twee dae laas gebád. Ek en Danie maak beurte om ons take aways te eet.” Nou raak jy skoon benoud oor jou suster se trant. Sy gaan voort: “Almal irriteer my. Ek sing The Wheels on the Bus in my slaap. Ek gaan nóóit weer seks hê nie. Ek het gister vir Boelie uit die huis uit gejaag vir geen rede nie. En ek weet nou, ek sal nóóit op die strand kan lê nie!” Nou huil sy. Jy gaan haal die Tequila en twee glase. En tussendeur die tissues aangee, gaan bel jy gou stilletjies jou ginekoloog om daardie Mirena-afspraak te vervroeg!
Hmm, jou lewe verander inderdaad as daar kinders is en om na die praatjies van nuwe ouers te luister, is seker die beste vorm van voorbehoeding! Maar nou moet jy dinge in perspektief sien. Daardie selfde ouers wat net sowel Klaagliedere kon geskryf het, is nie nugter nie. Hulle is bedwelm deur ’n toestand wat meegebring word deur te min slaap en te veel sagte speelgoed. Tina B Tessina, ’n huweliksberader van Kalifornië, sê dat baba-skok paartjies met ’n slag kan tref en dat hulle dan meen hulle het geen idee gehad waarvoor hulle hul inlaat nie. Daar is natuurlik goeie tye ook en jy sal ook eendag daardie stap neem en besef hoekom almal dit doen! Maar intussen moet jy en manlief ’n lysie maak. ‘n Lysie van wat julle twee alles moet doen vóór daardie eerste bondeltjie vreugde sy verskyning maak . . .
Bestee ’n groot homp van jul spaargeld op daardie trippie!
Ja, ’n baba is duur en jy gaan die geld nodig hê vir ’n bad wat vir die baba soos ’n baarmoeder voel en ’n wipstoeltjie met deuntjies in drie verskillende tale – maar wanneer die baba eers daar is en jy en manlief teer op jul wittebrood herinneringe (wat skielik só lank terug voel) gaan julle spyt wees julle het nie maar op daardie eksotiese vakansie gegaan nie. Want jy gaan nie kans sien om jou maande oue bloedjie vir ’n week by sy ouma te los nie. En dan, wanneer hy drie word, gaan jy met ’n skok agterkom hy sit nou ’n (baie duur) vliegtuigsitplek vol! Boonop is skemerkelkies met sambreeltjies ná sononder nou iets van die verlede met sussie wat wil gaan doedoe en jy gaan só besig wees om jou te bekommer oor die kinderklub by die oord, dat jy en manlief jul skuba-duiksessie geensins gaan geniet nie. So, om al hierdie dinge uit te skakel, gaan nóú op daardie droomvakansie. Terwyl jy nog kan hoola tot laatnag en op ’n scooter kan spring!
Los jul kinderagtigheid en word groot!
Jy “straf” hom nog met drie dae stilstuipe oor daardie belediging wat hy gedink het is ’n kompliment. Hy vergeet nog so af en toe sy bachelor-dae is verby en kuier saam met die ouens tot laatnag. Dít is miskien hoekom julle nog ’n paar jaar moet wag. ’n Paar jaar waarin julle julself kan uitsorteer, jul geite kan laat staan en bietjie kan grootword.
Natuurlik is daar paartjies wat nooit grootword nie! Maar dit help om ’n mate van stabiliteit in jul verhouding te hê vóór julle met ’n gesin begin. Só woed julself nou uit. Gaan op reise, gaan op girls nights en kuier saam met die pelle tot laatnag. Doen alles wat julle gedoen het toe julle op universiteit was (okay, ámper alles!) binne die grense van getrouheid en bestee geld op speelgoed soos jetski’s en nuwe gholfstokke. As julle wil bou of restoureer, doen dit nóú sodat julle mekaar amper kan vermoor sonder ’n kind wat toekyk en nie ná die kinders se geboorte moet kies tussen teëls uitsoek en kleuterskoolkonsert kostuums nie.
Bou jou loopbaan met alles wat jy het
Tussendeur die spelery, werk aan jou loopbaan. Dit is nou die tyd vir jou om die baas se guns te wen, jouself te bewys en daardie korporatiewe leer met die spoed van wit lig te klim. Nou is die geleentheid om op daardie twee weke-lange oorsese konvensie te gaan, oortyd te werk en jou maatskappy se onthaal-toelaag te benut om nuwe kliënte te werf. Daar is nie ’n beter tyd as nóú om ’n nuwe besigheid te begin en om dit op die been te kry nie. Dit beteken geensins dat jy nie ’n florerende loopbaan én ouerskap kan juggle nie, maar as waterpokkies en eerste treë in die prentjie kom, gaan dit sóveel moeiliker wees. Nou het jy net een ander persoon om in ag te neem – jou lewensmaat. En hopelik gun hy/sy jou dit. Dinge raak ongetwyfeld gekompliseerd as jy eers die ouer word-roete gestap het en kinders het baie liefde en aandag nodig. Dit is boonop lekker om nou genoeg geld te spaar sodat jy eendag sonder spanning daardie multi-funksionele stootwaentjie sal kan aanskaf.
Geniet mekaar (en mekaar se lywe) met mening
Gaan ontdek saam nuwe restaurante, spring in die kar en gaan op ’n onbeplande road trip, gaan fliek! Hê seks in elke kamer van die huis. Enige uur van die dag. Vir solank soos julle wil! Geniet dit om ’n paartjie te wees. Slaap láát op Saterdagoggende en doen dinge wat julle nader aan mekaar kan bring, soos om vir dansklasse te gaan of saam te kook. Ouerskap beteken nie dat julle lewensgehalte gaan afneem nie, maar dit beteken wel dat julle sal moet beplan! Quickies in die voorportaal sal nou waarskynlik iets van die verlede wees (of beperk wees tot die babysitter se skedule). Restaurante sal kindervriendelik moet wees en seks sal beplanning verg. Belangrik: As die feit dat jy jou vryheid sal moet prysgee jou enigsins benoud maak, wag eers ’n rukkie. “Dit is ’n rooi vlag as die vooruitsig om jou sin vir spontaniteit te verloor, jou desperaat laat voel,” sê Tessina. “Hoewel julle beslis sal moet rustiger raak as julle ouers word, moet julle weet dat om kinders te hê nie die einde van ’n pretlewe saam is nie.”
Leer om konflik te hanteer
Elke paartjie baklei en ons almal het slegte dae, maar as jy voel dat daar meer slegte dae is as goeies, moenie dink dat kinders die pleisters vir ’n stukkende verhouding is nie. Om die waarheid te sê – die teenoorgestelde is waar!
Ouerskap skep spanning en die eise van ouer wees sal dalk net jul bestaande probleme onder die vergrootglas plaas. Natuurlik is geen verhouding perfek nie, maar julle moet deur dinge werk soos grootmense. As onverantwoordelikheid, woede, alkoholprobleme of ’n gebrek aan vertroue julle laat worstel, kry eers hulp voor julle ’n kind in die wêreld bring. Die grootste fout wat julle kán maak is om te dink dat ‘n kind jul probleme gaan oplos! As julle boonop nog bagasie uit jul kinderdae dra, met gesinsgeweld of ouers wat nie teenwoordig was nie, sorteer hierdie dinge eers uit deur ’n terapeut te gaan spreek voor julle ouers word.
Pas jou suster se kinders op
Dis dalk ’n goeie idee om ’n kroos te leen. Ja, ons maak nie ’n grap nie! Pas jou sussie se kinders op vir ’n dag of selfs ’n naweek. Dit is die beste oefening om belangrike lesse oor ouerskap te leer, want dit is een ding om ’n vriendin se pasgebore baba vir tien minute vas te hou en ’n ander ding om twee peuters vir ’n naweek op te pas! Dit sal julle leer hoe om kinders te hanteer en julle insig gee oor hoe om met mekaar om te gaan. ’n Voorsmakie van hoe dit sal wees die dag wanneer julle jul eie het! ’n Gillende kind bring iets in ’n mens uit wat jy dalk self nog nooit gesien het nie. As julle dit betyds besef, kan julle leer om daaraan te werk. Dit is goed om kinders op te pas en beide kante te sien – die goeie en die slegte – voor julle besluit dit is nou die regte ding (en die regte tyd) om die Pil te los.
Doen iets gevaarlik en onverantwoordeliks
Gaan weg vir ’n heerlike grenslose naweek by ’n plek soos Sun City, met diep swembaddens, dobbeltafels, watersport en aand vertonings. Allermins die plek vir kinders (jy kan dalk eendag jou kinders soontoe neem, maar dan gaan dié vakansiepret eerder uit jungle gyms en klein swembadjies bestaan). Doen ook iets heeltemal gewaagd soos om valskerm te spring. Jou idee van gevaar verander heeltemal die dag wat jy kinders kry. Skielik kry jy ’n verantwoordelikheidsin en die vrees van wat met hulle gaan gebeur as jy iets oorkom en word jy sommer paranoïes (tot jy daaróór is). Wanneer jy die dag kinders het, gaan jy waarskynlik ineenkrimp by die gedagte dat jy régtig saam met haaie geswem het en sê: “Ek sal my kind nóóit toelaat om so iets te doen nie!” Ja, regtig!
Kry ’n babavriendelike netwerk in plek
Ja, jou lewe gaan verander, maar dit hoef nie heeltemal onherkenbaar te word teen dit wat jy eens gehad het nie – mits jou baba-netwerk in plek is. Mense wie se ouers naby bly, het geen idee hoe ander dit regkry om sonder familie-ondersteuning oor die weg te kom nie. Dit is noodsaaklik wanneer jy te doen kry met die dag-tot-dag logistiek van kinders en loopbaan. En wanneer jy soms sommer in trane uitbars omdat jy nie weet wat om met jou tantrum-kleuter te maak nie, help daardie oor meer as wat jy ooit kan dink! “Hoe meer geïsoleerd ’n paartjie is, hoe meer uitdagings sal hulle moet hanteer,” meen John Evans, skrywer van die boek Marathon Dad: Setting a Pace that Works for Working Fathers. “Die kwessies wat jy gaan teëkom, sal voel asof hulle in ’n lugleegte bestaan as jy nie iemand het om jou idees mee te deel, of ander ouers het met wie jy vreugdes en vrese kan deel nie,” meen hy.
Verander jou leefstyl ten goede
Rook vir oulaas daardie laaste pakkie sigarette. Die meeste paartjies neem nie ’n doelbewuste besluit om kinders te hê nie, dit gebeur net. Ander paartjies gooi weer die pakkie kondome en Pil by die venster uit en kyk wat gebeur. Maar as jy kan, beplan. Baie ginekoloë beveel aan dat paartjies ’n pre-swangerskap gesondheidstoets moet ondergaan voor hulle probeer om kinders te hê. Deur na die familiegeskiedenis te kyk en ’n paar toetse te ondergaan, kan verhoogde risiko’s vir genetiese siektes of oorerfbare geboorte defekte vroeg vasgestel word. Vind ui wat jul kanse op ’n gesonde baba kan benadeel. Dinge soos oormatige alkoholgebruik en hoë stres vlakke kan ’n negatiewe uitwerking hê op jul vermoë om ’n gesonde baba te verwek.
Kyk na jul beursie en bank
Daar is talle jongmense vandag wat wil wag met swangerskap tot hulle ‘finansieel gereed’ is daarvoor. Vyf jaar later kom hulle agter dat niemand ooit ‘finansieel gereed’ is vir ’n baba nie! ’n Kind het nie ryk ouers nodig nie, maar wel ouers wat hom liefhet en ondersteun. Tog beteken dit nie dat julle geen finansiële voorsorg moet tref nie. Maak ’n afspraak met ’n finansiële beplanner om julle te help om sekere doelwitte daar te stel. Stel ’n baba-budget op, met al die uitgawes wat julle moontlik in daardie eerste jaar sal moet aangaan soos doeke, die babakamer, speelgoed en klere. Begin nóú spaar vir daardie universiteitsgraad – sodra die eiland vakansie afbetaal is.
Wees selfsugtig – vir oulaas!
Skakel jul selfone af en geniet daardie laatmiddag slapie op ’n Sondagmiddag. Koop daardie peperduur skoene. Vat ‘n duvet day en gaan sink neer op ’n vet sofa met ’n tydskrif in die hand. Gaan vir daardie manikuur, pedikuur en sommer die massering ook! Dit is nou die tyd om selfsugtig te wees, want as die kinders eers daar is, gaan jy vir ten minste 18 jaar tweede viool speel! Al daardie dingetjies wat nou nie so kosbaar lyk nie, gaan vir jou onaantasbaar wees. En geniet jou gym-tyd. As daar kinders is, gaan dit nie so maklik wees om by die gimnasium uit te kom nie en al die baba se oorskietkos laat die kilo’s opgaar. Dit is boonop ’n bonus om op jou heel gesondste te wees die dag wat daardie blou strepies op die swangerskaptoetsie verskyn. As jy jou swangerskap fiks en gesond begin, gaan dit na die tyd veel makliker wees om weer in jou klere te pas, meen dié wat weet.
Dra daardie bikini, al dink jy jy moenie . . .
Miskien is jy soos Victoria Beckham en lyk jy fantasties twee maande ná die geboorte van jou eersteling, maar die kans is goed dat jou magie nooit weer ná jou swangerskap gaan lyk soos daarvoor nie. So dra daardie bikini nou in elke kleur wat jy kan!
En . . . wanneer jy die dag daardie twee blou strepies sien, vier dit! ’n Kind is ’n uitvloeisel van jul liefde, die produk van jul passie en ’n droom wat realiseer. As julle huwelik gesond is, gaan die koms van jul nuweling dit net beter maak, met ’n klomp nuwe vreugdes en plesiere. Jul mees opwindende avontuur ooit!
Is julle gereed?
Hier is vyf tekens dat julle moontlik gereed is vir kinders:
• Julle is albei gretig om ouers te word. Moeie dinge forseer nie. As enigeen van julle ernstige bedenkinge het oor of die tyd reg is, wag eerder.
• Julle wil kinders hê vir die regte redes. Moenie julself onder druk plaas deur kinders te kry omdat al julle vriende daardie roete volg nie. Julle moet ’n ware innerlike begeerte vir ouerskap hê.
• Julle verhouding is standvastig. ’n Kind moenie blootgestel word aan aanhoudende konfrontasie nie. Werk eers aan jul huwelik voor julle kinders in die prentjie bring.
• Jul mediese fonds is in plek. Jy kan nie ’n kans waag sonder ’n mediese plan as jy kinders het nie. Nie net ter wille van die geboorte nie, maar kinders word onverwags siek en dan wil jy nie spyt wees jy het nie hierdie dinge oordink nie.
• Jy is reg om tweede viool te speel. Kinders dwing jou om iemand anders se gevoelens en belange bo jou eie te plaas. Dit kan baie vervullend wees, maar jy moet volwasse wees om daardie besluit te kan neem. Dit is lewenslange toewyding.
Wat sê INTIEM se Facebookers?
• “Leer mekaar se behoeftes ken en verstaan sodat klein issues nie later groot issues word nie. Bestee alleentyd saam en nie altyd tyd saam met vriende nie. Gaan alleen op uitstappies en vir naweke weg. Wees onverantwoordelik, vat die pad en reis voor die regte verantwoordelikhede begin – ná 25 jaar se getroude lewe wens ek ons het al hierdie dinge gedoen.” – Ebeth
• “Help mekaar nou al in en om die huis, want wanneer die kiddies kom moet julle mekaar kan uithelp en bystaan sonder om kwaad te raak vir mekaar. Slaap genoeg, want jong, sleep deprivation is ’n aaklige ding. Wees dankbaar vir mekaar en bid saam. Kinders hou ons nederig en op ons knieë. En onthou, dit is ’n voorreg om ’n ouer te kan word, nie ’n reg nie. Daarom dra ons die verantwoordelikheid van grootmaak sáám.” – Nadia
• “Gaan ry bike of klim ’n berg. Begin ook nou sommer al met date night. Dit is belangrik as hulle eers daar is en makliker om vol te hou as jy vroeg begin.” – Heidi
• “Gaan stap die Visrivier Canyon-staproete in Namibië!” – Carina
• “Ons was op ’n Afrika-toer na die Serengeti vir vyf weke. Wat ’n belewenis! Ek is só bly ons het dit gedoen voor ons kinders gehad het, want met klein kindertjies is dit so te sê onmoontlik. Ek mis laat slaap baie!” – Ciska
Addisionele bronne: bridalguide.com; glamour.com; parenting.allwomenstalk.com