Knopiespinnekoppe en swart mambas daar gelaat. Vra menige millenials vandag wat hulle die skrik op die lyf jaag en “die huwelik” is hoog bo-aan die lysie. Baie jongmense druk deur – ten spyte daarvan, maar daar is talle wat nooit die vervulling van ‘n huwelik wat werk sal beleef nie, omdat hulle net té bang is om te trou.

Promosie

Sowat sestig jaar gelede het mans op ‘n gemiddelde ouderdom van 22.6 jaar getrou en vroue was ‘n raps ouer as 20. Vandag lyk die gemiddelde ouderdomme van jongmense wat trou heelwat anders. Mans trou op 29.8 en vroue op 27.8. En die gewildheid van die huwelik neem af. In ‘n artikel deur Metro.co.uk  is bepaal dat in 2017, net meer as die helfte van alle volwassenes wat in Engeland en Wallis woon, getroud is.

In Suid-Afrika lyk dinge nie veel beter nie. In 2008 het die huweliksyfer op 186 522 gestaan, maar sedertdien was daar ‘n stelselmatige afname tot 138 627 in 2015 (wat beteken dat sowat 48 000 minder paartjies dié besluit geneem het). En volgens die nuutste beskikbare statistiek het dit in 2016 effe toegeneem, maar nie noemenswaardig nie, met ‘n totaal van 139 512 huwelike.

So, hoekom is mense bang om te trou?

Promosie

Die ouer generasie is gereed om hulself hieroor uit te spreek. “Jongmense kan nie meer vasbyt nie. Dis ‘n kitsgenerasie wat wil hê alles moet vinnig gebeur. En wanneer dit nie werk nie, swipe hulle links…” meen Chrystal (47), met ‘n tong-in-die-kies verwysing na die Tinder-kultuur.

“Jongmense van vandag het nie meer deursettingsvermoë nie en seks voor die huwelik is só algemeen dat daar geen rede is om te trou nie. Hoekom sal jy die koei koop as jy die melk gratis en verniet kry? Hulle bly eerder saam – minder gekompliseerd in hul oë en makliker om aan te beweeg as hulle moeg raak vir die status quo.”

Chrystal se woorde is hard en hoewel sy sekere punte aanraak wat sommige millenials self erken waar is, raak sy nie die ware kern van die situasie aan nie.

REDE 1: ‘DIE HUWELIK IS UITGEDIEN’

Ja, sommige jongmense beweer dat die huwelik net ‘n instelling is wat nie meer vir hulle in dié tyd kan werk nie. Hulle beskou dit as ‘n uitgediende, patriargale ideologie en blote “papierwerk.”

“Hoekom sal ek wil trou?”, meen Riani (24). “My ouers het geskei en ek het gesien hoe beide hul identiteit verloor. Ek en my ou gaan al agt jaar lank uit en ons het geen behoefte om ooit te trou nie. Ons woon al vier jaar lank saam, en ja, ons sal saam kinders hê, maar ‘n huweliksertifikaat kompliseer als.”

REDE 2: ‘DIE HUWELIK IS DUUR EN ONNODIG’

Brienna Perelli, ‘n mede-professor in demografie aan die Universiteit van Southhampton, meen dat dit eerder ‘n kwessie van prioriteite is.  “Mense kom net nie meer daarby uit nie. Hulle sal graag wil trou maar eindelik sal hulle eerder hul geld op iets ander bestee.”

Die feit dat almal om haar meegesleur word deur die hype van trou-beplanning, is iets wat Kim Quindlen, ‘n millenial, onrustig stem.

Sy skryf op thoughtcatalog.com dat sy beleef hoe daar soveel klem op troureëlings geplaas word, dat paartjies vergeet waarom hulle uit die staanspoor trou. Dié dat baie jongmense vandag voel hulle kan eerder die geld wat ‘n huwelikseremonie kos, gebruik as ‘n deposito op hul eerste huis, kar of ‘n reis deur Europa.

REDE 3: ‘EK WIL NIE MY IDENTITEIT VERLOOR NIE’

Kim meen sy weet dat die huwelik onselfsugtigheid vereis, maar dat sy nie gereed is om onselfsugtig te wees nie. Dit klink wel baie, eh, selfsugtig, maar Kim se generasie is bereid om dit te erken! “Ek weet jy kan steeds onafhanklik wees as jy getroud is, maar dit is ‘n baie fyn lyn en ‘n moeilike balans om te hou – jy moet elke dag daaraan werk.”

Sy vertel dat sy weet wat dit verg om ‘n goeie huwelik te hê, omdat haar ouers ‘n sterk huwelik het, maar dat dit vir haar moeiliker lyk as enigiets wat sy haar kan voorstel.

REDE 4: ‘EK WIL NIE MY ONAFHANKLIKHEID VERLOOR NIE’

Kim skryf: “Daar is so baie dinge wat ek wil wees, behalwe om ‘n vrou te wees en ek weet ek gaan hard moet werk om dit te laat gebeur… dit is ook vir my belangrik dat, bykomend tot vrou-wees ek ander dinge ook wil wees: ‘n dogter, ‘n suster, miskien ‘n ma, ‘n vriend, ‘n kollega, miskien ‘n baas, ‘n rolmodel en ‘n klomp ander dinge wat bydra tot my identiteit.”

REDE 5: ‘EK WIL NIE SKEI NIE, SO EK TROU EERDER NIE’

Sy skryf dat om te trou ‘n super belangrike besluit is, want sy wil dit net een keer doen. Mense is geneig om millenials te kritiseer vir die feit dat hulle die huwelik te ligtelik opneem, maar die vrees word gebore juis omdat hulle dit so ernstig benader.

“Ek wil dit nie opmors nie. En as dit kom by die huwelik, is daar menige maniere waarop jy dit kan opmors,” voor sy afsluit met die woorde: “Ons moet vertrou dat ons op mekaar kan staatmaak deur enigiets. Wat presies is wat ek wil hê, maar ook die mees vreesaanjaende ding in die wêreld is”

Die oorkoepelende rede hoekom millenials nie trou nie…

So, dit is maklik om jongmense te veroordeel en te sê dat hulle te lig in die broek is vir wat die huwelik vereis. Maar is millenials nie die eerste generasie wat werklik ook verantwoordelik na die huwelik kyk nie? Daar is soveel mense wat in ongelukkige huwelike staan omdat selfsug hoogty vier, maar minstens erken millenials dat hulle selfsugtig is en bang is dit vernietig hul huwelike.

Hulle word dikwels veroordeel vir hul besluit om nié te trou nie en daar word beskuldig van ‘n tekort aan belangstellling. Maar op die blog loveumentary.com skryf Nate Bagley dat hy drie jaar lank geneem het om die huwelik na te vors en daarvoor voor te berei… Hy bespreek die saak al die afgelope drie jaar in-diepte met mede-millenials. En Nate beaam wat baie van ons glo: Dat vrees die primêre faktor is wat millenials verhoed om die knoop deur te haak. Millenials voel onvoorbereid op die eise wat die huwelik bring:

  1. ‘N VREES VIR TELEURSTELLING.

Eerstens voel hulle onvoorbereid vir realistiese verwagtinge. “Ons is die eerste generasie wat grootgemaak is op ‘n standvastige dieet van Disney prinsesse en realiteits-televisie. Ons is ons lewe lank onrealistiese voorbeelde gevoer van ekstreme en onrealistiese voorbeelde van wat die liefde veronderstel is om te wees. Aan die een kant is daar die stories van Prins Charming wat die prinses red en aan die ander kant is daar Kim Kardashian, Tiger Woods en Charlie Sheen.

  1. ‘N VREES VIR ONTNUGTERING.

Nate noem ook dat millenials onvoorbereid is op taai gesprekke. “Ons het ons ouers sien baklei en gedink: ‘My huwelik sal nooit so wees nie’. Of ons het ons ouers sien baklei en dit het ‘n vals verwagting by ons geskep dat liefde en konflik nie saam kan bestaan nie.”

  1. ‘N VREES VIR FOUTEER.

Groot keuses is vreesaanjaend en millenials voel onvoorbereid hiervoor: Waar jy 20 jaar gelede nie met baie keuses gelaat is nie, word vandag se enkellopendes gestrem deur Die Paradoks van Keuse, meen Nate.

Sosiale media en aanlyn afsprake stel jou bloot aan duisende potensiële maats met die kliek van ‘n knoppie. Met so ‘n wye keuse, raak dit al hoe moeiliker om net een persoon te kies! En sodra jy die regte een ontmoet, bly die vraag in jou agterkop knaag: Wat as ek iemand kry wat net nóg ‘n bietjie ouliker/aantrekliker/ryker/slimmer/snaakser, interessanter is?

Nate haal Barry Schwartz, outeur van die boek The Paradox of Choice aan: “Om te leer om te kies, is moeilik. Om te leer om reg te kies, is moeiliker. En om te leer hoe om reg te kies in ‘n wêreld vol onbeperkte moontlikhede is nóg moeiliker, dalk té moeilik.”

  1. ‘N VREES VIR BAGASIE.

Daar is ‘n vrees vir bagasie wat baie millenials huiwerig is om te dra:  ‘n Vrees vir verwerping, ‘n onvermoë om te vertrou, ‘n lae selfbeeld, ‘n kort humeur, verslawing, negatiwiteit… die lys is eindeloos.

Kim skryf:  “Ek besef ek sal soms iemand anders se laste ook moet dra. Ek is bekommerd oor hoe ek dit gaan hanteer.”  Sy is werklik bang dat haar innerlike krag nie genoeg gaan wees om te help dra nie, veral wanneer sy self sukkel om haar eie loopbaan en haar eie lewe uit te sorteer.

 

Uit die perspektief van ‘n kenner

In ‘n artikel op huffpost.com, skryf die angs-kenner Sheryl Paul dat die top vyf vrese vir die huwelik die volgende insluit: ‘n Vrees vir egskeiding, ‘n vrees om mekaar te verkul, ‘n vrees om jou ouers se huwelik te leef (wat afstand, rusies en ‘n liefdelose huwelik insluit), ‘n vrees dat die liefde verdamp en ‘n vrees vir die onbekende.

“As ons in ‘n kultuur geleef het wat verloofde paartjies aangemoedig het om voorhuwelikse vrese te ondersoek, in plaas daarvan om elke vrye oomblik en dollar in die beplanning van ‘n troue te voeg, sou ons sê: “Natuurlik is julle bang! Die huwelik is die grootste commitment wat jy ooit sal maak en met ons kultuur se sombere suksessyfer en meeste mense wat grootword met huwelike vol konflik of sonder liefde, is julle natuurlik bevrees om van die krans af te spring en hierdie stap in geloof te neem!”

En wat as dit jou instink is wat vir jou sê jy moet die hasepad kies? Sheryl vertel dat sy duisende paartjies behandel het wat hierdie vrees openbaar het. “Elke enkele een wat die tyd geneem het om hul kern-vrese aan te spreek het teruggekom met die een of ander weergawe van die volgende woorde: ‘Ek is so dankbaar dat ek nie van my maat af weggehardloop het nie en die ware emosionele werk gedurende my verlowing gedoen het, wat my toegelaat het om te trou. Ons het ‘n wonderlike huwelik en ek kan nie glo ek het dit amper weggegooi nie.”

Eindelik sê Sheryl kom al die top vrese vir die huwelik neer op een oorkoepelende vrees: Die vrees vir verlies. En as jy besluit om as gevolg daarvan nié te trou nie, ontneem jy jouself van ‘n leeftyd van innerlike rykdom.

So, wat maak jy met jou vrees?

Jy konfronteer dit. Stel vas waar jou vrese vandaan kom. Weet dat geen huwelik stres-vry is nie en dat jy wel in ‘n stadium só kwaad vir jou maat gaan word, dat jy gaan wonder of jy die regte besluit gemaak het!

Konflik is ‘n normale deel van enige verhouding en huwelik. Maar, meen Meg Gemell, ‘n huweliks- en gesinsterapeut op crosswalk.com “die teenoorgestelde van liefde is nie woede nie, dit is apatie. Dis ‘n risiko om jou hart oop te maak, maar toewyding kan een van die mees vervullende, beskermende geleenthede wees wat God aan jou gee.”

Is jy bang jou huwelik is soos jou ouers s’n? Moenie toelaat dat dit jou keer om te trou nie. Jy kan mos die siklus breek! Jy leer uit jou ouers se foute en jy kan leer uit voorhuwelikse berading en by goeie rolmodelle.

As jy bang is jy verloor jou identiteit, onthou dat jou identiteit in Christus gesetel is. Om te trou gaan jou nie stroop van jou talente, jou voorkeure of jou roeping as ‘n individu nie. Ja, jy sal soms jou maat se behoeftes voor jou eie moet plaas – moet dit nie verwar met identiteitsdiefstal nie, maar as ‘n “beeldskone dans van die gee en neem van liefde.”

Niemand verwag van jou om ‘n minderwaardige weergawe van jouself te wees die dag wat jy trou nie. Inteendeel! Twee mense kan mekaar skaaf tot beter, blinker weergawes van hulself!

So, vra jouself of jy jou hele lewe lank ‘n toeskouer gaan wees vir in geval jou huwelik nie uitwerk nie? En of jy eerder jouself gaan toerus met soveel as moontlik kennis en wysheid om toe te sien dat dit werk, omdat jy hierdie wonderlike avontuur nie wíl misloop nie…

Addisionele bronne: www.thoughtcatalog.com; www.huffpost.com; www.maviscompany.com; www.metro.co.uk

Artikel deur Annelize Steyn