Voel dit soms asof die koeitjies en kalfies vrylik in jou en jou maat se geselskap wei, maar julle nooit by die dieper geestelike waarhede uitkom nie? Asof julle net nie ’n geestelike aanknopingspunt het nie?
Julle kan ’n taai kwessie uitstryk, ’n moeilike argument uitredeneer en soveel kwinkslae uitryg dat vriende by julle kom kuier vir ’n aandjie se vermaak! Maar veel meer is daar nie juis nie. Kenners meen dat ’n geestelike konneksie wondere vir ’n huwelik kan verrig. Dit kan twee individue op ’n dieper vlak só ineen vleg dat hulle ’n kragtige paartjie word . . .
1ste konneksiepunt: Bid saam met mekaar
Daar word nie verniet gesê: “A couple who prays together, stays together” nie. Om God in jou huwelik in te nooi (en gereeld as ’n eenheid met hom te gesels), is ononderhandelbaar. Die ideaal is dat julle beurte maak om hardop saam te bid: Vir jul huwelik, vir mekaar. Dit is nie vir almal ewe maklik nie en as dit vir jou maat ’n uitdaging is, neem dit eers net op jouself. Dank God vir jou maat en vra vir seën, beskerming en oorvloed in jul huwelik. Dit is baie kragtig, intiem en binnekort sal jou maat die drang om self te bid nie kan weerstaan nie.
2de konneksiepunt: Vee die verlede uit
Dink aan foute uit jul huwelik se verlede soos aan besoedeling in ’n mooi skoon park, soos aan ’n vuil bril waardeur jy nie behoorlik kan sien nie. Dit is eers nadat jy daardie bril skoongevee het dat jy jou maat sal kan sien vir die wonderlike wese wat hy/sy is. Verwyte en slegte herinneringe maak alles blurry en veroorsaak ’n blokkasie vir geestelike groei. Dis regtig so eenvoudig (maar nie noodwendig so maklik nie) soos vergewe en vergeet, ’n direkte opdrag van God. Neem dus ’n doelbewuste besluit om waarlik ou koeie te begrawe en dit nie weer uit te grawe nie. Vee jou verlede skoon en fokus op die hede. As jy sukkel om dit reg te kry, lees boeke soos Philip Yancey se “What’s so amazing about grace?” of “Do yourself a favour: Forgive” deur Joyce Meyer.
3de konneksiepunt: Lees saam en luister saam
Maak dit ’n instelling om voor slaaptyd of met sonsopkoms saam te lees. Julle kan saam Bybel lees, ’n dagstukkieboek vir paartjies aanskaf, ’n toep soos YouVersion Bible aflaai en saam ’n program hierop volg, of ’n diep sekulêre boek met lewenswaarhede aanpak. As julle nie hou van die idee van hoofstukke nie, wat van mooi poësie deur Audrey Blignaut of Ingrid Jonker of essays deur skrywers soos Victor Hugo of CS Lewis? Julle kan selfs saam na podcasts luister of na ’n motiverende boek oor Goddelike huwelike op die karradio luister wanneer julle ver reis.
4de konneksiepunt: Kom nader aan die natuur
Daar is min dinge wat jou nader aan God bring as om tyd in die natuur deur te bring – gestroop van tegnologie, luukshede en allerlei onnodige, moderne gadgets. Die ideaal is om soms saam met jou maat iewers in die boendoes ’n tentjie te gaan opslaan, maar ’n staptog van tien minute lank elke middag of sterrekyk elke aand is beter as niks! Hou hande vas, gesels met mekaar en oor wat julle rondom julle sien. Staan in verwondering oor God se Skepping en beleef hoe nietig, klein en afhanklik julle voor Hom staan.
5de konneksiepunt: Filosofeer oor dinge
Vergeet ’n bietjie van die hier en nou en dink dieper, wyer, nader aan God. Praat oor lewenswaarhede en vra die groot vrae: Wat is my lewensdoel? Waarheen is ons op pad? Waar kom my onvermoë om empatie te toon vandaan? Hoekom sukkel ek so om oor my emosies te praat? Gaan honde hemel toe? Waarom laat God toe dat slegte dinge met goeie mense gebeur? Vrae soos dié laat ’n mens dieper delf – nie net in jou eie binneste nie, maar ook in jou maat s’n. Dit leer jou ook om God beter te leer ken. Ja, dit voel broos en ’n mens voel kwesbaar en soms wíl jy nie regtig oor hierdie dinge praat nie, maar dit is juis ook hoekom dit die band van intimiteit tussen julle en jul Vader versterk.
6de konneksiepunt: Eer jou tempel
Leef met ’n bewustheid van die feit dat jul liggame tempels is van God en dat julle dit só moet behandel. Om jou liggaam te eer en te waardeer vir waartoe dit in staat is, tree jy met respek op teenoor dít wat God jou gegee het. Dit beteken dat julle met versigtigheid omgaan wat dieet, leefstylgewoontes en oefening aanbetref. Deur saam só ’n reis na gesondheid te onderneem, tree julle met respek vir mekaar se liggame op. Nie net sal julle beter voel nie, maar ’n gesonde leefstyl sal ’n gemeenskaplike doelwit word wat julle nader aan mekaar en aan Hom bring.
7de konneksiepunt: Waag ’n kans
Klim uit jul gemaksone sodat julle opnuut kan leer hoe om God te vertrou. Soms is dit nodig vir jou om jou oë toe te hou, jou maat se hand vas te hou en by ’n tien-meter-krans af tot in die water te spring. Só doen dit. Waag kanse. Laat die adrenalien pomp. Begin saam daardie besigheid of knyp jul oë toe en trek na waar julle weet julle gaan gelukkiger wees. Julle sal nie weet of jul besluit die regte een was tot julle dit gedoen het nie, maar dit is ’n stap in geloof wat julle band sal versterk. Om saam die onbekende te waag, op mekaar en op God te vertrou, is goed vir ’n huwelik.
8ste konneksiepunt: Geniet mekaar se lywe
Ja, seks is ’n geskenk van God en dis daar vir julle genot. Al ooit opgemerk hoe ver jy van jou maat af voel as julle nie tyd maak vir seks nie? Hoewel die media en die mens seks baie goedkoop en oppervlakkig gemaak het, speel fisieke intimiteit ’n baie belangrike bindingsrol. Seks is seker die suiwerste vorm van intimiteit wat daar is. Geen wonder nie dat baie vroue só emosioneel raak na seks dat hulle ’n traan of tien stort. Jy voel nader aan jou maat en eenwording word baie konkreet . . . wat ’n wonderlike geskenk en praktyk wat jy kan geniet om nader aan jou maat en aan God te voel.
9de konneksiepunt: Soek goeie invloed
Jy ken die uitdrukking: “Meng jou met die semels . . .” Wel, gelukkig is die teenoorgestelde ook waar en slyp en skaaf mense mekaar ten goede. Omring julle met goeie, positiewe mense. As julle kan, kry ’n Christen-paartjie om as mentors vir julle op te tree – ’n paartjie teenoor wie julle kan bieg en vrae vra. ’n Paartjie op wie julle kan vertrou om vir julle eerlike raad en bystand te gee wat jul huwelik en jul geloof aanbetref. Identifiseer miskien ’n paartjie in jul selgroep en vra of hulle bereid sou wees om dié rol te vervul. Wie weet, ná julle vir ’n tyd lank gementor is, het julle geestelik dalk só gegroei dat julle bereid is om self as mentors vir ’n ander paartjie op te tree.
10de konneksiepunt: Raak onbaatsugtig
Kyk hoeveel krag lê in onbaatsugtige optrede. Saam is jy en jou maat ’n sterk span en as julle as ’n span daarnatoe werk om die wêreld ’n beter plek te maak, sal julle ongetwyfeld geestelik groei – dis immers wat God van ons verwag. Reik dus uit en kry ’n cause waaroor jy en jou man albei passievol voel. Is dit om groener te lewe en só die aarde beter te help bewaar, is dit om betrokke te raak by die verbetering van lewensgehalte onder ouer mense? Wat daarvan om jul talente en vaardighede pro bono aan te bied vir mense wat dit nie kan bekostig nie? Noem dit liefdadigheid as jy wil, maar dink wyer as ’n sopkombuis. Raak as ’n paartjie, as ’n span, aktief betrokke by ’n “pay it forward”-beginsel en jy sal sien hoe julle spiritueel uit jul nate bars.
Addisionele bronne: www.familyshare.com.