Jy het jou trouman ontmoet. Die prins op die wit perd vir wie jy ‘ja’ gaan sê en by wie jy ’n string kinders gaan hê! Die enigste probleem is … hy weet dit nie.
Daphne (34) was vroeg in haar twintigs op ’n loopbaan in die uitsaaiwese ingestel. Sy wou nie vroeg trou nie en eers laat in haar dertigerjare kinders hê. Sy en Johan het mekaar op universiteit ontmoet en vanuit die staanspoor was hul liefde onblusbaar.
Toe sy 29 word, het haar sienswyse egter begin verander. “Al my vriendinne het getrou, en daar was selfs al ’n paar wat hul eerste kind gehad het. Ek het met Johan in daardie rigting begin gesels, maar ek kon dadelik sien dat die onderwerp hom ongemaklik maak. Hy het gesê: “Dit is nie hoe jy gevoel het toe ons mekaar ontmoet het nie. Hoekom wil jy nou aan iets karring wat werk soos dit is?”, en ek het dit daar gelaat. Daar het egter geleidelik ’n omwenteling in my plaasgevind.”
Daphne het al hoe ongelukkiger geword. Uit Johan se antwoord kon sy nie aflei of ’n huwelik met haar enigsins deel van sy toekomsplanne was nie. Kort daarna het een van haar vriendinne se langtermynkêrels haar gelos en binne twee maande met ’n ander vrou getrou. “Ek het begin kwaad word vir Johan (sonder dat hy dit geweet het) en nie geweet hoe om van hierdie woede ontslae te raak nie. Ek het ook aan ons verhouding begin twyfel en gewonder hoekom hy dan nie met my wíl trou nie. Ons het immers toe al agt jaar uitgegaan.”
’n Vriendin het voorgestel dat Daphne aan Johan ’n ultimatum moet stel: óf hulle trou, óf hulle stap hul verskillende paadjies. Sy het dit oorweeg, maar wóú nie hê die verhouding moet tot ’n einde kom nie. Sy het ook gevoel dat dit manipulerend is en haar swak, in plaas van sterk sal laat voorkom. Sy wou ook nie gehad het dat hy met haar moes trou omdat hy verplig word nie, maar omdat hy wou.
Mettertyd het dit egter vir haar te veel geraak en sy het beplan om die verhouding te beëindig, al was sy hóé lief vir hom. Een aand het hy voor haar deur opgedaag en gesê dat hulle moes praat. “Uit die bloute het hy vir my gesê dat ek die wonderlikste ding is wat nog ooit met hom gebeur het, en hy het op sy een knie neergesak en ’n blink ring uit sy sak gehaal! Ek kon dit nie glo nie. As ek hom vandag vra wat hom van plan laat verander het, sê hy net: “Die tyd was reg”. Ek moes nou wel volgens sý tydlyn werk, maar vandag is ek só bly dat ek nie omgedraai en weggestap het nie, want hy is die beste ding wat nog ooit met my gebeur het.”
Hoekom bewe mans se broeke as hulle kerkklokke hoor lui?
Daar is derduisende vroue wat met ouens uitgaan wat ’n toe boek oor moontlike trouplanne is. Dalk vra jy vir jouself die vrae of hy hom ooit aan jou gaan toewy, en of hy dalk jou hart gaan breek.
Sommige vroue, soos Daphne se vriendin, wag jare geduldig op Meneer Reg om te besluit of hy wil trou. Vir jare wy hulle hul lewens aan hom toe, maar een dag hoor hul skielik dat hy genoeg van die verhouding gehad het. ’n Paar maande later is dieselfde man – wat altyd gesê het dat hy nie vir die huwelik gemaak is nie – aan ’n ander vrou verloof!
Dit is natuurlik vir ’n man om vrese te hê. As jy weet dat hy wel eendag ’n getroude vrou aan sy sy wil hê, kan jy probeer vasstel waarvoor hy vrees, sodat jy kan help om jul verhouding te laat vorder. Maar hoekom vrees ’n man toewyding? Hy is waarskynlik bang dat:
- hy sy onafhanklikheid sal moet inboet. Al het hy jou hoe lief, wil hy nie noodwendig elke minuut by jou deurbring ni As hy sien jy gun hom sy ruimte, lei jou eie lewe en hy hoef jou nie vir ’n ‘af’-aand te smeek nie, sal hy jou meer waardeer.
- jy hom wil verander. Mans wil nie verander word ni As jy ’n probleem het, praat dit uit, maar moenie kerm nie. ’n Neulery gaan hom die hasepad laat kies.
- jy sal verander en dat die prettige, opwindende meisie in ’n klouerige, veeleisende vrou gaan ontaard. Hy wil jou held wees, maar wil nie verantwoordelikheid vir jou geluk aanvaar ni Wys vir hom dat jy reeds gelukkig is en dat hy net jou bestaande geluk verbreed.
- hy aan jou sal moet rapporteer. Hy vrees die dag wanneer hy oor sy geld en tyd verslag moet lewer. Daar was dalk al ’n paar meisies uit sy verlede wat voortdurend gevra het waarom hy nie bel ni Vertrou hom, tensy jy rede het om dit nie te doen nie.
- jul verhouding vervelig gaan raak. Dit is natuurlik dat jy in ’n langtermynverhouding gemaklik sal voel en jou toonnaels voor hom sal begin verf. Moenie te gou gemaklik raak ni Hou hom geïnteresseerd in jou.
- hy geen seggenskap sal hê ni As jy hom begin vertel hoe wonderlik dit was om hom te ontmoet en hoe lekker jul lewens saam gaan wees, sal hy vinnig sy hardloopskoene aantrek!
Daar is egter net sóveel wat jy van jou kant af kan doen. En al doen jy alles reg, kan hy dalk steeds van al die juwelierswinkels wegskram.
Daphne se storie het ’n gelukkige einde, maar wat doen jy as jy regtig vir ’n man lief is en dit lyk nie of hy binnekort – of enigsins – saam met jou voor die kansel wil staan nie? Dikwels raak ’n vrou op ’n wonderlike man verlief, net om te ontdek dat hy skrikkerig is om te trou, of nie daarin glo nie.
As ‘happily ever after’ nog altyd deel van jou toekomsprentjie gevorm het, is jy in ’n moeilike posisie. Moet jy van hom vergeet en aanbeweeg na iemand wat wél bereid is om ’n ring te koop? Moet jy harder probeer om hom te oorreed om met jou te trou, of moet jy geduldig wag? Dit wil voorkom of dit van baie dinge afhang, en of mans wat nié daardie stap kan neem nie, in drie kategorieë verdeel kan word.
Eerstens is daar diégene wat wel wil trou, maar wat baie seker wil maak dat jy die regte een is, en vir die regte tyd wil wag. Tweedens is daar diegene wat ’n fobie oor toewyding het en nooit wil trou nie, en derdens is daar die groep wat wel láter wil trou, maar nie met jou nie! Ongelukkig bestaan laasgenoemde mans ook uit twee groepe: die groep wat praat, en die groep wat nié praat nie – waarvan die meerderheid aan die laasgenoemde groep behoort. Dit verskaf nie vir jou ’n oplossing nie, en jy moet dus raai watter tipe hy is, sodat jy jou benadering daarvolgens kan aanpas.
Watter benadering moet jy volg? Kliek hier vir die 3 benaderinge om te volg as hy nie wil trou nie.
As jou kêrel huiwerig is om te trou, moenie al jou emosies aan hom openbaar nie. Wees op ’n subtiele wyse terughoudend. Wees minder beskikbaar en beplan uitstappies sonder hom saam met jou vriendinne. Die idee is nie om hard to get te speel nie (en beslis nie om hom jaloers te maak nie), so sorg dus dat die uitstappies nie saam met mans is nie! Jy wil egter vir hom wys dat jy ’n lewe sonder hom kan hê en dat jy maklik deur sy vingers kan glip. Dit sal hom twee keer laat dink oor wat hy wil hê.
Soms is dit egter nie die moeite werd om in ’n verhouding te bly wat nie goed vir jou is nie. Om weg te stap, beteken om op te hou verwagtinge koester, maar die skrywer Yangki Christine Akiteng sê: “Ek dink mense gee te vinnig pad. Dit is die hartseer realiteit van ons moderne wêreld. Ons dink dat verhoudings in netjiese pakkies met instruksies kom: “Voeg ’n bietjie seks by en leef lank en gelukkig saam.” Baie mense besef nie dat verhoudings tyd en werk verg nie. Met al die raad oor ‘baie visse in die see’, lyk dit na die aangewese ding om weg te stap, maar baie jare later is jy – net soos die mense wat die raad vir jou gegee het – steeds besig om een van die baie visse te probeer vang! Wat sê dit van jou as jy nie eers een vis in ’n see vol visse kan vang nie?”
Vir vrouens wat van die een verhouding na die ander spring, is dit net so maklik om ’n huwelik te beëindig as dinge nie goed gaan nie. Dink dus goed oor jul situasie. As jy weet dat dit nie gaan verander nie, en hy jou ongelukkig maak, bespreek die kwessie. As dit egter steeds blyk dat dinge nie gaan verander nie, is dit dalk vir jou tyd om te groet.
Addisionele bronne: www.relationship-remedies.com; www.takeinhand.com; www.menandcommitment.com; www.wikihow.com
***
MARRIAGE CAPSULE METHOD: 7 STAPPE TOT ‘N HUWELIK WAT HOU! INTIEM SE BESTE PRODUK OOIT! Kliek hier!