Toe Prins Harry en Meghan Markle voor die kansel gestaan het, het jy die boks snesies byderhand gehou. Die res van die huis moes tjoepstil bly en jy wou elke oomblik in real time aanskou! Jy kan dalk nie wag om self in Meghan se skoene te staan nie, maar wat as jou prins wye draaie om elke juwelierswinkel loop?
Die strop. Dít is hoe daar deur die jare grappenderwys verwys word na die dag wanneer ’n jongman homself commit tot die huwelik. Baie jongmanne is skugter vir die groot T-woord, maar word uiteindelik “groot” genoeg om self te smag na ’n huwelik en gesin van hul eie.
Daar is egter etlike manne wat so bang vir trou is soos die duiwel vir ’n slypsteen. Dit is dié ou wat hou van jou teenwoordigheid in sy lewe, maar allerlei verskonings uitdink as dit kom by verloof raak omdat hy inderwaarheid ’n fobie vir commitment het. Is jou maat een van hulle?
Tien tekens van ’n man wat toewyding vrees:
1. Jy kan nie waarlik op hom peil trek nie. Iemand wat toewyding vrees, is dikwels ook onbetroubaar as dit kom by sy woord en stiptelikheid. Hy kanselleer maklik jul afsprake en jy moet jou dikwels doodsukkel om ’n antwoord uit hom te kry. Jou niggie se troue is om die draai en hy het jou nog nie laat weet of hy saamgaan nie. Die skrif is teen die muur . . .
2. Hy het klaar ’n lys van verskonings gereed. Het julle al gepraat oor verloof raak? Of vermy julle die onderwerp? As jy jou maat al effens in ’n hoek gedruk het, maar sy lys van verskonings so lank is dat jy nog nie die einde daarvan gehoor het nie, gáán jy waarskynlik nie die einde daarvan hoor nie.
3. Hy hou nie van familiebyeenkomste nie. Ja, hy vergesel jou enige tyd na ’n lekker partytjie of kuier saam met vriende, maar om die een of ander rede het hy altyd ’n verskoning as dit kom by ’n familiegeleentheid.
4. Hy is getroud met sy werk. Ambisie is ’n goeie ding, maar as dit kom by werk, wil dit voorkom asof hy ietwat van ’n verslawing het. Hy werk later as die normale ou, gaan vroeër werk toe as die normale mens en werk is een van daardie verskonings wat dikwels ter sprake kom wanneer nommer een en nommer twee op ons lysie konflik veroorsaak.
5. Hy vermy ernstige onderwerpe. Kom dit by die nuutste grap, is hy die eerste een om dit te vertel. Hy is die koning van koeitjies en kalfies. Maar moet hom nie in ’n hoek druk met ’n ernstige gesprek nie. Sodra die gesprek in die rigting van kinders, geloof of voorhuwelikse berading beweeg, lyk hy soos ’n vasgekeerde dier in ’n hok.
6. Jy was eerste om jou verhoudingstatus op Facebook te verander. Jou maat, daarenteen, het nou, twee jaar later, steeds niks aan syne gedoen nie. Terwyl die wêreld kan sien dat jy in ’n vaste verhouding is, is hy vir die hele Facebook-gemeenskap presies waar hy drie jaar gelede was – enkellopend en beskikbaar. En druk jy hom in ’n hoek hieroor, sal hy óf beweer dat hy nie kans kry om iets hieraan te doen nie óf jou beskuldig dat jy te “intens” is.
7. Hy maak sy vorige verhouding af as “niks ernstigs nie”. Dít terwyl jy weet hy en sy vorige meisie het drie jaar lank uitgegaan en dat sy hart gebroke was toe hy die verhouding beëindig het. Wanneer jy die onderwerp aanroer, verander hy dit of maak asof sy eks die verhouding in ’n veel ernstiger lig beskou het as hy.
8. Dit voel asof hy altyd die een is wat meer ruimte nodig het. Wanneer dit lank stil was tussen julle twee, is dit jy wat die eerste WhatsApp-boodskap stuur? Is dit altyd hy wat die afspraak kortknip of homself eerste uit die voete maak?
9. Jy sukkel om antwoorde uit hom te kry. Dit is asof hy ’n doodse vrees het om homself tot enigiets te commit. Van wat julle vir wegneemetes gaan bestel, tot die vraag of jy kaartjies vir die konsert kan kry, hy vermy ’n direkte antwoord. Daarmee saam gebruik hy graag woorde soos “miskien”, “dalk” of “moontlik”.
10. Jy is die eerste een om jou liefde te verklaar. Hy sê nie graag dat hy lief is vir jou nie, en vermy dit meestal om oor sy gevoelens te praat. Hy verwys ook eerder na jou as sy “vriendin” as om jou sy vaste meisie te noem en praat van jul “vriendskap” eerder as jul verhouding.
As dit bekend klink, kan dit wees dat jy uitgaan met ’n ou wat graag speletjies speel. Hy hou daarvan om hard to get te wees en geniet dit om jou te laat wonder. Die ander scenario is natuurlik dat hy doodbang is vir toewyding en dat jy óf rustig moet wag vir die dag wanneer jy glo hy gaan opvang, óf die realiteit in die gesig moet staar dat julle dalk verskillende dinge uit die verhouding wil hê.
As jy nie baie seker is van jouself nie, kan só iemand jou in jou eiewaarde laat twyfel. Jy kan dalk baie meer “opvreet” as wat jy veronderstel is om te verduur. As jy vermoed dat jou man commitment vrees, trotseer die onderwerp – hoe moeilik dit ook al mag wees. Vra hom reguit of hy meer tyd nodig het en of hy jou nie sien as deel van sy langtermynplanne nie. Die antwoord is dalk pynliker as waarvoor jy nou kans sien, maar dit kan jou op die lange duur baie hartseer spaar.