Geen getroude paartjie kan die bokskryt heeltemal vermy nie. Om te baklei, is deel van ’n goeie, gesonde verhouding – mits jy dit op die regte manier doen.
Soms gaan dit oor die wasgoed op die vloer. En soms oor die vuil wasgoed wat in die openbaar gewas word. Soms oor die duwweltjies en soms oor die groot dorings. Elke huwelik ervaar konflik. As julle nóóit konflik ervaar nie, moet die gevaarligte begin flikker – dit kan die simptoom van onderdrukte gevoelens wees.
Die definisie van konflik is die hantering van verskillende sienings oor ’n saak. As jy en jou maat presies dieselfde oor álles voel, is dit allermins ’n gesonde situasie.
Volgens Gustav en Elna Muller, huweliksberaders en sprekers, is daar per definisie niks verkeerd met konflik nie, maar wanneer verskillende sienings destruktief hanteer word, is dit ’n ongesonde situasie. Daar is paartjies wat van mekaar verskil. En dan is daar dié paartjies wat borde gooi, skreeu en selfs handgemeen raak terwyl hulle mekaar beledigings toesnou.
Om soos eersgenoemde te baklei, is normaal. “Mense wil konflik vermy omdat hulle dink ’n verhouding sonder konflik is ’n gesonde verhouding, maar ’n verhouding sónder konflik het êrens ’n baie groot fout. Dis juis ’n verhouding wat met gesonde konflikhantering alle verskille suksesvol verwerk, wat suksesvol en gesond is. Konflik is nodig in elke situasie waar twee mense verskillende sienings oor ’n saak het. Wat onnodig is, is om verskille (konflik) met manipulasie, dominansie en vermyding te hanteer.”
Praat jy dinge nié uit nie, broei jy en jou maat oor die verskille – wat later net groter probleme veroorsaak. Vermy destruktiewe konflik deur gereeld te praat oor dít waaroor julle verskil. Luister na mekaar en sodoende sal dieselfde konflik nie herhaal word nie. “Elke persoon het die reg om sy mening te gee, dit beteken nie julle moet saamstem nie. Praat dit deur en sien dit as afgehandel.”
Volgens dr Elmari Mulder Craig, seksuoloog en verhoudingskenner, is die Rules of Fight Club gebaseer op die verstandhouding dat deur jou maat seer te maak, jy eintlik jouself seermaak.
“Dis belangrik dat verskille uitgesorteer word, anders word ’n molshoop spoedig ’n berg van frustrasie en vergelding. Dikwels is die oorspronklike rede vir die verskil gou vergete, maar dít wat gesê en gedoen is nie. Daarom is dit uiters belangrik dat paartjies hou by die reëls en persoonlike aanvalle en verbale mishandeling uitskakel. Sodoende versterk jy jou verhouding en verdiep die vriendskap nog meer.” Die uitsorteer van konflik skep ook ’n geleentheid vir vertroue en intimiteit sodat elke maat kan weet die ander een is nie daarop uit om hom/haar te verneder wanneer hulle verskil nie en dat daar steeds liefde sal wees, al stem hulle nie saam nie. Daar is die wete dat hulle hulself kan kwesbaar maak in die wete dat die ander party hulle nie sal verniel nie.
Die korrekte tydsberekening is noodsaaklik om die probleem te bespreek. Behou altyd selfrespek, respekteer jou maat se sienings en luister wat die ander party sê. Bespreek slegs die kwessie ter sprake en gee mekaar beurte om te praat. Deel jou gevoelens met jou maat, want kommunikasie is die enigste manier hoe die probleem gehoor en opgelos kan word.
As volwassene is slegs jy ten alle tye verantwoordelik vir jou gevoelens, niemand anders nie. Fokus op werkbare, realistiese, positiewe oplossings om die probleem vir goed uit die weg te ruim.
Antoinette van Wyk, ’n kliniese sielkundige in Kuruman en Kathu, gee raad oor hoe om konflik op die régte manier op te los en wat die reëls vir konstruktiewe konflikhantering is. Antoinette sê meningsverskille in huwelike is nodig en getuig van goeie kommunikasievaardighede en gesonde verhoudingspatrone.
Hoe gemaak om te keer dat ’n ligte meningsverskil tot ’n konflikontploffing lei en die hare laat waai? “Indien ’n meningsverskil opduik en die tyd en plek nie ideaal is om dit deur te praat nie (die kinders is byvoorbeeld by julle), sorg dat julle ooreenkom op ’n tyd wat albei van julle pas. Kies ’n neutrale plek, verkieslik nié die slaapkamer nie.”
Die reëls van die spel
Wanneer ’n konfliksituasie opduik en die emosies hoogty vier, is dit dikwels moeilik om te verhoed dat vuil spel plaasvind. Antoinette stel voor dat paartjies vooraf “reëls” vir kommunikasie opstel.
Byvoorbeeld:
- Kommunikasie mag nie aanvallend of beledigend wees nie.
- Gebruik ten alle tye “Ek-sinne”.
- Kom ooreen dat elkeen ’n gelyke beurt sal kry en dat die ander een net mag luister tydens sy/haar maat se spreekbeurt.
- Om te verseker dat die een wat luister sy of haar maat korrek gehoor het, kan julle vra dat elkeen ’n opsomming moet gee van die ander se standpunte.
- Aanvaar dat julle nie altyd oor alles gaan saamstem nie en dat julle selfs nadat elkeen sy/haar standpunt gestel het, steeds mag verskil.
Vergeet van bokshandskoene
“Onthou dat daar nie ’n wenner of ’n verloorder is nie. ’n Kompromie beteken dat albei partye iets sal moet prysgee. Wees grootmoedig genoeg om te erken dat julle professionele hulp nodig het,” sê Antoinette.
Die oplos van konflik kan uiteindelik nie net van een kant af kom nie. As albei nie aan boord is nie, kan dit selfs tot groter konflik lei. Wees op jul hoede vir tye wanneer julle albei moeg of gespanne is. Dit is verstommend hoeveel insig ’n mens kry wanneer jy eers kalm en uitgerus is. Moenie wegskram van konflik nie, maar leer uit die verlede. Moenie toelaat dat ’n rusie handuit ruk nie. En onthou: Los die bokshandskoene en kyk met sagte oë na jou maat!
Gustav en Elna raai aan dat jy en jou maat dit doen deur drie stappe te implementeer:
- Maak ’n weeklikse afspraak om oor jul verhouding te praat.
- Maak vrede daarmee dat konflik nodig is en dat dit nie destruktief hoef te wees nie.
- Vestig ’n gesonde konflikhantering-kultuur in jul verhouding.
Volgens die Muller-egpaar is dit belangrik om te weet dat daar altyd verskillende sienings oor sake gaan wees. ’n Paartjie moet tyd maak om na mekaar te luister, sonder om bedreig te voel oor die feit dat hulle verskil. Dis belangrik om mooi met mekaar te praat, aandagtig te luister en mekaar se menings te respekteer.
“Soek ’n oplossing wat iets van beide se behoeftes aanspreek, moenie ’n oplossing verwag wat jou eie behoeftes 100% gaan bevredig nie,” meen Gustav en Elna. En druk die pause-knoppie as emosie die oorhand kry – sit dan eerder die gesprek later voort.
Wat sê God oor konflikhantering?
Ds Karel Steyn, leraar van Potchefstroom, sê konflik is onvermydelik in enige huwelik. “Spreuke 27:17 sê dat yster deur yster geslyp word en dat vriende mekaar op hierdie manier vorm. Wanneer ’n mens yster gebruik om yster mee te slyp, dan spat die vonke dikwels. Só ook in ’n huwelik waar jy en jou beste vriend besig is om aan mekaar te skuur en skaaf,” sê Karel.
“Die vraag is egter: Hoe hanteer ek konflik vanuit my verhouding met God? Daar is veral twee gedeeltes wat vir ons van baie waarde kan wees: Spreuke 15:1 en Efesiërs 4:26-27 en 31-32.
Daar is ’n duidelike opdrag om sag te praat.
“In Spreuke 15 leer God ons dat ’n sagte antwoord die woede laat bedaar, terwyl ’n krenkende woord woede laat ontvlam. Om in tye van konflik ’n sagte antwoord te gee, wys vir die ander persoon dat jy in waarheid na die liefde soek, maar dat jy juis ook die vrede wil bewaar en die verhouding wil bou. ’n Sagte antwoord vertel iets van selfbeheersing en selfbeheersing word deur die Heilige Gees in ons gewek wanneer ons daarvoor vra in gebed. ’n Sagte antwoord is die eerste tree na ’n herstelde verhouding.
“Efesiërs 4 gee ook besonderse raad. In verse 26-27 leer Paulus ons dat as ons kwaad word, moet ons nie sondig nie en ons moet ook nie ’n dag kwaad afsluit nie, want op hierdie manier gee ons vir die duiwel vatplek in ons verhoudings. Nog meer só wanneer ’n man en vrou kwaad gaan slaap vir mekaar! Paulus hou egter tred met die realiteit, want hy sê: ‘As julle kwaad word . . .’. Dit is ’n realiteit dat ons gaan kwaad word. Hoe jy jou woede egter hanteer, is jou keuse,” sê Karel.
“Daarom gee Paulus in verse 31-32 van Efesiërs 4 hierdie raad oor konflik: ‘Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie, moenie vloek of skel nie, moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.’
“Die sleutel tot konflikhantering in ’n Christen-huwelik lê juis in hierdie laaste paar woorde: ‘Vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.’ Elke dag moet die wonderlike, genadige offer van Jesus Christus aan die kruis jou optrede bepaal – veral teenoor jou huweliksmaat en veral wanneer julle besig is om mekaar te slyp,” gee Karel raad.
In watter kategorie val jóú huwelik?
Ons huwelik is op ’n goeie plek – stabiel en gesond.
“Mense is geneig om konflik te sien as iets negatiefs wat ’n paartjie liefs moet vermy,” verduidelik Carien du Toit, sielkundige en Imago-terapeut wat spesialiseer in huweliksberading. “In der waarheid is konflik nie net déél van ’n gesonde verhouding nie, maar dit kan selfs as iets positief gesien word.”
Paartjies wat ’n stabiele en gesonde huwelik geniet, bring meestal ook goeie vaardighede in konflikbestuur na die verhouding, sê Carien. “Hulle gun mekaar spasie om te praat, ook oor moeilike onderwerpe. Hulle is nie veroordelend nie. Elkeen is bewus van sy of haar eie sielkundige oogklappe en hulle help mekaar in liefde om hierdie psigologiese blindekolle raak te sien.”
Ons huwelik is lou op die oomblik.
Die dag-tot-dag realiteit van ons gejaagde lewe het ook ’n uitwerking op ons verhoudings, verduidelik Carien. “Dis ongelukkig só maklik om in die groef van verantwoordelikhede te val en jou maat te hanteer soos ’n mede-projekbestuurder. Irritasies en moegheid laat ’n mens makliker byterig raak teenoor jou maat, wat maak dat jy kla oor die oorvol asblik terwyl jy eintlik gefrustreerd is met jou werk en ’n behoefte het dat jou maat jou raaksien as sy geliefde. Julle liefdesverhouding bly dan in die slag.
“Konflik bring energie. Wanneer maats disconnected voel, is hulle meer geneig om te baklei, want konflik bied ’n verandering in die sleur en verveling. Die probleem is dat maats dan baklei in plaas daarvan om liefde te maak.”
Besin oor die werklike onderliggende oorsaak van die konflik en maak prettige date nights ’n prioriteit. “Kyk na jou maat en vra jouself af: ‘Waarvan hou ek in hierdie persoon? Wat doen hy/sy reg?’”
Ons huwelik beleef ’n (hopelik tydelike) laagtepunt.
As ’n verhouding ’n laagtepunt beleef, toon maats dikwels tekens van passief-aggressiewe gedrag, sê Carien. “Elkeen probeer hom- of haarself beskerm en wil nie kwesbaar wees nie. Beide voel waarskynlik seergemaak en bang, en wil net graag gehoor word sonder veroordeling.”
Carien sê dis baie belangrik om perspektief te kry. Net een tree kan die pas aangee vir ’n gesonder huweliksverhouding. “Sê vir jou maat: ‘Ons is nie nou op ’n goeie plek nie. Ek wil hierdie seer konflik baie graag oplos. Ek wil nie met jou baklei nie en ek kan sien jy is ongelukkig. Vertel my asseblief wat in jou hart aangaan.’ Luister dan sonder onderbrekings of verdediging.”
Ons huwelik stuur af op ’n ramp.
As julle werklik op ’n slegte plek is, is dit noodsaaklik om hulp van buite te kry. “Teen hierdie tyd dra beide van julle opgehoopte woede, frustrasie en verwyte saam. ’n Mediator kan help om die magstryd tussen julle te ontknoop en elke maat se onderskeie interpretasies aan mekaar te vertolk.”
Dis nou tyd om hand in eie boesem te steek. “Staan pa vir jou eie issues. Vra jouself die moeilike vrae: ‘Wat is my bydrae tot die feit dat my huwelik is waar dit is? Wat kan ék verander?’ Ondersoek alle moontlikhede en sit alles in om jou huwelik te red.”
Deur Die Intiem redaksiespan