Dis vreesaanjaend en beslis nie romanties nie. Jy wil droom oor julle troue, julle wittebrood en julle lewe saam – jy wil beslis nie nagmerries kry oor hoe julle daarvoor gaan betaal nie! Dis egter ’n broodnodige gesprek wat vroegtydig ernstige huweliksprobleme kan voorkom . . .

Promosie

“Wat verdien jy?” Om dit vir ’n vreemdeling te vra, is swak maniere. Om dit vir jou verloofde te vra, is verantwoordelike optrede. Groot rusies ontstaan as gevolg van verskillende bestedingstyle, wanbesteding van gesamentlike inkomste en skuld.

Geld is die nommer een bron vir spanning in ’n huwelik en om nóú sekere sake uit te stryk, kan julle konflik spaar en selfs jou toekomstige huwelik van egskeiding red! Dis ’n ongemaklike onderwerp, maar geld gaan ’n invloed hê op jul lewensgehalte, drome en doelwitte. Dit sal jul leefstyl bepaal en die harmonie in jul huwelik sal deels daarvan afhang.

Om jou finansies met iemand anders te deel, behels dat jy daardie persoon volkome vertrou en dat jy bereid sal wees om ’n paar opofferings te maak ter wille van jul huwelik. Lauren Lindsay, direkteur van finansiële beplanning by ’n finansiële adviseursmaatskappy in Los Angeles, sê dat mans en vroue verskillend na geld kyk. “Ek ervaar dat vroue geneig is daartoe om geld te sien as ’n mate van sekuriteit, terwyl mans dit sien as ’n bron van mag en status.”

Promosie

Maar nie net dit nie, elke individu se waardes jeens geld word gevorm deur verskeie faktore, wat insluit: Opvoeding, die media en voormalige besluite.

Wanneer jy op trou staan, is daar nie meer plek vir geheime tussen jou en jou maat nie. Deursigtigheid is ononderhandelbaar. ’n Oop dialoog kan lig werp op jul finansiële pluspunte en swakhede en die manier waarop julle oor geld praat, is een van die grootste aanduiders van hoe julle as ’n paartjie in die huwelik sal kommunikeer.

Maak dus nóú ’n afspraak in jul dagboeke vir jul eerste geldgesprek. Oor ’n jaar, wanneer jy en jou maat mekaar goed ken en ’n kommunikasiestyl ontwikkel het wat julle toelaat om sensitiewe temas deur te trap, kan julle weer hierdie gesprek in meer detail herhaal en kyk hoe julle in jul eerste huweliksjaar gevaar het wat finansies aanbetref.

Eish . . . wil jy praat?

Jy wil nie klink asof jy ’n geldwolf is nie en ook nie asof jy jou maat nie vertrou nie, maar dit is nodig om die gesprek te inisieer. Sê byvoorbeeld: “Ek weet dis nou dalk nie die lekkerste date night nie, maar ek het gelees dis belangrik dat ons vóór die troue oor ons finansies gesels sodat ons voorbereid voor die kansel kan staan. Hoe lyk jou dagboek Donderdagaand?”

As jou maat vyandig reageer, kan jy wonder wat hy het om weg te steek. As hy antwoord deur te sê dis ’n saak wat “homself sal uitsorteer”, kan jy antwoord deur te noem dat altesaam 50% van alle egskeidings deur geldkwessies veroorsaak word.

$$$ Date night

Sodra julle op ’n datum besluit het, besluit hoe julle dit gaan doen. Wat van ’n ete by jul gunsteling restaurant, of ’n tuis-date met ’n bottel goeie wyn? Doen vooraf jul huiswerk: Trek bankstate en skryf neer wat jy verdien, wat jou bates behels en wat jy skuld. Dis soms moeilik om jou geldfoute te bely, maar bieg eerder nou as later. Hou die afspraak lekker lig en begin deur jou maat te vra wat hy/sy graag oor jou geldsake wil weet.

Op die agenda

  1. Gesels oor jul grootwordjare. Het julle geldprobleme gehad? Wie het vir jou studies betaal? Wanneer en hoe het jy jou eerste sakgeld verdien? Het jy studieskuld? Wanneer het jy jou eerste klererekening oopgemaak? Glo jou ouers aan liefdadigheid?
  2. Praat oor jul onderskeie geld-persoonlikhede. Is jy oordeelkundig of is jou tweede naam Big Spender? Is handelsname vir jou belangrik?
  3. Wys vir mekaar jul bankstate. Praat oor bates (rekeninge, beleggings en eiendomme), inkomste, uitgawes, aftreefondse en skuld (kredietkaartskuld en lenings).
  4. Praat oor skuld. Hoe voel julle daaroor? Het een van julle skuld en watter afbetalingsplan is in plek? Hoe gaan dit jul lewens oor die kort termyn beïnvloed?
  5. Praat oor jul inkomste. Watter aftrekkings is ter sprake? Hoe werk jul inkomstestruktuur? Kry jy en jou maat maandeliks betaling? Is daar bonusse en kommissie? Hoe vas is jou vryskut-inkomste?
  6. Gesels oor jul geldfilosofieë en finansiële prioriteite. Sommige behoeftes en begeertes weeg swaarder as ander. Wat is vir jou belangrik? En vir jou maat? Verskil julle in daardie opsig?

Neem praktiese besluite

Met bogenoemde inligting kan julle ’n plan van aksie bewerkstellig. Besluit hoe julle jul huishouding gaan bestuur.

  • Maak ’n lys van individuele kort- en langtermyndoelwitte. Vergelyk nou jul lysies. Waar kom julle doelwitte ooreen en waar verskil dit van mekaar?
  • Besluit wie die minister van finansies van jul huis gaan wees en onthou julle bly ’n span. Dikwels word hierdie besluite geneem na gelang van wie die kenner is of vir wie dit meer gerieflik gaan wees.
  • Hoe gaan jul toekoms daarna uitsien? Gaan jy ophou werk as daar kinders kom? Sal julle oor die weg kan kom met ’n enkel-inkomste huishouding?
  • Besluit of julle dit kan bekostig om nóú te trou. Om ’n huwelik op skuld te begin, is nie ’n goeie idee nie. Indien dit te duur is vir julle om nóú te trou, skuif die datum effe uit (nie onbepaald nie) en stel ’n spaarplan in plek sodat dit wel vir julle teen daardie datum haalbaar sal wees.

Besluit op ’n huweliksvoorwaardekontrak

“’n Huweliksvoorwaardekontrak is ’n goeie idee, want anders is elkeen se toedeling van finansiële verantwoordelikhede op sy of haar eie waardestelsel gebaseer,” meen Arisa de Lange, ’n prokureur by De Lange en Moolman Prokureurs in Pretoria.

Wat beteken wat?

  • Binne gemeenskap van goedere beteken in kort: Wat myne is, is joune en andersom. In die geval van skuld, kan ’n eiser op albei partye se bates beslag lê.
  • Buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling, beteken dat skuldeisers nie op die ander party se boedel beslag kan lê nie. Arisa verduidelik: “In die geval van egskeiding word elke party se netto boedel bereken en die party met die kleinste aanwas kry 50% van die party met die grootste aanwas se boedel ná die boedels van mekaar afgetrek is. Die sommetjie lyk byvoorbeeld soos volg: As myne R500 000 is en joune is R300 000, kry jy R200 000 gedeel deur twee: R100 000. Buite gemeenskap beteken: Wat joune is, is joune en wat myne is, is myne. Elke party se bates is ook van skuldeisers beskerm.”
  • Buite gemeenskap van goedere: Wat joune is, is joune en wat myne is, is myne. Elke party se bates is ook van skuldeisers beskerm.

Alle eiers in een mandjie?

Besluit hoe julle jul begroting gaan bestuur. Julle hoef nie noodwendig jul volledige salarisse in een rekening te dompel nie. Wat van ’n gedeelde rekening waarin ’n sekere persentasie van jul inkomste maandeliks inbetaal word vir sekere uitgawes, soos inkopies? Hou dan ook ’n gedeelte hiervan in jul eie rekeninge vir persoonlike aankope soos geskenke en klere.

Terwyl sommige kenners, veral vanuit ’n Christelike perspektief, glo dat mense hul finansies moet kombineer, voel ander kenners dat afsonderlike finansies ’n gesamentlike finansiële stand kan versterk. As julle nie uitsluitsel hieroor kan kry nie, besoek ’n finansiële adviseur om julle hiermee te help.

Wie betaal wat?

Uit ’n morele oogpunt raai Arisa paartjies aan dat elke party bydra in ooreenstemming tot sy of haar inkomste om konflik te voorkom. “As jy met ander woorde as ’n verloofde paartjie voel dat jou maat nie genoegsaam kan bydra nie, aanvaar dit 100% of heroorweeg jou posisie. Die situasie gaan waarskynlik nie verander nie en dit gaan beslis rusie in die toekoms laat ontstaan, al dink ’n mens as verliefdes nie so nie.” Kenners meen hoe vroeër ’n paartjie dit uitklaar, hoe beter.

As jy kom met bagasie

Geldsake is ’n bietjie meer kompleks wanneer ’n paartjie op ’n gevorderde ouderdom trou. Dan is daar dikwels meer bates ter sprake en meer partye by betrokke (soos volwasse kinders uit ’n vorige huwelik). Gaan spreek ’n objektiewe finansiële adviseur om julle hiermee by te staan.

Wees bedag op gevaarligte. As jou maat huiwerig is om inligting oor sy finansies met jou te deel, moet jy vasstel hoekom. Dit maak hom moontlik net ongemaklik omdat dit so ’n sensitiewe onderwerp is, maar daar is ook die moontlikheid dat hy iets het om weg te steek. Sien julle geldgesprek as ’n toets vir jul kommunikasievermoëns en konflikhantering. So ’n gesprek kan julle uitdaag, maar ook heelwat nader aan mekaar bring sodat julle saam as ’n span kan begroot en spaar om jul doelwitte te bereik.

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.time.com, www.fiance.youngmoney.com, www.bankrate.com, www.investopedia.com, www.businessinsider.com, www.shermanwealth.com, www.huffingtonpost.com, www.yourtango.com.