Wanneer beroemdes soos oud-president Bill Clinton, Tiger Woods en Arnold Schwarzenegger sê dat hulle vele seksuele indiskresies eintlik seksverslawing is, is dit maklik om te dink dat hulle slegs verskonings uitdink om verantwoordelikheid vir hul gedrag vry te spring. Voeg daarby die ontsettende pyn van die eggenoot of geliefde, wat besef dat daar waarskynlik ’n mate van geheimhouding en verraad oor ’n tydperk plaasgevind het, en ’n mens het ’n kookpot van menings en gevoelens. Maar wat is seksverslawing eintlik? Bestaan dit regtig en is daar hoop vir iemand wat beheer verloor het oor sy seksuele uitlewing?

Wat is seksverslawing?

Kundiges in die veld gebruik verskillende name hiervoor, soos seksverslawing, obsessief kompulsiewe seksuele gedrag of intimiteit- en konneksie-versteuring (intimacy and attachment disorder). Seksverslawing is ’n prosesverslawing. Dit gaan dus nie werklik oor die seks nie, maar eerder oor die proses van afwagting, fantasie, ontvlugting en dissosiasie wat dit skep.

Ten diepste kom dit gewoonlik vanuit komplekse kinderdae-trauma, wat intimiteit, konneksie en vertroue in mense bemoeilik. Seks word dan gebruik as ontvlugting en as ’n manier om die spreekwoordelike high te vind.

Promosie

Hoe lyk seksverslawing?             

Net soos met alkoholisme word die probleem nie noodwendig geïdentifiseer as gevolg van wat ’n persoon drink, hoeveel alkohol hy inneem of saam met wie hy/sy alkohol gebruik nie. Só is dit ook met die seksverslaafde.

Daar is gedrag wat tipies voorkom by ’n seksverslaafde, maar ongeag die gedrag, moet aan van die onderstaande kriteria voldoen word:

  • Daar is ’n gevoel van verlies aan beheer. Jy besluit om nie meer die spesifieke seksuele gedrag na te jaag nie, maar jy bevind jou keer op keer weer daar.
  • Jy hou aan om dit te doen, al het dit ingrypende negatiewe gevolge vir jouself, jou maat, jou gesin, gesondheid, finansies, werk of studies, of dit lei selfs tot ’n botsing met die gereg.
  • Daar is ’n obsessiewe najaag van seksuele gedrag of ’n beheptheid daarmee in jou gedagtes.
  • Skaamte en vrees dryf die gedrag en sodra die fantasie uitgespeel het, word die persoon weer deur skaamte en vrees oorval, wat daartoe lei dat die proses homself herhaal.
  • Seksuele gedrag sal gewoonlik ook eskaleer in terme van gereeldheid, intensiteit en onveiligheid in ’n poging om steeds die euforie te voel.

Watter gedrag is moontlik tekens van seksverslawing?

  • Kompulsiewe masturbasie tot by die punt van selfbesering.
  • Kompulsiewe pornografie kyk ter uitsluiting van ander gesonde aktiwiteite
  • Kompulsiewe, kroniese en korttermyn affairs.
  • Enige vorm van ekshibisionisme of ontbloting (onwettig).
  • Enige vorm van voyeurisme of afloerdery (onwettig).
  • Gebruik van sekswerkers.

In vandag se tegnologies gevorderde wêreld, waar toepassings op slimfone soos onder meer Grinder, Tinder en Ashley Madison en natuurlik miljoene pornografiese webtuistes en Internet-geselskamers net die druk van ’n knoppie ver is, is seks makliker bekombaar, bekostigbaarder en meer anoniem as ooit tevore. Ons weet dat 8 tot 12% van volwassenes hiermee sukkel.

Watter hulp is beskikbaar vir die verslaafde en sy geliefdes?

Seksverslawing is ’n baie komplekse kondisie en professionele spesialisbehandeling, tesame met die bywoon van aanlyn- of 12-stap ondersteuningsgroepe, word sterk aanbeveel.

Programme fokus gewoonlik op ’n kombinasie van die volgende aspekte:

  1. Die volgende baie deeglike assesserings is nodig:
  • ’n Psigiatriese assessering vir enige onderliggende of samelopende geestesgesondheidsprobleme en trauma.
  • ’n Volledige mediese ondersoek om mediese oorsake en toestande wat die gedrag kan veroorsaak, vererger of verleng, uit te skakel.
  • Volledige toetsing vir seksueel oordraagbare siektes.
  • Volledige psigososiale assessering, wat alle inligting rondom geboorte, gesin, gedrag en vele meer insluit.
  1. Tydens behandeling word tipies aan die volgende aspekte aandag gegee:
  • Om die verslaafde en sy gesin se kennis uit te brei met betrekking tot verslawing in die algemeen, asook meer spesifiek intimiteitsversteurings soos seks- en pornografie-verslawing.
  • Die verantwoordelikheid van die verslaafde om sy toestand, soos met enige ander siektetoestand, te bestuur en te beheer. Sterk klem val dus op die neem van verantwoordelikheid vir vorige gedrag, die aanleer van gesonde seksualiteit en om verhoudings in die toekoms met integriteit te bou.
  • Alle verhoudings van ’n verslaafde word beïnvloed deur die verslawing, maar geeneen so baie soos die lewensmaat, kinders, sibbe en ouers nie. Dit is daarom baie noodsaaklik dat die verslaafde nie alleen in die proses van behandeling betrek word nie.
  • Voorkoming van terugslae, die hantering van snellers en die aanleer van ’n totaal nuwe lewenswyse wat gesonde plesiere insluit, is van kardinale belang.

 

WAAR KAN JY HULP KRY?

  • Die Elim-kliniek in Kempton Park kan by 011 975 2951 of elimclin.co.za gekontak word.
  • Dr Mulder Craig sien pasiënte met seksverslawing privaat en lei ook ’n groep vir seks-, liefde- en pornografie-verslawings, sowel as ’n groep in Pretoria vir vrouens wie se lewensmaats ontrou was. Belangstellendes kan vir Jolene skakel by 082 783 6633. Besoek ook gerus elmaricraig.co.za.

 

Deur Dr Elmari Mulder Craig

Dr Elmari Mulder Craig is ’n kliniese seksuoloog en verhoudingskenner, en Sorika de Swardt is ’n verslawingspesialis by die Elim-kliniek.